Название: Ettie Bierman Keur 9
Автор: Ettie Bierman
Издательство: Ingram
Жанр: Короткие любовные романы
isbn: 9780624065715
isbn:
“Nee, ek het hom reeds … ten minste, ek … e …” Ila weet nie wat sy wou gesê het nie. Sy kom ook nie verder nie. Johan Retief is reeds by die stoeptrappies en sy bly senuweeagtig stil.
“Môre, oom Daniel,” groet Johan beleef, dog sy oë is op die blonde meisie wat nog steeds met die skinkbord in haar hande staan. Hy het haar twee weke lank nie gesien nie en het al vergeet hoe mooi Elizabeth is. Vir die eerste keer merk hy die ry goue sproete oor haar parmantige wipneusie en die manier waarop die sagte, blonde hare in haar nek krul. Was sy afleiding dalk verkeerd? wonder Johan hoopvol. Is sy dalk oom Daniel se kuiergas? Of is sy miskien ’n familielid van die Niehaus-gesin – dié dat sy op Rietendal kuier? Johan wil net bly word, dan onthou hy: Mens omhels en soen nie ’n familielid so vurig soos wat Martin haar gesoen het nie.
“Vir wat staan jy soos ’n houtpop, Johan?” vra die ou man iesegrimmig. “Vat die skinkbord weg by Daniela sodat ek julle aan mekaar kan voorstel.”
Net die helfte van Johan se verstand registreer wat oom Daniel haar genoem het. Die ander helfte wonder nog hoekom Martin haar dan nie op die stasie gaan haal het nie aangesien sy nooi vir hom kom kuier het. Of het hulle mekaar eers later ontmoet, maar so gou op vriendskaplike voet verkeer dat hy die vrymoedigheid gehad het om haar te soen pas nadat hy haar ’n dag lank geken het? Elizabeth lyk na ’n ordentlike meisie. Sy is nie ’n klein flerrie wat …
Johan besef nou eers wat hy beveel is om te doen. Hy tree hoflik vorentoe om oom Daniel te gehoorsaam.
Toe hy die skinkbord by haar neem, raak sy hand toevallig aan Ila s’n. Sy ruk so vinnig weg dat Johan Retief byna die skinkbord laat val. Hy kyk ondersoekend na die hartvormige gesiggie. Hy kan nie verstaan hoekom Elizabeth so verskrik en vasgekeer lyk nie. Is sy bang vir hom? Hoekom lyk dit asof sy enige oomblik op die vlug gaan slaan?
Die ou man is onbewus van die onderstrominge in die atmosfeer, wat met net soveel elektrisiteit gelaai is as die donderstorm daar buite. Bottervingers en houtpoppe, dink hy ergerlik terwyl hy die twee jongmense aan mekaar voorstel. Hy wou gehad het hulle twee moet met die eerste oogopslag van mekaar hou, maar dit lyk nie of dit die geval gaan wees nie. Wat makeer Daniela dat sy haar gedra soos ’n standerdses-dogtertjie wat vir die eerste keer in haar lewe met ’n kêreltjie te doen kry? En Johan … Gewoonlik is hy so bedagsaam, maar dit lyk of hy vandag sy goeie maniere by die huis vergeet het.
Johan was op die punt om te sê hy ken mejuffrou Verster. Dan onthou hy egter dat die ou man haar netnou ook Daniela genoem het, en hy bly stil. Maar hy frons onbegrypend toe Elizabeth as Daniel Niehaus se lank verlore dogter aan hom voorgestel word. Daniela Niehaus … dink hy verbaas. Wat het van Elizabeth Verster geword? Dis nie dat sy oë hom bedrieg nie. Hierdie is een en dieselfde meisie as die een wat hy omgery het. Is hier iewers ’n misverstand?
“Aangename kennis,” stamel Ila, maar hy hoor haar nie. Hy merk egter die smeking in die mooi groot oë, hoewel hy nie verstaan wat dit is wat die meisie vir hom vra nie. Johan kan nie begryp hoekom hy onder die indruk was dat hierdie meisie se naam Elizabeth Verster is nie. Hy en die res van die hospitaalpersoneel het haar so genoem, en sy het hulle nie gekorrigeer nie. Hoekom nie? Is hier ’n gekonkel aan die gang – daarom dat die mooi, groen oë vra hy moet saamspeel? Doen hierdie meisie haar voor as iemand wat sy nie is nie?
“Hoe lyk jy so verbaas, dokter Retief?” Martin kom vinnig by die voordeur uitgestap, ’n joviale uitdrukking op sy gesig, maar sy oë waaksaam. “Is jy verbaas dat ’n lelike ou soos ek so ’n mooi suster kan hê? Sy is nie my eie suster nie, maar net my stiefsuster. Dis Daniela hierdie, wat uiteindelik die pad huis toe geken het. Ons is almal verheug om haar op Rietendal te hê, want ons het al begin vrees dat daar iets met arme Daniela gebeur het.”
Johan is verbaas oor Martin se onverwagte vriendelikheid. Gewoonlik ignoreer Martin Niehaus hom, vermy hom en maak hom uit die voete as hy aan Rietendal ’n besoek bring. Vanwaar vandag se ommeswaai in gesindheid? wonder Johan. Hy dink hy weet wat die rede daarvoor is. Afgesien van al sy ander karaktertrekke, is Martin Niehaus blykbaar ook jaloers en besitlik van geaardheid. Martin weet seker dat hy en hierdie meisie mekaar ken, en wil verhoed dat die vriendskap dalk verder vorder. Hy wil keer dat ’n ander man met sy nooi praat of miskien te vriendelik met haar is.
Martin Niehaus is verniet bang, dink Johan wrewelrig. Hy is geensins van plan om sy verhouding met Elizabeth of Daniela – of wat haar naam ook al is – op ’n stewiger grondslag te probeer plaas nie. Reeds daardie dag op die voorstoep van die Hotel Alexander het hy besluit om haar groen hartseer oë en haar hartvormige gesiggie te vergeet. Dit was slegs in ’n oomblik van swakheid dat hy haar later geskakel het toe hy by die hospitaal aangekom het. Tydens die telefoongesprek was die blondine nie baie vriendelik nie, en sy het ook nie moeite gedoen om hom terug te skakel toe hy ’n boodskap by haar hotel gelaat het nie. Suster Badenhorst het gesê nee, niemand het hom gebel nie, en beslis nie ’n juffrou Verster nie.
Nog iets wat Johan opval, is dat Martin Niehaus opgedaag het asof hy geroep is. Die blondine het soos ’n verskrikte hasie gelyk. Die oomblik toe Niehaus egter verskyn, het sy ontspan en verlig gelyk. Dit laat Johan dink – as hier ’n gekonkel is, het Niehaus iets daarmee te doen. Die blondine en Martin Niehaus is kop in een mus. Bedrieg hulle die ou man? Wil hulle hom om die bos lei en munt uit hom slaan? Of is sy werklik die lank verlore dogter wat huis toe gekom het? Maar dan weer eens: Hoekom haar eers as Elizabeth Verster voordoen? Nee, iets is hier nie pluis nie. Dis hoekom die groot, groen oë gesoebat het hy moet swyg, en dis hoekom Niehaus sy antipatie vergeet en die blondine kom help het.
Die Kersboom is nog daar, maar die liggies is almal uitgedoof, om Johan eensaam en teleurgesteld in die donker te laat.
Johan groet Martin kortaf. Hy ignoreer Ila en wend hom tot sy pasiënt. “Hoe gaan dit vandag, oom Daniel? Sal ek bietjie na die ou tikker luister?”
“Daar’s niks te luister nie. Hy tik beter as my Big Ben-wekker. Daniela se tuiskoms was goeie medisyne.”
“Dis gaaf, oom Daniel. Hoe lyk die bloeddruk?”
“Normaal. Ek voel perdfris. Daniela, sê Mieta moet nog ’n koppie tee vir Johan bring. En van daardie koek wat julle gebak het.”
Ila is dankbaar om te kan ontsnap. “Ek sal s-self nog tee gaan maak,” hakkel sy.
Ila is besig om die ketel aan te skakel toe Martin kort op haar hakke die kombuis binnekom.
“Was ek te laat?” wil hy bekommerd weet. “Het hy jou alreeds as Elizabeth aangespreek?”
“Dokter Retief en ek noem mekaar nie op ons voorname nie,” antwoord Ila sag.
“Nou goed, as juffrou Verster dan,” sê Martin ongeduldig. “Ek het nie sy motor hoor stilhou nie. Was ek te laat om te keer dat die ou man hoor ander mense ken jou as juffrou Verster?”
“Jy was betyds. Dankie dat jy my kom help het.”
“Daardie kwak … Hy kon ons kaarte lelik deurmekaar gekrap en al ons netjies geformuleerde planne laat misluk het. Het die ou man nie agtergekom Johan was verbaas om jou naam te hoor nie?”
Verbaas … Johan Retief was nie verbaas nie, dink Ila. Sy het daardie trek van minagting op sy gesig gesien. Hy verstaan nie mooi wat aan die gang is nie, maar hy weet iewers is ’n gekonkel en hy verag haar daarvoor.
“Nee. Ek sê mos nee. Wat torring en kerm jy so, Martin?”
“En nou?” vra Martin verbaas. СКАЧАТЬ