Boomwortels in die hemel. Pierre du Plessis
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Boomwortels in die hemel - Pierre du Plessis страница

Название: Boomwortels in die hemel

Автор: Pierre du Plessis

Издательство: Ingram

Жанр: Религия: прочее

Серия:

isbn: 9780796321794

isbn:

СКАЧАТЬ ection>

      

      Pierre du Plessis

      Lux Vebi

      VIR DIE PELGRIMS VAN DIE SEWE SIRKELS:

      Alistair, Bernard, Caren, Coba, Esmé, Fanie, Freda, Irene, Jaco,

      Jeleze, Joan, Jonèlle, Karlien, Kobus, Marianna, Maruscha,

      Maryke, Michandré, Mila, Pieter, Rialette,

      Rina, Rondine, Liezél en Lois.

      DIE WOORD HET VLEES GEWORD

      Mens

      Menswees is morsig en magies.

      Om Pierre du Plessis te wees ook.

      Soms preek iemand en dit bly net ’n preek. Woorde uit ’n mond. Of iemand skryf ’n boek en dit bly ’n boek met woorde. ’n Woordeboek. Hierdie man is nie daai mens nie en hierdie boek is nie daai boek nie. Die woorde vlieg van die papier af tot binne-in jou hart. Woorde deur ’n regte mens wat al regtig gelééf het. Woorde oor ’n God wat regtig-egtig is. ’n God wat ongetwyfeld werk deur twyfelaars, huigelaars, martelaars, boemelaars, oorwinnaars … ’n God wat ’n volk vir Hom bymekaargeroep het met die naam Israel – “die een wat met God worstel”. ’n God wat die reëls op hul kop kom draai én kom vervul het. ’n God wat ewigwordend, dinamies, skeppend en tog altyd onwrikbaar is. ’n God wat mét ons is, nie eenkant op sy troon sit en wag vir sy hoofseun, Jesus, om sy ontruimingsplan hier op aarde uit te voer nie.

      Sy Naam is Saam.

      Pierre du Plessis gaan sit en skryf nie boeke in isolasie nie. Die woorde van hierdie boek is gevorm deur en by etes om tafels, in die sirkels van vertroue tussen mense, by vergaderings, bergklim, buurtbraai, ontwerp, skets, kinders by die skool aflaai, hondjies om die blok vat – uit die roumateriaal van die lewe.

      Dit is die eerlike weergee van die Lewe binne-in hierdie lewe.

      Om op te daag.

      Die digter Mary Oliver, wat onlangs oorlede is, het geskryf:

      Instructions for living a life:

      Pay attention.

      Be astonished.

      Tell about it.

      Pierre het aandag geskenk. Hy het hom verwonder. Hy deel dit in hierdie boek.

      Wat ’n uitnodiging: ’n lewe wat smeek om geléwe te word. ’n Diep, oorweldigende uitroep dat jy – en selfs ook ek! – welkom is op hierdie aarde wat wemel van die hemel.

      Dalk makliker gesê as gedaan, mag jy dink. Die skrywer is ’n man wat preek, wat mense toespreek, wat sy woord kan doen, sy Bybel ken, op sy voete kan dink. Miskien, ja. Maar hy’s ook ’n fynbesnaarde mens, ’n kunstenaar, ’n waarnemer wat dikwels veel eerder tussen ’n groot groep mense onder die tafel wil gaan sit en teken as om op die tafels te dans, of – meer stemmig – met mense te gesels.

      Pierre skryf soos ’n verkenner, nie ’n kenner nie. Hy deel meer van sy soeke as van sy vonds – die wond altyd vlak onder die verwondering. Hy leef mét onsekerheid, mét vrees, mét ’n doring in die vlees … ín Christus. Altyd ín Christus.

      En dit is braaf.

      Dis radikaal.

      Dis boomwortels in die hemel.

      FRIEDA VAN DEN HEEVER

      Julle is kinders van hierdie ou aarde.

      In hierdie wêreld is julle wortels ingeslaan.

      My wortels lê egter nie in hierdie wêreld

      ingeslaan nie. Nee, Ek kom uit die hemel.

      Johannes 8:23 (Die Boodskap)

      INLEIDING

      HIERDIE SPUL IS BESIG OM DIE WÊRELD OM TE KEER

      Hierdie boek kom al ’n ruk lank aan. Hy leef al die laaste paar jaar hier in my hart en in my siel.

      Ek wou iets neerpen wat die radikale van Jesus uitlig. Iets wat wys dat Hy nie net ’n liewe Jesus is nie, maar dat Hy subversief is, dat Hy nie so maklik verteerbaar is as wat ons wil hê nie.

      In Handelinge 17 word Jason en ’n paar ander deur die Jode na die leiers van die stad Tessalonika gesleep omdat hy vir Paulus-hulle blyplek gegee het. Hierdie Paulus en sy makkers wat besig was “om die wêreld om te keer”. Paulus wat dit durf waag om te sê dat daar ’n ander koning as die keiser is.

      Jesus is die Here.

      In antieke Rome is die keiser onder andere aangespreek as Here, Dominus, die regeerder van die ryk. Om dus te sê Jesus is die Here, is nie om te sê Hy is goddelik, soos ons dit vandag baie keer interpreteer nie, maar eerder om te sê Hy is die regeerder – die Dominus. Dit is meer ’n politieke uitlating as ’n geestelike een. Dit is hoekom Paulus in 1 Korintiërs sê dat slegs mense wat die Gees van God in hulle het só ’n rebelse en lewensgevaarlike uitlating sou maak.

      Dit is hoogverraad.

      Jesus is die oorspronklike rebel, die een wat alles op sy kop draai. Die een wat die strukture van die dag, polities en religieus, uitgedaag het ten koste van sy eie lewe.

      Ek hoop om hierdie groot idee in hierdie handvol bladsye te kan aanraak. Die boek draai dinge op sy kop, of regop. Nadat ek dit geskryf het, het ek besef hoe baie woede daar in die boek is – hopelik ’n heilige tempel-skoonmaak-woede.

      Daar is rofweg drie dele in die boek wat handel oor die manier hoe ons omgaan met drie kernaspekte van ons lewe: God, onsself en ons konteks, oftewel ons dorp. Daar is twee maniere om in hierdie drie ruimtes te beweeg en te leef: die keiser se manier of Jesus se manier. So gereeld verwar ons die twee maniere. Ons is al só lank besig met die dinge van die keiser dat ons dit al heilig verklaar het.

      Hopelik is daar vir jou iets anders hier en vat ’n paar heilige koeie dalk die pad. Hopelik help dit ons om ons wortels uit die keiser se ryk uit te trek en diep in die Hemel in te grawe sodat die vrugte op die aarde maklik bereikbaar sal wees.

      Dankie altyd vir my vrou Rialette, wat dink ek is net die beste, selfs en veral wanneer ek nie so dink nie. Dankie vir my ma, Lina, wat altyd oor my skouer loer as ek skryf en my help met die grammatika en teksverwysings (ek kan nooit onthou waar wát geskryf staan nie). Dankie vir vriende, veral die nuwe vriendskappe wat ons die laaste twee jaar in die Kaap, veral in Boston, gesluit het. Julle wys vir ons hoe die koninkryk lyk. Dankie vir die span by InVia, wat week na week saam met my leef en werk: Theo, Wilma, Frieda, Francois en Karlie. Hierdie boek is gebore by die InVia-gemeente en bevat soveel van wat ek bevoorreg was om in hierdie gemeenskap te kon leer en beleef. Dankie dat julle die wêreld saam met my omkeer.

      Genade en vrede

      PIERRE

      Kaapstad, Februarie 2019

      EERSTE WOORD

СКАЧАТЬ