Veldpad van verlange. Helena Hugo
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Veldpad van verlange - Helena Hugo страница 6

Название: Veldpad van verlange

Автор: Helena Hugo

Издательство: Ingram

Жанр: Короткие любовные романы

Серия:

isbn: 9780624058618

isbn:

СКАЧАТЬ gaan staan agter Lüther en masseer sy skouerspiere. Nie lank nie of Natika volg haar voorbeeld. Sy gaan staan agter Andreas, masseer sy nek, soen sy slape, fluister beloftes in sy oor wat nie vir die geselskap bedoel is nie.

      Is dit ’n kompetisie? wonder Paulie toe Lüther se hand teen haar kaal been op dwaal.

      “Kar toe voor ons besluit om die res van die dag hier te bly!” roep sy haar groep tot orde en slaag daarin om haar stem lig te hou.

      Almal is in ’n goeie luim toe hulle die viertrek vir die volgende skof bestyg. Die landskap verander soos hulle die langpad vat. Spoedig laat hulle die mynhope van Johannesburg en die rokende skoorstene van Vanderbijlpark en Sasolburg agter en bevind hulle op ’n oop pad tussen golwende Vrystaatste vlaktes en landerye. Hulle steek Kroonstad verby en Andreas waag dit selfs om vinniger te ry.

      Natika luister weer na R&B en dis nie te sleg nie. Hoewel Lüther dit in sy kop kry om ook saam te sing en Andreas toe stilbly en Paulie haar verbeel sy nek word al rooier.

      Hy haal die CD uit voor dit deurgespeel het en steek Ladysmith Black Mambazo in. Paulie luister na die Afrikaritmes, verbeel haar sy ruik die grasvure wat hierdie tyd van die jaar reeds aan die orde van die dag is. Dis Maartmaand en vroegherfs, dan is die Vrystaat vir haar selfs mooier as in die hoogsomer. En vanjaar het dit goed gereën. Die rooigras staan glo skouerhoog en die beeste is vet, die wild blinklyf, soos haar gasheer, oom Hennie, graag sê.

      Natika het ingesluimer, haar kop na die een kant gedraai, weg van Andreas. Hy stel die musiek sagter en neem kort-kort ’n sluk van sy koffie. Hy het sy eie vlekvrye-staal-koffiebeker wat ’n hele liter hou en hy het gesorg dat dit vol goeie Wimpy-koffie is.

      “Tyd dat ek ook ’n uiltjie knip,” sê Lüther. Hy blaas sy reiskussing op, keer sy rug na Paulie en slaap.

      Ná ’n ruk voel sy verplig om ’n gesprek met Andreas aan te knoop. Hy is immers die een wat moet wakker bly en hulle veilig by hulle bestemming besorg.

      “Drink jy altyd so baie koffie?” vra sy toe Lüther kliphard snork.

      “Dag dis jy wat so snork,” skreeu hy agtertoe.

      “Nee, dis my perfekte man.”

      “Jy kan ook maar slaap, jy is seker gewoond daaraan. Ek sal oukei wees.”

      “Ek het my netnou uitgeslaap. Hoe laat verwag jy om Bloemfontein te haal?”

      “Nie voor halfses nie. En ons sal moet afdraai en petrol kry voor ons aanry.”

      “Ek hou nie daarvan dat ons in die donker moet ry nie.”

      “Ek sal versigtig wees.”

      “Ons kan ’n kortpad plaas toe vat.”

      “Ja, dit kan help.”

      “Môre moet ons vroeg begin. Dink jy Natika sal byhou?”

      “Natika is nie so pieperig soos sy lyk nie.”

      Verbeel sy haar of is daar nou irritasie in sy stem, verontwaardiging en beskermingsdrang?

      “Ek sê nie sy is nie. Ek dink net nie sy is gewoond aan veldwerk nie.”

      “Moenie worry nie, sy sal byhou. Ek het jou mos gesê sy sal.”

      Met dié draai hy die musiek harder en Paulie voel soos ’n ondankbare vark omdat sy haar gevoelens in woorde durf omsit het. Kan sy nie haar mond hou nie! Waarvoor is hy ook so fyngevoelig? Dis nie asof sy die vroumens in haar gesig beledig het nie. Sy het haar kommer uitgespreek, dis al.

      Buite begin die son sak. Dit trek lang vingers lig oor die vlaktes wat groen en bruin en goudgeel om hulle uitstrek. Hoekom voel sy skielik so weemoedig en ongelukkig?

      3

      Dis stikdonker toe hulle die uitdraai na hul bestemming bereik, ’n kortpad wat volgens Paulie se kaart by Graspan verbyloop, maar wat ongelukkig nie geteer is nie. Hulle moet van die hoofpad afdraai, twaalf kilometer goeie grondpad ry en dan by ’n wegwyser met Boshof 80 kilometer indraai.

      Paulie het die kaart op haar skoot en beduie vir Andreas van haar sitplek agter in die kar hoe ver hy moet ry voor hy die plek sal kry. Hy het die CD afgeskakel en dis stil in die viertrek, ’n soort broeiende, onheilspellende stilte, donker en neerdrukkend. Die pad word slegs deur hul hoofligte belig, twee gryswit strale wat deur stofwolke boor. Aan die stof kan hulle niks doen nie, dis hul eie wat van agter af vorentoe waai. Die afgelope tien, vyftien minute al ry hulle alleen, en die laaste voertuig wat by hulle verby is se stof het lankal gaan lê.

      Stof sif in die kajuit en Natika wat eers gekla het, verduur dit in stilte.

      Andreas het haar getroos met: “Dis skoon stof, Natika. Skoner as die lug wat jy elke oggend in Pretoria inasem, so geniet dit.”

      Lüther het sy donkerbril op. Hy hou ’n sakdoek voor sy neus en bewaar ’n doodse swye. Hy het sy sweetpakbaadjie aangetrek en die kappie oor sy kop getrek en lyk meer of hy in ’n sneeustorm op pad is Suidpool toe as plaas toe op ’n doodgewone Vrystaatse gruispad.

      Hulle ry by enkele verligte plaashuise verby. Daar is helder ligte op hoë heiningpale, stoepligte onder sinkdakke, liggies aan stringe van die huis se dak na die windpomptenk, selfs in die hoë bome.

      “Is dit ’n dorp?” vra Lüther met ’n mompelstem.

      “Dis die skema, proefplase,” verduidelik Paulie kortliks.

      “Die mense gaan slaap vroeg. Hoe laat is dit?”

      “Halfnege. Hulle staan vroeg op.”

      “Woon daar ooit mense in daai huise?”

      “Ja.”

      Maar hulle is steeds alleen op die pad. Nêrens roer daar ’n ander mens of ’n voertuig nie. Soms sien hulle ’n perd of ’n bees rustig in ’n kampie staan en sluimer. Die enigste geluide is die enjin se dreuning en Paulie en Andreas wat uitpluis hoe ver en wanneer hulle die kortpad kry.

      Paulie hou dop: ’n laagtetjie, ’n bruggie, ’n groot boom, ’n bouval. Sy en Louis het ’n paar keer hierlangs gery, in die daglig. Alles lyk anders in die donker, maar die bouval lui ’n klokkie. Daar staan twee hoë palmbome langs ’n vervalle klipmuur en sy onthou hulle spesifiek.

      “Ry stadiger, jy gaan nou-nou links draai.”

      Andreas verminder spoed, sy kop vorentoe soos hy soek. Stadiger en stadiger tot die viertrek se ligte die uitdraaipad met Boshof 80 kilometer aan die linkerkant tref. Maar dis nie so ’n wonderlike prestasie nie. ’n Reuse-kennisgewingbord van die provinsiale paaiedepartement verdwerg die wegwyser met ’n ondubbelsinnige waarskuwing.

      Versigtig! Padwerke vorentoe!

      Yslike rooi letters op ’n blitsende wit agtergrond, duidelike woorde in die taal wat die mense hier rond almal verstaan. Met onderaan in kleiner letters, ingeval hier ’n uitlander verbykom: Cautious! Roadworks ahead!

      “Andreas, jy moet draai!” waarsku Paulie.

      “Daai pad is toe!”

СКАЧАТЬ