Oepse Daisy. C. Johan Bakkes
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Oepse Daisy - C. Johan Bakkes страница 6

Название: Oepse Daisy

Автор: C. Johan Bakkes

Издательство: Ingram

Жанр: Биографии и Мемуары

Серия:

isbn: 9780795800313

isbn:

СКАЧАТЬ By Loop 8 bereik ek die spoorlyn en met bordjies wat luidkeels Private Road – No entry without valid permit. Trespassers will be prosecuted uitbasuin,vat ek die spoor. Ek ken mos die spoorsnyers.

      Skemer vang my net voor Dwaggas- en Kommissaris-soutpan. Ek trek die bossies in. Pak ’n vuurtjie, rol my bed-rol oop, knak ’n botteltjie wit en gooi ’n dikrib op die kole. En terwyl Boesmanland se wydheid in purper verkleur, gaan my gedagtes terug.

      My ma het nog altyd ’n moerse invloed op my wel en wee en gemoedtoestand gehad. Ek het geglo as sy gelukkig is, dan’s ék ook (dis min of meer die gevoelente wat ek oor my eie persoonlike vrou het, en nou het my dogter ook bygekom … ). Dis die naelstring-ding, maar ook het sy ’n helse invloed op my menswees gehad. Dis sy wat my van die dieperdroom vertel het. Dis sy wat vir my ander wêrelde as die normale laat verstaan het. Haar swaar van die terminale kanker wat by haar gediagnoseer is, reg gebid soos Hiskia van ouds, het haar ’n lewenskerpte laat ontwikkel – of miskien was dit altyd daar.

      Net voordat ek aan die wroeg kon gaan, het ek gelukkig só, sittende in my stoel in Boesmanland, aan die slaap geraak. Terwyl die dikrib verkool.

      “Word wakker! Ons sny spoor.” Wolfie buig oor my. Dis vyfuur die oggend. Die daglumier wil-wil uit, en wragtag, hier kom ’n helse geel masjien op die spoor aangekruie. Hy’s seker ses lokomotiewe lank en hy ry dat die vonke spat. Die vonke skiet so erg dat die Boesmanland-skaapbossies aan die brand slaan en Wolfie en Fanie, in hulle Cruisers, slaan vuur dat die sop so spat.

      O, is dít hoe jy Transnet se spore sny? Nou verstaan ek.

      As kind was my ma langs die sportvelde wanneer ek gespeel het. Aristokraties het sy boggherol van rugby geweet, maar sy was daar. Sy’t stukkende ledemate gelap en emosioneel bekommerd geraak oor klein dinge wat vir haar nie verstaanbaar was nie. Ek weet ook dat toe ek as agtjarige in Wynberg se militêre hospitaal in ’n koma gelê het, sy maande lank byna permanent langs my bed was. Ek was haar eerste.

      Spoorpad langs het ek vir Piet Scheepers, ’n soutraper van Verdorshoekpan, raakgeloop. So ook vir Boesman en Gert wat met hulle skaaptrok op ’n spoorkruising loop staan het. Gou-gou het ek hulle ge-“jump-start”. Dit net voor die drie kilometer lange ysterertstrein by ons verbygesnel het. Ek was eufories in my eie wees, op ’n pad wat niemand ry nie.

      In Kenhardt se hotel het Suzette en Eaton Wickers gesorg vir ’n ordentlike bord kos. Een-en-sewentig kilometer weg het Put-sonderwater gelê.

      Wat weet ek van Putsonderwater? Behalwe dat my ma geglo het ek wou eintlik net daar gesit en drink het vir ’n lewe. Putsonderwater is amper Suid-Afrika se Timboektoe. Maar in 1989 het dié stasiedorpie die Duncan-prys as mooiste stasie in Suid-Afrika gewen. Piet Titus van Marydale sê die plekkie was “woelig” in die tyd toe hy daar gewerk het. Die storie loop dat die plaas oorspronklik Klippan geheet het. Daar was ’n put. David Ockhuis, ’n Griekwa, het in 1880 die put sy staning gemaak. Ek elke keer as ’n trekboer daar verbygetrek en gevra het of daar ’n put is, was David se antwoord: “Ja, meneer, ek het ’n put, maar dis ’n put sonder water.” Só het hy sy water beskerm.

      In 1962 het Bartho Smit ’n toneelstuk genaamd Putsonderwater geskryf wat verbied is deur die destydse regering omdat dit oor liefde oor die kleurskeidslyn gegaan het. In 1978 wen hy die Hertzogprys vir drama, onder meer vir Putsonderwater!

      Ek ry Putsonderwater binne en daar is nie ’n siel nie. Dis ’n Putsondermens. Die hotelletjie, skool en winkeltjie is vervalle, afgebreek. Die stasiegebou lê in puin. Die besoekers is stuk-stuk besig om Putsonderwater weg te dra. Ek ry met my bakkie tot op die perron. Al wat heel is, is die perronbordjie Putsonderwater (De Aar 299 km).

      Ek haal my stoel en ’n tafeltjie uit en plak dit onder die bordjie neer. Uit kom ’n yskoue rosé uit die Sederberge uit. En ek klink ’n glasie op die vrou wat my beslag gegee het. Sy wat my van Bartho Smit vertel het en ook van Putsonderwater …

      My ma het gesê:

      “As jy eendag hier

      verbykom waar ek lê,

      skop teen my graf

      en sê: ‘Hier lê

      ’n vrou begrawe.’”

      Ek skop.

      “Dag, Ma.

      Jy was ’n vrou;

      jy kon enige man

      vierkantig in die oë kyk,

      vir almal kos gee,

      slaapplek.

      Ek skop nog.

      Dag Ma.”

      Bron: “Huldeblyk” (aangepas) deur E.W.S. Hammond (Hamburgers en hotdogs, Tafelberg, 1979).

      O, die slaap – ’n wondersoete ding

pic24.jpg

      Slaap en slaapplekke was my hele lewe lank redelik laag op my prioriteitslys. Ek glo dat as ’n mens slaap, dan gaan die lewe ongemerk by jou verby. So ook was ek nog nooit bereid om gedurende ’n reis regtig geld op ’n lêplek uit te gee nie – ek sou eerder die geldjies op ander plesierigheidjies spandeer. Bygesê, my reisbegroting was nog nooit werklik wyd nie en die “oornagfunksie” moes tweede viool speel. Ek sal maar uitrus daar tussen die populiere en sipresse as ek eendag die ou kop vir oulaas neerplons, dís my filosofie.

      So het ek as dosent aan Unisa my slaapsak tussen bourommel in die ondergrondse parkeerarea van die Unisa-lokale te Durban uitgesprei, terwyl kollegas knus in hotelle hul goedgekeurde maar karige S&T (“subsistence & travel”) opgeslaap het. Myne sou ek in hawekafeetjies en hole ná klas benut. Moet sê dit was ’n nagmerrie-inlê, met drome van my baas, professor Botha van Rensburg, en die hele honneursklas wat my wakker skud met: “En wat nóú?”

      As kontrakouditeur vir Elwierda-busdienste op Stellenbosch het ek “ingeboek” in die stapelbed-lêplek van die deurnag-busdrywers. Dit was soos die nooit-rus van Basies gedurende weermagsdae. Voortdurende beweging van moeë drywers wat in die middel van die nag lywe kom neergooi en die nuwe skof wat donkeroggend stange gaan vat. Die besparing aan gastehuisakkommodasie is aangewend gedurende die skryf van vorderingsverslae in die Terrace-kroegie skuins af van Birdstraat.

      Daar is al menigmale sommerso in die kajuit van die bakkie op die pad na nêrens ingedut. Onder ’n lessenaar van ’n vooraanstaande besigheid waar ’n forensiese ondersoek gedoen is. Onder die bakkie daar by Bertie’s Landing in Windhoek. Die parkeerterrein van die Universiteit Stellenbosch se ou buitemuurse kampus. Enige plek, solank daar tog net nie geld vir slaap uitgeruk hoef te word nie. Dis ’n dooie belegging …

      Ek en Ferdi is op pad Europa toe – nog nie een van ons was al daar nie, maar so is dit ook nie belangrik om daar te gewees het nie. Ons het twee maande om met openbare padvervoer deur Wes-Afrika tot in Spanje te reis. Ons afspringplek is Abidjan aan die Ivoorkus. Die vliegtuigkaartjie Abidjan toe ruk ’n helse gat uit ons begroting – daar’s nie fondse vir slaap nie. Die beplande roete is deur die Ivoorkus tot in Mali (Timboektoe is ’n móét), dan via Senegal Mauritanië toe. Van daar deur die Sahara tot by Casablanca in Marokko en dan oor die Middellandse See na Spanje – dis die plan.

      Wes-Afrika is oorwegend Franssprekend en ná maande se luister na Franse taalbandjies was die somtotaal van ons kennis СКАЧАТЬ