'n Uur van lig. Nina Smit
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу 'n Uur van lig - Nina Smit страница 21

Название: 'n Uur van lig

Автор: Nina Smit

Издательство: Ingram

Жанр: Религия: прочее

Серия:

isbn: 9780796315861

isbn:

СКАЧАТЬ agter ons kan laat en na ’n plek van vreugde en veiligheid kan vlug. Veral tans laat die toestande in ons eie land veel te wense oor, en soms lyk dit vir ons of dinge nooit weer beter sal gaan nie. Vir mense wat dreig om moed te verloor, is daar ’n oplossing in vandag se kernverse opgeteken: “Maar ek roep tot God en die Here sal my verlos. God sal hoor en antwoord.” As jou negatiewe omstandighede van die oomblik jou weer wil onderkry, volg gerus die raad van die psalmdigter. Dit is vandag nog net so relevant as toe hierdie psalm geskryf is. In gevaartye, moeilike tye, moedelose tye, kan jy steeds tot God roep. Hy waarborg vandag nog jou veiligheid. Alhoewel sy kinders nie van alle rampe en teenspoed gevrywaar is nie, het ons die versekering dat God bý ons is in hierdie omstandighede en dat Hy ons uiteindelik daardeur sal dra.

      Hemelse Vader, met U by my het ek nie eens duifvlerke nodig nie, ek kan maar net my kommer aan U oorgee. Dankie daarvoor! Amen.

      24 Maart – Die beste plek vir jou bekommernisse

      24 MAART

      Lees: Psalm 55:21–24

      Die beste plek vir jou bekommernisse

      Gee jou kommer oor aan die Here. Hy sal vir jou sorg. Hy sal gelowiges nie teleurstel nie. – Psalm 55:23 (Nuwe Lewende Vertaling)

      Wanneer ons vir ’n lang ruk ons fisiese omstandighede as negatief ervaar, is dit feitlik onvermydelik dat ons uiteindelik mismoedig en bekommerd sal raak; dat ons later selfs vir God uit die prentjie sal laat omdat ons so bang vir die toekoms is. Die meeste Christene is dan ook op die oomblik, ten spyte van hul geloof in God, steeds bekommerd oor baie dinge. Ek betrap myself die afgelope tyd dat ek tob oor die naderende ouderdom: of ons gesond sal wees, genoeg geld sal hê vir die hemelhoë mediese kostes … Of ons kinders en kleinkinders nog veilig sal wees en werk sal hê met die regstellende-aksie-monster wat om elke hoek loer …

      Is jy ook ’n kommerkous? Gelukkig is al die lang lyste faktore waaroor jy jou so bekommer glad nie nodig óf relevant vir Christene nie. Jy weet mos reeds waar die beste plek vir hierdie bekommernisse van jou is. “Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle,” skryf Petrus (1 Petrus 5:7). Hy gee sy lesers presies dieselfde raad as vandag se kernteks. Gee sommer nou elkeen van jou bekommernisse oor aan die Here, góói hulle na sy kant toe, en bespreek hulle met Hom. Hy sal vir jou sorg. Boonop weet Hy reeds van elkeen van hulle en Hy onderneem om jou nóóit teleur te stel nie. Vertrou Hom dus as kommer weer aan jou deur kom klop.

      Hemelse Vader, dis so gerusstellend dat U kinders maar elkeen van hul bekommernisse na U kan bring met die seker wete dat U sal sorg. Ek wil dit sommer nou dadelik doen. Amen.

      25 Maart – ’n Plek van veiligheid

      25 MAART

      Lees: Jesaja 10:1–4

      ’n Plek van veiligheid

      Wat gaan julle doen die dag as Ek verwoesting uit ’n ver land na julle toe stuur? Na wie toe sal julle dan draai vir hulp? Waar sal julle skatte veilig wees? – Jesaja 10:3 (Nuwe Lewende Vertaling)

      Israel het deur die eeue dikwels geweier om ag te slaan op God se waarskuwings. Die profeet Jesaja waarsku dat moeilike tye vir hulle wag, tye waarin hul skatte nie langer veilig sal wees nie.

      Daar was heel waarskynlik nog nooit ’n tyd in die geskiedenis dat ons so baie aan misdaad en geweld blootgestel is as in die laaste paar jaar nie. Baie mense verlaat die land op soek na ’n veiliger tuiste. Dié wat agterbly, voel onveilig en bestee groot bedrae geld daaraan om hul hulself en hul huise te beveilig. Die veiligheidskompleks waarin ons woon, het elke denkbare veiligheidsmeganisme: bemande hekke met kameras en kringtelevisie, ’n hoë elektriese omheining buite om, veiligheidswagte wat in die kompleks rondry … En tog het skelms al ’n paar maal daarin geslaag om ál die veiligheidsmeganismes te omseil en hier in te breek! Daar ís net nêrens meer waar ons aardse “skatte” veilig is nie.

      Miskien moet ons begin om op ’n ánder plek skatte bymekaar te maak; ’n plek waar hulle nie aan diewe blootgestel sal wees nie. Jesus vertel in die Bergrede dat ons vir ons hemelse skatte moet versamel, skatte wat nie geroof kan word nie. Hou dus op om besorg te wees oor aardse besittings en begin solank om vir jou skatte in die hemel bymekaar te maak. Dis die enigste plek waar hulle – en jy – werklik veilig sal wees.

      Here, vergewe my dat ek so onveilig voel en tog voortgaan om wêreldse skatte bymekaar te maak. Leer my om van nou af op dié ewigheidsdinge te konsentreer wat vir U belangrik is. Amen.

      26 Maart – God seën die treurendes

      26 MAART

      Lees: Matteus 5:3–12

      God seën die treurendes

      “Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.” – Matteus 5:4

      Wanneer jy hartseer beleef, ontdek jy meermale dat jy ín hierdie hartseer vir God ontdek, dat jy Hom beter leer ken, dat Hy ’n groter werklikheid vir jou word, dat dit net Hý is wat jou op die regte ma-nier kan troos. Jy het ook die versekering dat God jou deur en deur ken, dat Hy van jou hartseer bewus is en dat Hy ook weet hoe om jou weer beter te laat voel. Die hartseer waarvan Jesus in hierdie teks praat, dui eintlik op hartseer oor sónde. Meestal is dood of verlies wat jou hartseer veroorsaak dan ook ’n indirekte gevolg van sonde. Jou hartseer maak jou dus bewus van die feit dat jy in ’n sondige wêreld leef én self sondig is. Eers wanneer jy jou sonde erken en bely, ervaar jy die helende salf van God se troos en kan jy die belofte in Openbaring 21:4 vir jou persoonlik toe-eien: Eendag in God se nuwe wêreld sal álle hartseer vir altyd verby wees. Dáár sal Hy Self jou hartseertrane vir altyd afdroog.

      Here Jesus, ek loof U vir die wete dat U my eintlik seën wanneer ek hartseer is, omdat my hartseer my aan die ontvangkant van u troos plaas. Amen.

      27 Maart – Swaarkry as leerproses

      27 MAART

      Lees: Jesaja 30:18–26

      Swaarkry as leerproses

      Die Here het jou brood van swaarkry laat eet en water van lyding laat drink. Maar Hy sal nog by jou wees, want Hy leer jou. Jy sal Hom met jou eie oë sien, die Een wat jou leer. – Jesaja 30:20 (Nuwe Lewende Vertaling)

      Die profeet Jesaja verkondig dat God sy volk brood van swaarkry laat eet en water van lyding laat drink het sodat hulle van Hom kon leer. Tog beloof God dat Hy steeds ten spyte van hierdie lyding by sy volk sal wees. Toe dit net goed met Israel gegaan het, het hulle God telkens vir heidense afgode verruil. Dit is eers toe hulle as ballinge weggevoer is dat hulle weer aan Hom en sy beloftes begin terugdink het en gewillig was om na Hom terug te keer.

      God gebruik baie keer swaarkry in jou eie lewe om jou kosbare lesse te leer – lesse waarop jy dalk nie ag sou slaan in tye van voorspoed nie. Swaarkry het die manier om ’n mens God se Stem duideliker te laat hoor, sodat ons Hom op ’n nuwe manier begin raaksien en gewillig is om weer soos voorheen sy voorskrifte СКАЧАТЬ