GEBED: “Here, ek verdien nie u hulp nie. Maar ek stel myself tot u beskikking om hierdie week in u diens gebruik te word.”
Lees vanaand in Deuteronomium 9:7–14 hoe Moses die volk herinner aan die vele kere wat hulle ongehoorsaam was.
Dinsdag 17 Januarie
Lees Deuteronomium 9:15–29.
Ware voorbidding
Ek het die veertig dae en veertig nagte voor die Here gelê en gebid, want Hy wou julle vernietig (Deut 9:25).
“Bid asseblief vir my,” is deesdae ’n algemene versoek. Wildvreemdelinge het my al gevra om asseblief vir hulle te bid, en ek het nooit weer van hulle gehoor nie. Meermale het ek een keer vir iemand gebid, en nooit weer nie. Die nood is groot, en daar is so baie mense wat gebed nodig het dat ons nie vir almal kan bid nie. Daar is min kere dat ons so ernstig soos Moses bid.
Moses herinner die volk hoe hulle ongehoorsaam was en hoe hulle teen God in opstand gekom het. God wou hulle vernietig, en Moses, die sagmoedigste mens op die hele aarde, het so kwaad vir hulle geword dat hy die twee kliptafels flenters gegooi het. Maar toe het hy begin om vir sy volk in te tree. Hy het besef dat dit nie eintlik oor hierdie slawevolkie gaan nie, maar oor die eer van die ware God. In vandag se gedeelte het ons gelees hoe hy met God gestoei het – en uiteindelik die hele saak deurgebid het.
Dit is duidelik dat hier ’n groot wonderwerk plaasgevind het, want geen mens kan 40 dae sonder water leef nie. Maar vir Moses was dit ’n ernstige saak. Het jy al ooit die seën ervaar van ’n tyd van vas en gebed? Die eerste Christene het dikwels gevas en gebid, en selfs in die tyd van die groot herlewings in Europa was vas algemeen. Hulle vertel dat die apostel Jakobus die bynaam “Kameelknieë” gehad het – hy het eelte op sy knieë gehad van baie bid. Ek is bevrees die meeste van ons kniel nie eens meer nie. Is gebed nog ons erns?
GEBED: “Here, as ek om my kyk, sien ek so baie nood en so min voorbidders. Maak my iemand wat kan volhard in gebed.”
Lees vanaand in Deuteronomium 10:1–9 hoe die Here weer die wet aan die volk gegee het, en die erediens ingestel is.
Woensdag 18 Januarie
Lees Deuteronomium 10:10–22.
God se wil
En nou, Israel, die Here jou God vra net dat jy Hom moet eer, sy wil moet gehoorsaam, Hom moet liefhê en dien met hart en siel (Deut 10:12).
“Wat op aarde maak ek hier?” staan op die hempies wat ons gemeentelede gedra het tydens die 40 dae van ’n Doelgerigte Lewe. Ons het saam geleer wat die vyf hoofsake in ons lewe moet wees: aanbidding, gemeenskap, dissipelskap, diens en getuienis. En omdat sewe van Wellington se gemeentes die kursus gelyktydig gedoen het, het dit ’n heerlike interkerklike interaksie tot gevolg gehad.
Moses is hier besig om met dieselfde vraag te worstel. Nadat hy sy geskiedenisles afgehandel het, en die Israeliete herinner het aan wat hulle moet doen, kom hy nou in vandag se teks by die hoofsaak uit. Dit gaan nie eintlik oor rituele en aksies nie. Dit gaan eintlik oor ’n lewende verhouding met die lewende God. Hy sê ons moet God eer (die letterlike vertaling is: vrees). God is nie ons speelmaat nie. Ons mag net met die grootste respek aan Hom dink en na Hom verwys. Iemand wat praat van “die oukêrel daar bo” het geen begrip van God se heiligheid en almag nie. Dan noem hy dat ons God moet gehoorsaam. Dit is die toets van ware liefde. Die derde ding is om God lief te hê. Dit is die hoofsaak wat God van ons verlang, omdat Hy liefde is, omdat Hy ons eerste liefgehad het (1 Joh 4:19) en omdat sy liefde maak dat ons ook kan liefhê. Die vierde ding wat Moses hier noem, is dat ons God heelhartig moet dien.
Wie is in die middelpunt van jou dag? Jouself? Jou huis? Jou werk? Jou kinders? Jou geld? Of is dit, soos dit behoort te wees: ’n liefdesverhouding met God?
GEBED: “Here, ek wil U vandag liefhê en dien, U gehoorsaam en eer in alles wat ek doen, sê en dink. Help my om dit te doen.”
Lees vanaand in Deuteronomium 11:1–12 hoe Moses hierdie kern-opdragte verder verduidelik. Pas dit toe in jou eie lewe.
Donderdag 19 Januarie
Lees Deuteronomium 11:13–21.
Hulpmiddels tot volheid
Hierdie woorde van die Here moet julle lewe vul (Deut 11:18).
“Is hierdie glas half vol of half leeg?” is die toets wat ons soms gebruik om te weet of iemand ’n optimis of ’n pessimis is. God is egter nie tevrede met ’n halwe glas of ’n halwe lewe nie. Hy wil ons lewe vul. Hy wil deel wees van elke aspek van ons lewe. Elke kamer in ons lewenshuis is syne: die sitkamer, die slaapkamer, die studeerkamer, die werkkamer, die gesinskamer, die speelkamer – elke een. Hy wil elke kamer met sy vreugde en vrede en liefdevolle teenwoordigheid vul.
In vandag se gedeelte het ons weer gelees van verskeie hulpmiddels wat Moses aanbeveel om ons te help om hierdie volheid te ervaar. Die geheim is om daardeur die woorde van die Here te ken. Daarom lees ons elke dag in die Bybel, nie net uit nuuskierigheid nie, maar om ons lewe te verander. En ons moenie die dinge wat ons daarin ontdek, vir onsself hou nie. Ons moet met mekaar deel wat ons gelees het, sodat ons mekaar kan aanmoedig op die pad van die Here.
Die Here se woorde kan ons lewe nie vul as ons dit nie memoriseer nie. Onthou jy nog die teksverse wat jy as kind en jongmens uit die kop geleer het? Dit is mos juis daardie teksverse wat jy vandag nog kan aanhaal. Kom ons memoriseer sommer vandag se teks, en waar dit staan, sodat ons ook in die toekoms kan onthou om ons spens vol te hou met die goeie dinge uit die Woord.
En wat is die beste manier om ons kinders vir die lewe voor te berei? Eenvoudig om te maak soos Moses hier sê: om hulle ook te leer om die Woord te ken. Dan het hulle die wapens wat hulle nodig sal hê as die tye van versoeking kom.
GEBED: “Here God, vul my hart en lewe met u woorde.”
Lees vanaand Deuteronomium 11:22–32 en let op die gevolge van gehoorsaamheid en ongehoorsaamheid.
Vrydag 20 Januarie
Lees Deuteronomium 12:1–12.
Fokus op die Here
Julle mag nie die Here julle God dien op die manier waarop ander nasies hulle gode dien nie (Deut 12:4).
“Daardie beelde in die glaskaste langs die paaie is nie almal van Hindoe-gode nie. Sommige is van Christen-heiliges,” verduidelik ons kollega in Sri Lanka. Hoe verder ons gery het, hoe duideliker was dit dat daar weinig verskil tussen die Christene, die Boeddhiste en die Hindoes was. Dit was een kultuur. Dit was miskien een manier om Christenvervolging te vermy, maar die uniekheid van Christus het in die slag gebly. Christenskap was maar net nog ’n godsdiens, en een met ’n uitlandse God daarby. Min mense het die uniekheid van redding uit genade alleen verstaan. Geen wonder dat Boeddhiste daar die ander godsdienste probeer uitroei nie.
Moses het dieselfde probleem ervaar. Daarom moes hy baie sterk maatreëls tref om die volk te help om op die Here alleen te fokus. Hulle СКАЧАТЬ