Ettie Bierman Keur 9. Ettie Bierman
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ettie Bierman Keur 9 - Ettie Bierman страница 10

Название: Ettie Bierman Keur 9

Автор: Ettie Bierman

Издательство: Ingram

Жанр: Короткие любовные романы

Серия:

isbn: 9780624065715

isbn:

СКАЧАТЬ

      Martin kyk onverwags op en betrap Ila se peinsende blik op hom. Sy word rooi en skielik is dit haar beurt om met haar koffielepel patroontjies op die tafeldoek te maak.

      “Dit klink of jou stiefsuster ’n impulsiewe persoon was,” merk sy op om die ongemaklike stilte te oorbrug.

      “Daniela was impulsief, koppig en eiesinnig, miskien omdat sy nooit die sagte invloed van ’n moeder geken het nie. Haar eie moeder is met haar geboorte oorlede en sy wou haar stiefma nie aanvaar nie. Miskien sou my ma geleidelik haar vertroue gewen het, maar sy was ’n baie sieklike vrou. Sy het aan haar senuwees gely, en sy het nie genoeg tyd gehad om Daniela se vriendskap te wen nie. My moeder is twee jaar na haar huwelik met Daniel Niehaus oorlede.

      “Dalk was die probleem dat Daniela so ’n beeldskone entjie vroumens was. Soos die geval met alle mooi meisies, het dit meegebring dat Daniela bedorwe was, selfsugtig, egoïsties en …”

      Martin bly opeens verleë stil. “Ek skimp nie op jou nie, Ila. Jy is miskien mooier as wat Daniela was, maar ek is seker jy is nie egoïsties en selfsugtig nie.”

      “O ja?” terg Ila. “Wie sê ek is nie baie lief vir myself nie? Hoekom dink jy wag ek in ademlose spanning op hierdie voorstel van jou wat glo vir my groot finansiële voordeel gaan inhou? Wat wil jy my vra om te doen? Ek is baie nuuskierig.”

      Martin sit die suikerlepeltjie neer. Hy neem Ila se hand in syne, haal ’n slag diep asem en sê dan kalm: “Ek wil hê jy moet Daniela Niehaus word.”

      Diep in haar onderbewussyn was Ila moontlik so iets te wagte, maar toe sy die woorde hardop uit Martin se mond hoor, kan sy haar ore nie glo nie. Sy skud haar kop beslis en trek haar hand uit Martin s’n.

      “Totaal onmoontlik.”

      “Hoekom?”

      “Omdat … wel, omdat so iets onmoontlik is. Ek … ek lyk miskien ’n bietjie soos hierdie suster van jou gelyk het, maar in geaardheid verskil ons seker. Dit sal nie werk nie. Ek kan nie glo jy is ernstig nie. Is jy?”

      “Heeltemal. Is dit al wat jou kwel – dat Daniela se geaardheid anders was as wat joune is? Dis nie ’n probleem nie. Ek sal jou onder hande neem, jou afrig, jou leer om Daniela se persoonlikheid aan te neem. Al persoon wat jy sal moet mislei, is die ou man. Dié is al half kinds en seniel. Hy sal Daniela nie meer goed kan onthou nie.”

      “Maar die plaas en alles – ek sal die plaas en die huis nie ken nie.”

      “Ek het daaraan gedink.” Martin haal ’n plan van die huis en die werf uit sy sak, saam met ’n pak foto’s en ’n paar ou briewe. Hy sit dit op die tafel voor Ila neer, maar sy weier om daarna te kyk.

      “Jy het voorbereid gekom, nè? Jy was baie seker dat ek dit sal doen.”

      Martin haal sy skouers op. “Jy is platsak en jy sit sonder werk. Ek het belowe om jou ruimskoots vir jou dienste te vergoed. Hoe klink dertigduisend vir jou? Hierdie is ’n geleentheid wat jy nie deur jou vingers kan laat glip nie.”

      “Maar dis … so iets is bedrog. Lyk ek na ’n oneerlike persoon?”

      Martin beantwoord nie Ila se vraag nie. “Volgens dokter Retief is die ou man se dae getel. Hy kan dit nie meer lank maak nie – na mý mening hoogstens nog ’n paar maande. As jy die ou man sien, sal jy met my saamstem. Al wat hom nog so hardnekkig aan die lewe laat vasklou, is sy ideaal om Daniela nog een maal te sien. Dal sal hy gemoedsrus hê en tevrede wees om te gaan. Jy sal nie baie lank op die plaas hoef te bly nie. As dit langer as ’n paar maande duur, sal ek ’n plan maak. Ons kan altyd sê jy het dringende sake in Johannesburg wat jou teenwoordigheid vereis, of so iets. Die besonderhede kan ons later uitwerk as dit nodig blyk te wees.”

      Sy woorde klink so kil en berekenend dat dit Ila hoendervleis gee. Sy besef opnuut dat hierdie ’n baie vasberade en doelgerigte jong man is wat niks in sy pad sal laat staan as daar iets is wat hy wil hê nie, ’n man wat vir niks sal stuit nie, ’n persoon wat jy eerder vir ’n vriend as ’n vyand sal wil hê. En sy visier is op Rietendal ingestel …

      “Gedurende die volgende twee weke sal ek jou deeglik inlig – tot in die fynste besonderhede – oor hoe die huis van binne lyk, die kamers, meubels, matte, skilderye, ensovoorts. Ek sal jou inlig oor die werf, die buitegeboue en die res van die plaas. Ek sal jou staaltjies uit Daniela se verlede vertel wat die ou man sal onthou – dingetjies waaroor hulle saam gelag het, waaroor sy hom altyd geterg het, hoe sy hom aangespreek het … Ek sal jou sê wat Daniela se stokperdjies was, haar voorliefdes, waarvan sy nie gehou het nie, haar gunstelingkossoorte, musiek, leesstof en klere­drag. Jy sal dit gou in jou kop kry. Al probleem wat ek kan sien, is miskien Daniela se handskrif. Dis hoekom ek daardie briewe saamgebring het wat Daniela een vakansie aan haar pa geskryf het – sodat jy haar handskrif solank kan begin oefen, veral haar handtekening. Dié mag jy dalk nodig kry. Dis …”

      “Wag,” keer Ila. “Jy is te haastig, Martin Niehaus. Ek het nog nie ja gesê nie.”

      “Miskien nie, maar jy sal. Ek het jou lankal opgesom, skatlam. Dertigduisend is nie te versmaai nie en as jy wil kibbel, sal ek dit selfs na vyf-en-dertigduisend rand opstoot. Dis my hoogste aanbod – ’n fortuin vir slegs drie of vier maande se werk, as ’n mens dit werk kan noem. Dit sal ’n gratis vakansie op ’n luukse plaas wees. Daar is ’n swembad, ’n tennisbaan, uitgestrekte tuine, ’n rivier, berge as jy van bergklim hou, ryperde, motors … Die ou man is steeks om vir my sy motorsleutels te leen, maar vir Daniela sal hy sy splinternuwe Jaguar op ’n skinkbord aanbied. Haar gelyke agter ’n motor se stuurwiel het ek nog nooit teëgekom nie. Al was sy ’n meisiekind, het sy van kleins af op die trekkers en vragmotors geboer. Ek dink op dertien kon sy ’n motor soos ’n professionele renjaer bestuur. Haar ideaal was om eendag met ’n Ferrari op Kyalami te jaag. Sy was ’n regte klein rabbedoe, altyd met daardie parmantige wipneusie vol ghries en olie, soos sy aan masjiene gepeuter het om …”

      “Daar sneuwel jou onsinnige plan alreeds,” val Ila hom in die rede. “Ek is nie die rabbedoe-tipe nie en ek is nie in die minste meganies aangelê nie. Ek het nie eers ’n rybewys nie. Om die waarheid te sê, was ek in my lewe nog nooit agter ’n motor se stuurwiel nie.”

      “Dit mag dalk lol. Jy sal baie vinnig moet leer bestuur.”

      “Binne twee weke?” Ila klink skepties. “En dan bestuur soos sý bestuur het? Ek glo nie. Ek kan ghries aan my hande nie verdra nie, en ek is bang vir raserige masjiene met al daardie skroewe en goeters en dinge.”

      “Skroewe en goeters en dinge …” herhaal Martin. “As die ou man jou dit hoor sê, sal hy dadelik weet jy is nie Daniela nie. Ek weet nie of ek jou sal kan leer om soos sý te bestuur nie. Ons sal ’n verskoning moet uitdink, moontlik ’n verband om jou gewrig draai en sê dis verstuit. Anders sal die oukêrel wil weet hoekom jy nog nie die nuwe Jag uitgetoets het nie.”

      “Ek kan nie sulke leuens vertel nie. Dis te oneerlik. Daniela se pa is oud en sieklik. Ons het geen reg om hom so te bedrieg nie.”

      “Nou goed dan,” sê Martin kalm. “Vergeet jou vyf-en-dertigduisend rand. Vergeet ook van ’n arme siek ou man wat met ’n gebroke hart gaan sterf. Dis binne jou vermoë om hom gelukkig te maak, maar as jy te selfsugtig is om aan hom rus en vrede te gee gedurende sy laaste tydjie op hierdie aarde, kan ek jou nie dwing nie.”

      Ila is lank stil, dan sê sy sag: “Dit was gemeen van jou, Martin Niehaus. Dis nie uit selfsug wat ek nie met jou wil saamwerk nie.”

      Martin СКАЧАТЬ