Название: Shomer Yisra'el. Beskermer van Israel
Автор: Marzanne Leroux-Van der Boon
Издательство: Ingram
Жанр: Религия: прочее
isbn: 9780796316752
isbn:
“Geseënd is die Ewige van Israel, van wie elke goeie gawe kom.”
Re’uven tel sy seuntjie uit sy ma se skoot en vee sy neusie met ’n sakdoek af. “Tien minute voordat die kerse aangesteek word, mense.”
Marc neem Yhoshi by Rivkah, druk die kippah reg op sy woeste krulle. Sy oog vang ’n oomblik lank dié van sy skoonpa, wat kwalik merkbaar knik. Marc is al een wat weet dat Chaim Yeshua amper ’n jaar gelede as die Joodse Messias leer ken het.
Die rabbi trek sy swart hoed effens dieper oor sy kop en sit Ma ToeVoo met sy diep stem in. “Hoe lieflik is jou tente, Jakob, jou wonings, Israel,” sing hulle. En toe die pragtige L’cha Dodi: “Kom, my geliefdes, laat ons die bruid verwelkom, laat die teenwoordigheid van Shabbat ons harte vervul … ”
Hadassah kom die kerse aansteek. Die vroue trek serpe oor hul hare. Almal lag toe Yhoshi amper uit sy pa se arms val soos hy vorentoe beur om by die kerslig uit te kom.
“Baruch Atah Adonai, Eloheinu …” bid Hadassah sag, haar hande oor haar oë geskerm:
“Geseënd is U, o Adonai Eloheinu,
Koning van die heelal,
wat ons geheilig het deur u Tora.
U het ons geroep om die Shabbat
met lig te vereer,
met vreugde en met vrede.
Soos ’n bruid en haar bruidegom
mekaar liefhet,
so steek ons hierdie twee kerse aan
uit liefde vir u dogter,
die Shabbat … ”
Die kerslig glim in Chaim se brilglase toe hy die Sabbat seën: “Eloheinu, Elohim van ons vaders, mag ons rus U bly maak. Heilig ons deur u verordeninge en verlewendig u Tora in ons harte. Versadig ons met u goedheid en verheug ons in u Verlossing … ” Weer ontmoet sy oë vir ’n kort oomblik Marc s’n.
Daarna lig hy die wynbeker en seën Hom wat die vrug van die wynstok voortbring. Selfs die kleintjies kry van die wyn te proe. Yaniv stik van die proeseltjie, maar Yhoshi gryp na die silwerkelk. Ook die Shabbat-challah word geseën en almal eet van die heerlike eierbrood.
Die rabbi hou sy hand seënend oor sy vrou en die twee jong vroue. “Wie sal ’n deugsame vrou vind, want haar waarde is ver bo korale.”
Toe spreek hy die seën oor sy twee kleinseuns uit: “Ye’simcha Elohim … Mag die Ewige gee dat julle sal wees soos Efraim en Manasse.” Hy lê sy hand afsonderlik op elkeen se koppie en sy stem bewe van ontroering.
Dan lig hy sy hande oor almal en spreek die priesterlike gebed oor hulle uit: “Y’varekh’kha Adonai, v’ishmerekha … Adonai sal julle seën en julle behoed; Adonai sal sy aangesig oor julle laat skyn en julle genadig wees; Adonai sal sy aangesig oor julle verhef en julle shalom gee.”
Daarna sing almal saam. “Sh’ma Yisra’el, Adonai Eloheinu, Adonai echad. Baruch shem kavod malchuto l’olam va’ed.”
Ná ete gaan Rivkah en Shlomit die babas in hul stootkarretjies aan die slaap maak. Die mans versit na gemakliker stoele in die woonkamer en weldra wentel die gesprek tog maar om die gebeure van die afgelope week en die gespanne toestand in die land.
“Olmert se regering is nie opgewasse teen hierdie situasie nie,” sê Re’uven en roer afgetrokke sy koffie. “Dis pynlik om te sien hoe hy en ministers soos Amir Peretz en Tzipi Livni sukkel om iets te begryp van wat die gevolge gaan wees van die Palestynse aanval op die IDF Sondag. Een oomblik sê hulle Abbas is verantwoordelik vir Shalit se vrylating, dan sê hulle weer Hamas moet in hul spoor trap of hulle word aangevat. En net die volgende oomblik sê hulle hulle gaan nie nou teen Hamas optree nie. En net nadat hulle bekendgemaak het hulle sal onder geen omstandighede met terroriste onderhandel nie, gaan praat Olmert met Hamas. Wat ’n gek manier van doen! Wie kan ontsag hê vir ’n land wat só rondval?”
“Wat anders bly daar vir hulle oor om te doen?” vra sy suster, wat weer by hulle aangesluit het. “As hulle iets anders probeer doen, moet hulle erken dit was ’n ramp om uit Gasa te onttrek – erken dat dit net een ding tot gevolg gehad het: om terroriste die hef in die hand te gee. En as jy terroriste bemagtig, is hulle bemagtig. Dis eenvoudig ’n basiese waarheid. En Olmert en sy Kadima-party hou by hul onbegryplike sienswyse dat as jy ’n terroris bemagtig, maak jy hom minder aggressief, raak hy makliker hanteerbaar, kan jy met hom onderhandel. Absolute snert, dit weet ons tog almal. Is dit nie wat Ehud Barak ook met Yasser Arafat probeer het nie? En waar het dit ons laat beland? Met nog ’n Intifada.”
“Die grootste wanopvatting waarvoor Olmert en sy trawante geval het, en die VSA saam met hulle, is dat Abbas teen terrorisme is … dat hy ’n vennoot vir vrede is,” sug Re’uven. “Hulle wil Abbas sielsgraag sien as ’n betroubare vredesonderhandelaar, ’n bondgenoot van Israel. As ons hóm verloor, reken hulle, bly daar vir ons niks anders as Hamas oor nie. En aangesien Hamas slegte nuus is, móét Abbas goeie nuus wees. Ongelukkig is Abbas ook ’n terroris.”
“Vir my lyk dit nie of daar veel verskil tussen Hamas en Abbas se Fatah is nie,” sê Hadassah, wat ook weer kom sit het nadat sy die etenstafel opgeruim het.
“Albei terroriste, Imma. Geen verskil nie.”
“En as mens dink aan die duisende gewere en miljoene patrone ammunisie wat die VSA Abbas verlede maand gegee het …” Marc skud sy kop.
“Wat het hy daarmee gedoen?” val sy vrou hom sonder seremonie in die rede. “Hy’t sy man in beheer van veiligheid opdrag gegee om met Hamas saam te werk en Palestyne te vermoor wat daarvan verdink word dat hulle ons met ons antiterreuroperasies help.”
“Inderdaad,” sê Re’uven. “En hierdie sogenaamde bondgenoot van Israel is besig om in samewerking met Hamas se premier ’n bloudruk vir oorlog, wat opgestel is deur daardie massamoordenaar wat hier in die tronk sit, as ’n vredesplan voor te lê.”
“Het jy dit oor Marwan Barghouti?” vra die rabbi.
“Hy, Abbas, einste hy. Abbas is net so verantwoordelik vir Sondag se aanval by Kerem Shalom-grenspos as wat Hamas is. Fatah het gedreig om Israel met chemiese en biologiese wapens aan te val en weer met aanvalle in Jerusalem te begin as die IDF ’n groot operasie in Gasa onderneem.”
“Ek glo nie die regering kan waag om te erken dat Hamas en Fatah hand aan hand loop nie, want dan sal hulle moet erken dat Abbas ’n terroris is. Dit sal beteken hulle moet erken om hom te bemagtig beteken om terroriste te bemagtig,” sê Marc.
Rivkah kyk op, duidelik verras oor haar man se insig. Sy knipoog vir Re’uven.
“Absoluut.” Sy swaer knik in Marc se rigting. “Ehud Olmert en sy agterryers het nog ’n hele paar ander slagspreuke, behalwe hul paai-die-terroriste-clichés. Soos oor die veiligheidsheining onder meer: ‘Ons sal hier wees en hulle sal daar wees.’ Of: ‘Israel sal ’n muur bou en nooit weer probleme met die Palestyne hê nie.’ Maar toe wys daai gemene ou Palestyne ons Sondag dat hulle onder die heining kan deurgrawe. Hulle wys ons elke dag dat hul rakette oor die heining kan skiet. Hulle kan lere bou om oor die muur te klim.”
“En СКАЧАТЬ