Название: Slagyster
Автор: Rudie van Rensburg
Издательство: Ingram
Жанр: Ужасы и Мистика
isbn: 9780795800634
isbn:
Brink vryf oor sy voorkop. Hy het geweet hy gaan teenstand kry, maar hy móét sê hoe hy voel. Hulle is immers sy vennote. “Kêrels, ek weet nie of ek met dié storie kan voortgaan nie. My gewete ry my. Ek kan snags nie slaap nie. Die Taliban-ding pla my ook … ”
Dolf slaan sy oë op na die plafon en hou sy kop vas. “Ag nee, fok, hoeveel keer is ons nie al deur daai storie nie?”
Ben se oë trek op skrefies, sy stem sny deur die vertrek. “Reg, Brink, klim uit! Jy weet goed wat ons ooreenkoms is. Jy gee alles terug vir die maatskappy wat jy verdien het terwyl ons wapens verkoop het. Dit beteken jy sal jou fokken fancy mansion in Rondebosch moet verkoop, jou meubels, jou vrou se juweliersware, jou blink Merc, jou vrou se TT, julle skilderye … en amper vergeet ek, jou Plett-vakansiewoonstelletjie met die see-uitsig. En jy fokken trek terug Monte Vista toe en gaan hou skool. Ons sal jou aandeel in die vervoerbesigheid en die kapitaal wat jy destyds neergesit het toe ons begin het, vir jou met rente terugbetaal. Dalk kan jy daarmee, as jy gelukkig genoeg is om donnerse gróót bargains raak te loop, ’n drieslaapkamerhuis en ’n tweedehandse Golf bekostig.” Hy hamer met sy vuis op die lessenaar. “Hou op dreig. Maak jou mind nou op en sê vir ons waar ons met jou staan.”
Brink kyk na sy jare lange vriend. Hy ken hom nie meer nie. Ben het hard en ongenaakbaar geword. Tog weet hy Ben sit met die troefkaart. Dié ding waarin hy homself laat beland het, het hom stewig aan die knaters beet. Uitkomkans bestaan nie.
Hy sug. “Oukei, vergeet ek het dit gesê. Ek sal met my gewete probeer saamleef.” Hy weet hy sal nie kan nie, maar hulle sal dit nie begryp nie.
“Reg.” Ben frons nog. “Laat ons begin. Ek het vir Yuri ’n lys van ons Taliban-bestelling deurgefaks. Oor twee dae kry ons hom in die Oekraïne. Vandaar neem hy ons na die wapenopslagplek. Dit sal dan iewers langs die kus afgelewer word. Ons sal moet inspeksie gaan hou voordat die vrag gelaai word. Een van ons sal die kaptein op die skip moet vergesel om seker te maak die goed word reg oorhandig en ons kliënt is tevrede. En om die geld in ontvangs te neem. Dit gaan ’n maklike operasie wees. Min sweet en byna geen risiko’s nie.” Hy sit ’n raamlose leesbrilletjie op die punt van sy neus en bestudeer vlugtig ’n vel papier. “Volgens my rooster is dit jou beurt, Brink. Reg so?”
Brink voel hoe die swaarmoedigheid hom oorval. “Ek het vir julle gesê ek sal verkies om nie met die Taliban te werk nie. Ek sal opmaak daarvoor deur in te staan vir van die ander Afrika-trips.”
“Brink, as jy wil deel in die wins, werk jy streng volgens ons skedule. Ons het laas ooreengekom ons gaan nie daarvan afwyk nie,” laat Dolf hoor.
Brink gooi sy hande in die lug. “Oukei, oukei, ek sal op die verdomde skip wees. Enigiets anders op die agenda?”
“Nee,” antwoord Ben.
Brink kom orent, tel die koerant van die vloer af op en stap uit die raadskamer.
“Ek is bekommerd oor ons partner,” sê Ben toe die voetstappe in die gang vervaag. “Baie bekommerd.”
“Hy’s deesdae ’n pyn in die gat.” Dolf staar na sy hande, lag dan skielik. “Hy’s vol kak, maar ons sal hom maar moet verdra.” Hy staan op. “Ek wil nie eers verder daaroor praat nie. Dit maak my moeg net om daaraan te dink. Ons sal maar net met hom moet saamleef.”
“Jy’s reg, ons het nie ’n ander keuse nie.” Ben tokkel met sy vingers op die lessenaar.
9
Sy bestemming is ’n kantoorgebou in Groenpunt, weg van die spesiale aksie-eenheid se kantoor. Dit is naby genoeg aan sy hotel dat hy kan stap.
Op pad soontoe merk Carl die motor op. Die bestuurder lyk verdag. Hy sit laag agter die stuurwiel, ’n kep oor sy oë getrek. Die man wat die motor nader, kyk eers angstig rond. Dan rek hy sy treë en buk by die oop ruit. Die ruiltransaksie vind vinnig plaas: die bestuurder oorhandig ’n pakkie en neem met sy ander hand die koevert by die voetganger. Die wiele van die dwelmtrein draai weer, weet Carl.
Hy kom byna tot stilstand. Sy eerste gedagte is om die motorbestuurder te bestorm. Maar hy bedink hom betyds en stap gelate voort. Die polisieman in hom is klaarblyklik nog nie begrawe nie.
Maar hoeveel van die ou Carl Bester het behoue gebly? Drie jaar lank was hy verskans agter die masker van ’n dwelmhandelaar, sy baard, lang hare en sliertige voorkoms ligjare verwyder van sy beeld as skoongeskeerde en onkreukbare geregsdienaar. Soms het hy gevoel soos iemand met ’n gesplete persoonlikheid, dan dokter Jekyll, dan meneer Hyde. Hoeveel keer was hy nie aan die voorpunt van dwelmtransaksies nie? Hoeveel keer het hy nie meegedoen aan martelsessies nie? Alles in belang van die groter saak, het sy polisiekontak hom bly gerusstel.
Maar soms het die skeidslyn tussen sy twee rolle vervaag. Dan het die opwinding van sy rol as skurk sy adrenalienvlakke hoër laat styg as tydens enige polisie-ervaring. Het daardie lang blootstelling aan die onderwêreld sy oordeel verwring? ’n Skadusy van hom ontbloot waarvan hy nie bewus was nie? Dis nie vrae wat hy die afgelope tyd kon beantwoord nie. Maar dié twyfel oor sy moraliteit kom elke nou en dan ongevraagd by hom op.
Dit is ’n vaal gebou. Carl klim die twee stelle trappe na bo vinnig om die winterkoue uit sy lyf te verdryf. Hy het Wessels drie dae na sy plaasbesoek laat weet hy sal die taak aanvaar. Wessels het gesê hy is bly Carl het so vinnig besluit, want die polisie is onder druk. Hulle moet binne die volgende twee dae ’n sessie reël.
Carl het nie nodig gehad om lank te soek na ’n tydelike voorman vir sy plaas nie. Die buurman se seun, wat met olywe grootgeword het, was gretig om te help. Hy sou ’n ogie hou terwyl Carl weg is. Die paar voltydse plaaswerkers is gelukkig ook betroubaar en kan sonder toesig op hul eie aangaan. Dit is nie ideaal om ’n boerdery so te bedryf nie, maar die beste wat hy in die omstandighede kan doen.
Direkteur Wessels wag reeds vir hom, geboë oor die eikehoutlessenaar, sy bleskop blink onder die gesonke ligte. Hy staan op en dié keer is sy groet hartlik. “Carl, ek is bly jy het besluit om te help.” Geen verwysing na die feit dat Carl nie veel van ’n keuse gehad het nie. “Waar bly jy?”
“ ’n Hotel hier naby.”
“Jy moet jou uitgawestrokies hou. Ek het ’n stewige begroting vir die job.”
Carl skud sy kop. “Ek sal self vir my reis en verblyf betaal.” Hy glimlag verleë. “Dit is die minste wat ek kan doen. Om dankie te sê … vir die guns.”
“Dis nie nodig nie. Ons vergeet nou van die verlede.”
“Ek dring daarop aan.”
Wessels glimlag. “Nou maar goed, as jy dit so wil hê.”
’n Ligte klop aan die deur laat albei mans se koppe draai. “Dis September,” sê Wessels. “Superintendent Leroy September, ek weet nie of jy hom ooit ontmoet het nie? Hy het by ons begin net nadat jy ondergronds gegaan het. ’n Knap kêrel, goeie navorser en uitstekende rekord by ander eenhede.”
September is ietwat ouer as Carl. ’n Lang, СКАЧАТЬ