Название: Go'el Yisra'el
Автор: Marzanne Leroux-Van der Boon
Издательство: Ingram
Жанр: Религия: прочее
isbn: 9780796315595
isbn:
Die pyn in Marc se bors is so skerp dat hy bang is om asem te haal. “Hoekom?” vra hy uiteindelik.
Sy laat haar kop sak en haar hare val oor haar gesig.
“Hoekom?” vra hy weer
“Ek het nie meer krag gehad om teen hom te stry nie.”
“Hy’t jou verkrag?” fluister hy.
“Nee,” sê sy, “nee! Ek was net so verward.” Sy lig haar kop op. “Marc!” roep sy byna, “dit was so verskriklik, verskriklik daar. Ek wou net dat iemand by my is en hy …” Trane loop onophoudelik oor haar wange. “Toe hy eers … toe het ek hom nodig gehad. Ek het iemand nodig gehad. In die nag. HaShem hoor my, ek wou nie dat hy … ek wou net iemand by my hê na dit gebeur het. Dit was verkeerd, dit was verkeerd, ek weet dit.” Sy huil wanhopig.
“En vandag daar in die kafeteria? Waaroor het dit gegaan?”
Sy klem haar vingers oor haar mond soos sy toe ook gedoen het en sy bedaar genoeg om te kan praat. “Hy wou nie aanvaar dat dit verby is nie. Dat dit niks was nie. Niks kan wees nie. Hy wil nie glo dat ek dit bedoel nie.”
“Hoe sal ék weet dat jy dit bedoel?” vra hy.
“Asseblief, Marc, asseblief.”
Vreemd dat dit die drie klein woordjies is wat die glas tussen hulle breek. Hy kom regop en trek haar van die bank af teen hom op. Hy hou haar lank so vas. Hulle praat nie.
Eindelik sê hy: “Jy moet gaan slaap, môre kom die kinders terug.”
“En jy?” vra sy gesmoord.
“Ek wil gaan stap.”
“Dit reën buite.”
“Ek weet. Ek gee nie om nie.”
“Kom jy terug?”
“Jy’s my vrou,” sê hy.
Toe laat hy haar gaan, draai om, tel sy nog nat jas van die stoel op en gaan uit. Buite ruk die wind verwoed aan hom. En hy vergeet om sy jas aan te trek. Hy loop daarmee oor sy arm deur die stormende reën en weet dit nie. Hy sien Aviel lag. Hy sien hom oor sy vrou buig en haar neem. Asof sy syne is.
Hy loop sonder dat hy weet waarheen hy gaan.
Hoofstuk 5
Marc het nie ver geloop nie voor hy gaandeweg bewus word van die deurdringende geluidjie wat hom agtervolg. Hy draai om en ’n endjie agter hom in die lig van die straatlamp sien hy die bondeltjie deurmekaar-gereënde wol wat tjankend agter hom aangehardloop kom. Shmu’el. Hy raap die verwilderde nat dingetjie in sy arms op en die yskoue neusie van sy hondjie beur teen sy gesig aan.
“Honne, honne,” fluister hy en hardloop met die volgende stel trappe af na die beskutting van Cardo-koopstraatjie onderkant sy huis. Op die treetjies van een van die verlate winkels gaan hy sit en met die binnekant van sy nat jas, droog hy die diertjie so goed moontlik af.
“Het jy sowaar agter my aan by die deur uitgekom?” vra hy vir Shmu’el wat hom in sy gesig bly lek. “Jou wonderlike getroue diertjie.”
Helder onthou hy die nag in 2004 toe Rivkah ná ’n terroriste-aanval op die ambulans wat sy beman het in die hospitaal om haar lewe geveg het en hy radeloos na die Kotel gevlug het om te bid. Toe het die hondjie vanuit nêrens verskyn en ’n groot troos vir hom geword.
Hy hou Shmu’el styf teen hom vas en meteens sien hy in die verwese natgereënde hondjie sy vrou se huilende gesig. Hoor hy weer hoe moeilik sy vir hom vertel wat met haar in Haïti gebeur het. Maar die gesig van Aviel, laggend, sy hand teen haar wang wil alles oorheers. Hy sit nat en bibberend van koue en skok daar en al wat hom vertroos is die effense warmte wat stadig uit die hondjie in sy arms se lyfie na hom begin deurdring.
Help my, Avi pleit hy, wys my die pad wat ek moet volg.
En toe loop sy gedagtes meteens na die toneel van Yeshua en die owerspelige vrou. “Ek veroordeel jou ook nie,” fluister hy die Here se woorde sonder dat hy regtig daarvan bewus is. “Go’el Yisra’el, as U nie veroordeel nie, watter reg het ek om dit te doen?”
Hy staan op, tel sy nat jas op en met die hondjie teen sy bors, gaan hy die trappies op terug na sy huis toe. Dit het ophou reën en waar die wolke ’n opening maak, word die laaste dun skerf van die sekelmaan net-net sigbaar.
Toe hy die voordeur oopmaak, sit Rivkah nog op dieselfde plek op die rusbank waar sy was toe hy weggegaan het. Hulle kyk mekaar ’n rukkie woordeloos aan.
“Shmu’el,” sê sy onnodig en wys na die hondjie waarmee hy in sy arms staan.
“Hy het agter my aangekom.” Marc glimlag flou, hy het my laat huis toe kom.”
“Dankie,” sê sy sag.
“Dis ysig koud hier, ek gaan die vuur aansteek. Hy moet droog word anders sal hy siek word.”
“Jy ook, Marc. Jy is deurnat. Stort en trek jou droog aan.”
“Nog ’n keer.” Hy glimlag weer effens, sy oë op haar.
“Asseblief,” sê sy. “Ek sal die vuur aansteek en tee maak.”
Eindelik is Marc droog, Shmu’el warm, die kaggel brand en Rivkah het kruietee gemaak en inderwaarheid het hulle niks meer vir mekaar gesê nie. Hulle drink die tee in ’n lang stilte, nie soos gewoonlik langs mekaar op die rusbank of met kussings op die mat voor die vuur nie. Elkeen het ’n stoel nader getrek.
Toe hy sy tee klaar gedrink het en die glas langs sy stoel neersit, kom Shmu’el asof hy op die teken gewag het, op Marc se skoot spring. Hy kam sy vingers deur die hondjie se lang hare en voel dat die stilte te lank word en die spanning weer begin oplaai.
“Ek het nie die reg om jou te veroordeel nie,” sê hy en kyk na haar smal kaal voete wat sy na die vuur toe uitgestrek het.
“Jy hét die reg, Marc.”
“Waar sal dit ons bring?” vra hy steeds sonder om na haar te kyk.
Sy antwoord nie daarop nie, maar na ’n rukkie vra sy: “Kan ek jou iets vra?”
“Jy weet jy kan.”
“Nie meer nie,” sê sy baie sag.
Hy kyk na haar, die tenger figuurtjie, nou opgekrimp in die groot stoel met haar voete weer onder haar ingevou en hy het haar met soveel pyn lief dat hy skrik daarvan.
“Wat wil jy vra, Chamud?”
Dié lieflingnaampie laat trane in haar oë kom, maar sy sluk en probeer kalm praat. “Ek besef dis te vroeg om dit te vra …”
“Vra maar.”
“Sien jy kans om … hier te bly ten spyte van wat gebeur het?”
Hy bly stil in die vuur sit en kyk.
“Ek СКАЧАТЬ