Название: Die groot gedagte
Автор: Gideon Joubert
Издательство: Ingram
Жанр: Физика
isbn: 9780624052050
isbn:
Die probleem is vererger met die koms van sir Isaac Newton se opvatting van ’n oneindige heelal wat eenvormig deur sonagtige sterre bevolk word. Newton het hom egter meer gekwel oor die uitwerking van gravitasie.
Die aarde ontvang nie net groot hoeveelhede lig van ’n oneindige aantal sterre nie. Dit word ook aangetrek deur die oneindige, opeenhopende krag van gravitasie.
Newton het die gravitasieprobleem met ’n foutiewe argument “opgelos” deur te aanvaar dat die heelal homogeen is en dat alle kragte uit verskillende rigtings ewe sterk is en mekaar neutraliseer. Maar ligstrale uit verskillende oorde kan mekaar nie uitskakel nie. Hulle versterk mekaar.
Olbers se paradoks het ontstaan omdat wetenskaplikes se siening van die heelal al die jare foutief was. Daar is verskeie redes waarom ’n blink hemel onmoontlik is:
• Die gemiddelde digtheid van alle massa in die heelal is naastenby gelyk aan die massa van een waterstofatoom per kubieke meter. Massa en energie is gelyk. Dit is verskillende openbarings van dieselfde verskynsel. As al die massa in die heelal vernietig en in termiese strale verander sou word, sou die kosmiese hittegraad 20 Kelvin (-253 grade Celsius) gewees het. Dit is aansienlik laer as die oppervlaktemperatuur van sterre (die son se oppervlak-hittegraad is 6 000 grade Celsius).
Die heelal het te min energie om ’n blink hemel te veroorsaak. Dit is die eerste les in die boomstamvergelyking. Daar is nog.
• Lig beweeg teen ’n vaste snelheid (300 000 km/sek.). Kyk ’n mens in die ruimte uit, kyk jy baie ver in die verlede terug. Die verste wat ons teoreties kan sien, is ’n afstand van 1023 ligjare. Die lig van sterre wat verder lê, kon die aarde nog nie bereik het nie.
Maar die verste sterre kon onmoontlik 1023 jaar onophoudelik geskyn het. Sterre soos ons son se ligleeftyd is net sowat 1010 jaar, en helderder sterre brand nog vinniger uit en leef nie eens so lank nie.
Verby ’n afstand van 1010 ligjare kyk ’n mens so ver terug dat daardie sterre se lig ons nog nie bereik het nie. Eendag sal dit wel hier uitkom, maar teen daardie tyd sal die sterre lankal uitgebrand wees, al sal dit op die aarde lyk of hulle nog jong sterre is met ’n leeftyd van miljoene jare wat voorlê.
Volgens die bosanalogie staan ons dus in ’n woud met bome wat buitentoe jonger en jonger word. Ons kyk verby die verste saailinge na ’n boomlose vlakte.
Hubble se wet het die mens se siening van die heelal ’n nuwe aanskyn gegee. Paul Davies skryf in sy boek The Runaway Universe dat “die vroeë, byna steriele konsep van die totaliteit van dinge as synde passief, vadsig en onveranderlik, ná Hubble se ontdekking vervang word deur ’n heelal wat ’n samehangende geheel is”.
Dit het ’n globale identiteit. Die heelal is dinamies en groeiend soos ’n lewende organisme met ’n lewensgeskiedenis, en moontlik ’n geboorte en ’n dood.
Tien interessante feite oor die Melkweg |
1. Dit is kromgetrek. Die Melkweg se skyf is nagenoeg 12 000 ligjare breed en die sentrale boggel se deursnee is ± 12 000 ligjare. Die Melkweg is skeefgetrek deur sy twee bure, die Groot en die Klein Magellaanse Wolke, wat met die Melkweg toutrek. |
2. Die Melkweg het ’n stralekrans, ’n halo van donker materie wat meer as 90% van sy massa bevat. Dit kom daarop neer dat alles wat ons met die blote oog of teleskope kan waarneem, minder as 10% van die Melkweg is. Die halo kan nie waargeneem word nie, maar ons weet dit is daar deur van rekenaarsimulasies gebruik te maak, wat dit bereken op grond van die snelheid waarteen sterre in die skyf om die middelpunt slinger. |
3. Dit het tussen 200 000 miljoen en 400 000 miljoen sterre. Op ’n helder nag kan ons net sowat 2 500 sterre met die blote oog of ’n teleskoop waarneem.* |
4. Die Melkweg is stowwerig en vol gas. Ons kan net ± 6 000 ligjare ver in die sigbare spektrum in die Melkweg kyk. Ons Melkweg is ± 100 000 ligjare breed en tien tot vyftien persent van die “normale” materie is gas en stof. Die res is sterre. Met infrarooi-opspoorders kan deur die stof gesien word. |
5. Die Melkweg is deur ander galaksies saamgestel. Oor biljoene jare het ons Melkweg ander galaksies “opgeëet”. Dit gebeur vandag nog. Die Canis Majoris-dwerggalaksie is die naaste aan die Melkweg en sy sterre dwaal voortdurend oor na die Melkweg. |
6. Alle afbeeldings van die Melkweg is of voorstellings deur kunstenaars of foto’s van ander galaksies. Niemand, en geen aardse ruimtetuig, was nog buite die Melkweg nie, nie naastenby nie. Die verste wat ’n tuig gevorder het, was verby Pluto se baan om die son. As ons afbeeldings van die Melkweg sien, is dit hoe sterrekundiges of kunstenaars bereken dit van ’n groot afstand sal lyk. |
7. Ons Melkweg het ’n swartkolk in sy hart. Die meeste galaksies het supermassiewe swartkolke in hul nawe. Die Melkweg is geen uitsondering nie. Die boggel in die middel van die Melkweg word Sagittarius A genoem. Dit bevat ’n swartkolk met die massa van 40 000 sonne. Hierdie swartkolk sal ongeveer Merkurius se baan om die son vul. Die swartkolk se aangroeiskyf het ’n massa van 4 miljoen sonne en sal die aarde se baan om die son vul. |
8. Die Melkweg is amper so oud soos die heelal. Volgens berekening is die Melkweg nagenoeg 13,7 duisend miljoen jaar oud. Die boggel van die Melkweg het waarskynlik reeds 13,6 duisend miljoen jaar gelede ontstaan (die berekening kan tot 800 miljoen jare na beide kante uit wees). Die oudste sterre in die Melkweg is in bolvormige sterreswerms. Die ouderdom van die Melkweg word volgens die ouderdom van hierdie sterre bereken. Die skyf en boggel het tussen 10 000 miljoen en 12 000 miljoen jaar gelede ontstaan. Die boggel het waarskynlik voor die res van die galaksie ontstaan. |
9. Die Melkweg is deel van die Virgo-supertros van galaksies, nagenoeg 150 miljoen ligjare groot. Supertrosse is groepe galaksies op ’n baie groot skaal. Tussen die galaksies in ’n supertros is groot ruimte-leegtes waarin bitter min materie voorkom. Ons galaksietros sluit die Melkweg in, benewens nagenoeg dertig ander galaksies, waarvan die naaste bure die Groot en die Klein Magellaanse Wolke is, en die Andromeda-spiraalgalaksie (M31). Laasgenoemde is twee keer so groot soos die Melkweg en dit bevat twee keer soveel sterre. Ons groep van dertig galaksies word die Plaaslike Groep genoem. Sou ’n mens van baie ver in die ruimte na ons supertros terugkyk, honderde miljoen ligjare ver, sal die Melkweg net ’n stippeltjie in ’n reuse-groep van galaksies wees, die Virgo-supertros, 150 miljoen ligjare in deursnee. |
10. Die Melkweg beweeg teen ’n ongelooflike snelheid deur die ruimte. Die aarde beweeg om die son en die son beweeg om die Melkweg. Die Melkweg beweeg saam met die Plaaslike Groep teen ’n snelheid van ± 600 km/sek. verby die tafereel van die kosmiese mikrogolf-agtergrondstraling. |
* Die berekening van die aantal sterre wissel aansienlik van boek tot boek oor die sterrekunde, en van sterrewag tot sterrewag. Sterre kan nie met sekerheid getel word nie en die berekenings is grootliks skattings en afleidings. Daarom verskil die syfers ook in hierdie boek wanneer oor die Melkweg se sterre geskryf word. Dit kom uit verskillende bronne, waar die getalle wissel van 200 000 miljoen tot ’n miljoen miljoen sterre.
(Inligting uit Google)
4
Heroute van die heelal
. . . hier . . . staan ek verblind in
U fel brand se lig . . .
– N.P. van Wyk Louw: Die Profeet
Golwe uit die heelal
Soos deinings wat ver in die oseaan ontstaan het en aangerimpel kom om golf op golf op die strand te breek, só kom die elektromagnetiese deinings deur die ruimtes van die heelal, van ver en naby, uit alle rigtings op ons aangespoel.
Party het minute gelede die energiebron verlaat, en ander het miljarde en miljarde jare gelede hul eindelose, lang-lang reis deur die donker dieptes van die heelal begin.
Die meeste van die kosmiese golwe word deur die aarde se atmosfeer gestuit. Dit bereik ons nooit nie. Die minderheid dring daardeur en kom by ons uit.
Al СКАЧАТЬ