Название: Wie met vuur speel
Автор: Deon Meyer
Издательство: Ingram
Жанр: Ужасы и Мистика
isbn: 9780624056324
isbn:
Een deel van sy brein registreer verligting. Hy weet dié is die laaste troefkaart in Spano se sekuriteit – dié garedun koperdraadsensor teen die hakie van die skildery, dalk al die skilderye in die huis.
Paniek skiet in hom op. “Asemhaling,” het Sutherland oor en oor in sy presiese stem gesê, “is jou enigste wapen teen paniek. Haal eers diep asem. Moenie reageer nie. Beveg jou instink, die adrenalien, jou brein se opdrag aan elke spier om te ontplof, te hardloop. Doen niks behalwe asemhaal nie.”
Terwyl hy die lug met een stadige teug in sy longe indwing, tik die rekenaar in sy kop ’n prioriteitslys uit. Geprogrammeer deur die firma Sutherland en Vennote: 1. Haal die kopstuk af, want die alarm het die huis se ligte aangeskakel. 2. Haal die Vermeer uit die raam en bêre dit in die silinder – dit is nog steeds die belangrikste rede waarom jy moet uitkom. 3. Kom sou gou moontlik buite. Die huis is nou een groot hinderlaag met slegs ’n enkele uitgang.
Hy blaas sy asem stadig uit. Hy begin met vinnige, doelgerigte bewegings werk. Die kopstuk in die sak, die tangetjie uit, die agterkant van die skildery oop, skildery versigtig uit, rol op, sit in die silinder, skroef silinder toe, sit in sak. Hy hardloop na die sitkamer en hoor sleutels in die voordeur van die huis. Natuurlik. Die sekuriteitswagte moet by die deur inkom en eers die huis deursoek. Dit kan die sekondes koop wat hy nodig het.
Hy seil by die gat in die ruit uit, gee drie hale tot by die stoepmuurtjie en glip in die skaduwees van die tuin. Ook hier is nou meer lig. Kolligte teen die huis en die sekuriteitsmuur gooi lang, smal skaduwees heen en weer oor die grasperk.
Wegkruipplek is daar nie. Hy begin na die grasperk hardloop – die stukkie niemandsland wat geen skuiling bied nie. Hy moet dit oorsteek voor die wagte uit die huis kom.
Hy bars tussen twee struike deur en is op die grasperk se soom. Vyftien meter se goed versorgde groen tapyt, dan sewentig van struike en bome tot by sy tou teen die muur.
Hy hardloop gebukkend, sy rugspiere onwillekeurig gespan teen die verwagte koeël, sy stewels wat die grasperk reëlmatig tref, sy brein wat elke tree aftel. Vyftien, veertien, dertien . . .
Die skoot klap en hy hoor hoe die koeëls oor sy kop fluit.
“Staan of ek skiet!” Die stem kom van die linkerkant af. Hy besef dat net een van die wagte die huis gaan deursoek het. Die ander een het buite gebly, gewag vir die rot wat die sinkende skip gaan verlaat. Maar sy brein registreer ook dat dit ’n kleinkaliberrewolwer is wat die skoot afgevuur het. En die wag is ver van hom af. Minstens veertig meter.
Die kanse dat die wag ’n bewegende teiken op dié afstand kan raak skiet, is vyftig-vyftig. Hy hou aan met hardloop. Sewe, ses, vyf . . .
Nog ’n skoot klap, by sy oor verby, ’n woedende supersoniese insek.
“Stuart, kom help, hy’s hier buite!” hoor hy die wag skree, maar dan is hy tussen die struike. Hy verander van rigting, want hy wil hulle nie reguit na die tou toe lei nie.
Hy moet stadiger hardloop. Die kolligte laat digte skaduwees tussen die plante. Hy kan die muur sien. Dan tref sy bors ’n trapdraad en ’n rooi fakkel klief die lug.
“Daar’s hy! In die bosse.”
Koeëls staccato deur die plantegroei. Hy verander weer van rigting, maar behou sy ritme met die hardloop en sy asemhaling. Nog dertig meter na die muur, veertig na die tou. Nog ’n trapdraad, nog ’n fakkel verhelder die nag. Weer skote en lood. Hulle mik te hoog, dink hy. Mik vir die bene as jy ’n man wil stop.
Twintig meter na die tou. Vyftien. Tien. Die swart skaduwee aan sy regterkant begin skielik leef.
Dobermann.
Die hond haal hom met lang, inspanninglose hale in. Dan verskyn die ander hond ook uit die donker.
Hy kan die tou sien. Maar die rekenaar sê die honde gaan hom vang voor hy teen die tou kan opskarrel.
Sy brein stort ’n vergete lesing oor hondeaanvalle in sy bewussyn en selekteer oorlewingsinligting.
Opgeleide honde sal die uitgestrekte arm aanval. Bied jou voorarm aan. Daar kan die minste weefsel en senu’s beskadig word. Die mens se natuurlike vrees vir groot honde is die diere se grootste voordeel. Die mens is groter en sterker as die meeste honde. Gebruik jou meerdere intelligensie en spierkrag.
Hy hang sy regterarm uit omdat dit die een naaste aan die dobermanns is. Die voorste een spring. Hy voel hoe die tande deur die trui tot in die vleis van sy voorarm byt.
Die hond ruk hom van balans, maar hy hou aan met hardloop. Die dobermann rem. Die tweede hond is verward. Dinge verloop nie soos die diere geleer is nie.
Dan is hy by die tou. Hy spring so hoog moontlik teen die muur op, maar die hond se gewig aan sy arm is te veel. Sy linkerhand gryp ’n knoop in die tou. Sy voorarm bloei vryelik en die pyn begin skree vir aandag in sy brein.
Hy stoot die regterarm teen die tou op en begin klim. Die hond klou – hul gesigte byna teen mekaar as sy arm teen die tou opstrek.
Hy hoor die wagte deur die struike hardloop. Te naby.
Die hond se remkrag is te groot.
Dan spring die ander hond van die grond af. Hy sien die beweging uit die hoek van sy oog en skop instinktief.
Dis ’n voltreffer teen die dobermann se keel, maar die hond maak geen geluid wanneer hy terugval op die grond nie.
Hy beur verder teen die tou op – halfpad tussen vryheid en gevaar, met ’n hond wat besig is om die spiere en senings en bloedtoevoer uit sy arm te skeur. Hy swaai sy arm en die hond se kop tref die muur dofweg. Hy staar in die vurige swart oë wat nie eens knip nie.
Sy bloed straal langs die silwerswart kake af.
“Daar’s hy! Skiet die bliksem!” Hulle is naby.
Hy beur op. Sy linkerhand is bo. Die kabel. Die hoogspanningskabel.
Sy regterhand is ook bo. Skote klap teen die muur. Hy wil die hond opswaai, tot teen die kabel. Maar dan verslap die hond se greep skielik.
Hulle het die hond raak geskiet, besef hy. Die hond val. Hy swaai tot op die muur. ’n Koeël brand sy nek. Nog skote. Hy spring en ruk sy batterykabel terselfdertyd af.
Dis donker anderkant die muur, maar hy ken die pad. Hy hardloop. Sy asemhaling is hortend. Hy dwing die ritme reg. Die pyn in sy arm skree selfs Sutherland se stem stil. Te veel bloed. Maar hy moet eers wegkom. Hy hoor swetse agter hom waar die wagte teen die muur uitklim, dalk teen die kabel stry.
Carla blaf wanneer sy hom hoor aankom. Sy hande werk koorsagtig om die leiband van die hek los te maak. Dan hardloop hy met haar aan sy sy na die motor toe. Die sleutel wag in die aansitter. Die enjin spring aan die lewe. Hy werk instinktief met die ratte en koppelaar.
Die eerste blou ligte en sirenes kry hy eers in die veiligheid van ’n woonbuurt. Maar hy hou die getuienis van die arm laag, sodat die aankomende verkeer dit nie kan sien nie.
’n Poel bloed vorm op die motor se grys mat.
Deel 1
1
Van СКАЧАТЬ