Название: Herinneringe aan Parys
Автор: André P. Brink
Издательство: Ingram
Жанр: Контркультура
isbn: 9780798155793
isbn:
“‘Maar almal in Parys ken tog dié naam!’
“‘Is dit darem vooraanstaande mense?’
“Sy het skielik begin lag dat sy skater – wat my nog meer die hoenders in gemaak het. Tot sy eindelik haar woorde weer kon bymekaarsit en verduidelik: ‘Dis een van die beroemdste Franse parfuumbase. Hulle is multimiljoenêrs!’
“Nou het die saak vir my éérs onverklaarbaar gelyk. Waarom sou ’n miljoenêrsvrou nou vir twaalf pond per maand gaan kamers uithuur? Êrens was daar beslis ’n skroef los. Maar die dametjie het hierdie probleem gou opgelos: hier bestaan blykbaar ’n reëling dat elke huisbaas ’n opgaaf van die grootte van sy huis en die aantal inwoners daarin jaarliks aan die staat voorlê. Omdat die woningnood so hoog is, het die staat dan die reg om na willekeur loseerders in te kwartier by mense wat te veel ongebruikte kamers het – tensy die huisbaas natuurlik self ’n loseerder vind. As hy self kan sorg vir ’n ekstra inwoner, spring hy boonop heelwat superbelasting vry. Dit klink alles taamlik ingewikkeld, maar ewewel, dis nou Franse demokrasie.
“Ek het my twee weke kennis gegee aan my twee geeste, en omdat ek intussen begin agterkom het dat my ‘onderwyseres’ inderdaad géén onderwyskwalifikasies besit nie en ek buitendien geen vordering daar kon maak nie, het ek ’n ander leermeester ook gaan soek.
“En nou sit ek hoog en droog tussen die miljoenêrs! En tog, snaaks, ek dink nog dikwels aan dié twee geruislose ou mense in hul Edgar Allan Poehuis; ek wonder oor hulle, en ek kry hulle jammer. Die ramp in hulle verlede het tog sonder húlle toedoen gebeur.”
Ons sit nog almal stil ná sy vertel het. Buite het die reën opgehou, maar ’n onrustige wind veeg nog teen die ruite soos ’n verlore gees wat wil inkom uit die duisternis. En agter die wind, ágter die duisternis, terwyl ons snoesig sit en sjokola drink, pols die stad voortdurend, onophoudelik: onvriendelike, norse landstreek vir die vreemdeling, hawe vir die herberglose.
Min vir ’n sikspens
Geen mens kon binne bly op ’n dag soos dié nie; iets het jou uitgedryf na die strate, net om die ongelooflike te ervaar – dat dit Februarie is, maar reeds lente. Dis iets wat in jou vaar soos ’n jakkerwindjie wat ’n venster oopruk aan ’n kamer wat lank toegestaan het: hy pluk aan die gordyne, en gooi ’n blompot van die tafel af, en hy is só toomloos en só speels dat niemand durf kwaad word nie.
Ek het daarom uitgeslenter, boek in die hand, deur die sypadskare gedring, en op ’n kafeeterras tussen koerantlesende mense en disputerende studente gaan sit.
“Crème,” het ek die kelner gevra.
Ek het geteug aan die halfsoet-halfbitter koffie en die onkeerbare lewe buite in die Boulevard St. Michel (“Boul’ Mich’” sê die studente) sien verbystroom. Eindelik kon ek ook dáár nie meer bly stilsit nie. Ek het my geld – honderd-en-tien frank, fooitjie inkluis – op die tafeltjie neergesit en uitgestap.
Maar by die deur het iemand my dringend en kwaai teruggeroep: “Monsieur!”
Ek het verbaas omgedraai. “En nou?” wou ek weet.
“Die fooitjie –!” het hy streng gesê. ’n Paar gesigte het om hul koerante begin uitloer.
“Maar ek het dit by die geld gesit,” het ek verweer; die hitte het in my begin opstoot oor dié onregverdige, openbare aanval.
“Dis nie genoeg nie.” Hy het sy vadoek oor sy skouer gegooi en sy palm met die muntstukkies na my toe uitgehou. “Die fooitjie bedra twaalf persent. Twáálf – nie tien nie.” Hy het die strokie in my rigting gefladder dat ek kon sien.
Ek het boosaardig twee frank uit my sak gevroetel en hom dit gegee. Iemand het gegiggel. Die deur het agter my toegeklater.
Twee frank – minder as ’n oortjie, een kwart van ’n pennie.
En dit was nie die eerste keer dat iets dergeliks my omgekrap het nie. Daar was die aand toe Estelle die rooi blokkiespapiertjie aan my kom gee het – synde die eerste maandstaat van ons hospita. “Kyk net daar!” het sy verontwaardig beduie. “Dis onmoontlik. Dis absoluut, heeltemal, volkome, totaal onmoontlik. Ons betaal nié soveel vir ’n bad nie!” Sy het haar mond skuins getrek en gevra: “Hoeveel ís vierhonderd frank presies?”
“Ses sjielings – amper.”
“En toe ons hier kom bly het, het Mademoiselle Domecq gesê ons kan bad net wanneer ons wil! Dis skandalig!” Sy het die papiertjie op die tafel gegooi. “Jy moet met haar gaan praat!”
Maar dit het nie gehelp nie – nie hiér nie. ’n Stuiwer vir twee mossies en ses sjielings om te bad. Uit en gedaan. Die ou-ou reël: niks vir niks, en vrek min vir ’n sikspens.
Toe ek by die restaurant uitstap, het ek aan dié insidentjie gedink, en aan baie ander. In ’n taxi. By ’n teater. In die bioskoop. Selfs in die openbare watsenaam. Oral die uitgestrekte hand, oop na bo – vir die fooitjie (wat ook ’n nuwe baadjie aangetrek het en nie meer “fooitjies” is nie, maar “diens” of “bediening” – service). Kry dit dan nêrens end nie, het ek gedink. Koop mens dan nou énigiets met geld: wortels en tamaties en liefde en sykouse en vriendskap …?
En toe was die Luxembourgtuin voor my, groot en na alkante toe wyd: dié uitgestrekte, omtraliede parktuin waar studente en jong ma’s met kleingoed uitstort soos riviertjies in die see. Ek het die rokerige mis van die oggend tussen die swart dun bome aan die oorkant sien sluier. Dit was ineens ’n uitnodiging: Kom hierheen; vlug ’n rukkie weg van die wêreld; kom sit hier, en rus, en vergeet van alle ergernis, en laat die eerste lente oor jou spoel soos skoon water.
Ek het deur die bome gevleg. Dit was nog stil, so vroemôre; later, teen etenstyd, sou die meisietjies van die buurt se skole hier instorm met groot geel balle en begin sketter en lag en roep en speel. Nou was daar net hier en daar in die mistigheid ’n vrou met ’n stootwaentjie; ’n paar studente met stapels boeke onder die arms; ’n jong paartjie skuins-skuins aan die liefkoos op ’n bankie onder die filosofiese, bedrukte ou figuur van een van die park se vele beelde; ’n paar stil, koerantlesende ou mense.
Die stad het weggeraak. Toe ek met die trappe afgaan na die groot grasperk-sirkel om die vywer voor die ou paleis, kon ek nog net ver bo die wintersbome die grys koepel van die Panthéon sien. En die geluide van motors en busse en mense het tot ’n lae dreun vervaag, rustig soos die see.
Ek het op een van die groen stoele gaan sit, heerlik agteroor, arms onder die kop. Ver, ver bó, die ligte wolkies, met flitse blou tussenin. Een keer deur die stilte die trae slae van ’n klok.
’n Priester het verbygekom, sy hande weggevou onder die groot plooie van sy ruim swart kleed, en met ’n stil glimlag op sy gesig.
’n Paar duiwe het blinknek, kop omlaag, ronkend gepronk om die skraler grys wyfies. Mossies het soos klein koeëlronde rubber-balletjies gewip-wip van krummel tot krummel – ’n serene ou tantetjie het hulle staan en voer. Hier en daar, verlangs tussen die bome, flitsend bo groen gras, was die silhoeëtte van beelde.
Rus, eindelose rus. In hierdie grote wêreldstad, te midde van al sy miljoene, al sy ellende, al sy gedruis, was daar dié uur net die stilte, die stilte wat uitreik soos kringe op water, ál uitreik, ál groter word en jou omsluit soos ’n seepbel wat wegdryf teen die lug, weg, ver, СКАЧАТЬ