Harry Griesel 1: Operasie spookredding. Sonja Kaiblinger
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Harry Griesel 1: Operasie spookredding - Sonja Kaiblinger страница

Название: Harry Griesel 1: Operasie spookredding

Автор: Sonja Kaiblinger

Издательство: Ingram

Жанр: Детские приключения

Серия: Harry Griesel

isbn: 9780798174138

isbn:

СКАЧАТЬ >

      SONJA KAIBLINGER

      Operasie

      Spookredding

      Met illustrasies deur Fréderic Bertrand

      Human & Rousseau

      Agurkieverrassing in die donker

      Alles het begin die aand toe meneer Olsen oorlede is.

      Nie een van die Radysstraat-inwoners sou eintlik verbaas wees dat hy die tydelike met die ewige verwissel het nie … hy was immers al honderd-en-twee jaar oud. Meneer Olsen was vergeetagtig, het aan ’n swak blaas gely en het nooit ’n kans laat verbygaan om sy ellendes tot in die fynste besonderhede te beskryf nie. Al het niemand daarvoor gevra nie.

      Behalwe vir al sy siektes, het meneer Olsen nog ’n ander stokperdjie gehad … sy radystuin. Asof hy die naam van die straat waarin hy gebly het tot sy reg wou laat kom, het hy elke dag die tuin omgespit, saadjies geplant en die ryp radyse geoes. Na sononder het hy ook altyd die gieter gegryp om sy plantjies nat te gooi. Eers dan het hy die voordeur gesluit, die lig afgesit en in die bed geklim.

      Dit was meneer Olsen se ritueel. Otto hou hom nog elke dag van sy dakkamer se vensterbank af dop. In die aande gryp hy gewoonlik ’n kussing en sit by die vensterbank met ’n lekker dik boek.

      Terwyl ander elfjariges televisie kyk of videospeletjies speel, verkies Otto om rillers te lees. As hy daarna nie kan slaap nie, vat hy gewoonlik sy verkyker om op meneer Olsen se tuin te spioeneer.

      Die meeste inwoners van Radysstraat dink meneer Olsen is ’n snaakse ou oom, maar Otto hou van hom. Die ou man en sy radyse help hom baie keer om behoorlik vaak te word.

      Maar vanaand besef Otto iets is verkeerd. Meneer Olsen se ritueel is anders as gewoonlik. Nadat hy die plante natgegooi het, sit hy die gieter neer en kyk reguit boontoe na die nagtelike hemel. Hy staan ’n rukkie so en toe, so vinnig dat Otto dit amper nie sien nie, val meneer Olsen agteroor in sy radysbedding. Hy bly roerloos lê en boontoe kyk met so ’n klein glimlaggie op sy lippe. Amper asof hy sy heengaan presies so voorgestel het.

      Otto het nog nooit iemand sien doodgaan nie. En as hy ’n sê in die saak kon hê, sou hy met liefde verkies het om dit nooit te sien nie. Sy lewe in Radysstraat is al klaar vreemd genoeg.

      Otto dink vinnig … Miskien het hy ’n fout gemaak en is meneer Olsen glad nie dood nie? Van dit wat hy in boeke gelees het, het hy net so ’n vae idee hoe ’n dooie persoon nou eintlik lyk. Hy het nog nie eens een op televisie gesien nie, want tannie Sharon laat hom nie toe om misdaad-flieks te kyk nie. Hy moet dringend ’n tweede opinie kry.

      “Vincent?” skree Otto terwyl hy van die vensterbank afgly. Hy klop vinnig aan die deur van die eikehoutkas wat in die hoek van sy kamer staan. “Kom gou! Jy móét hierdie sien! Ek dink daar is fout met meneer Olsen.”

      Uit Otto se kas kom daar ’n hengse lawaai. Die linkerkantse deur gaan met ’n kraak oop en ’n donkergrys vlermuis glip deur die opening.

      Selfs in die halfdonker kan Otto sien hoe die vlermuis se ogies soos goud blink. Behalwe daarvoor lyk Vincent soos enige ander vlermuis. Wel, hy lyk miskien ’n bietjie oor die muur. Sy pels het ’n paar gate in en die deurgeskaafde velletjies op sy vlerke bol soos ’n ou seerowerskip se seile as hy vlieg.

      “Daar is fout met meneer Olsen,” na-aap Vincent. Nog half deur die slaap vlieg die vlermuis op en land op die voetstuk van Otto se bed. “Asof dit nou nuus is! Wat is dit dié keer? Het hy die radyse te veel natgegooi?” Hy dink ’n bietjie na. “Of is dit weer sy swak blaas? Het hy ’n glipsie gehad? Nee, ek het dit! Het hy op sy radyse ’n glipsie gehad?”

      Otto skud sy kop. “Nee, dis nie dit nie.”

      “Gmf,” brom Vincent teleurgesteld. Stadig laat sak hy sy wollerige kop. “Nou vir wat maak jy my wakker? Ek was in die middel van ’n fantastiese droom.”

      “Het jy geslaap?” Otto draai sy oë weg van die stokstywe meneer Olsen en kyk betekenisvol na sy troeteldier. “Is vlermuise nie veronderstel om in die nag aktief te wees nie?”

      Vincent lig sy ken op. “Miskien die klomp in jóú wêreld, ou grootbek!”

      Otto sug. Partykeer wonder hy rêrig hoekom hy Vincent nog toelaat om in sy kas te bly. Hy kan erg op ’n mens se senuwees werk en is boonop nie ’n normale vlermuis nie. Vincent is nie eens ’n normale dier nie. Hy kom nie van hierdie land af nie, ook nie van hierdie vasteland nie en ook nie van hierdie planeet nie. Vincent kom van ’n wêreld waarvan Otto wel weet, maar waar hy nog nooit was nie. En daar geld ander reëls vir vlermuise.

      “Aangesien jy nou wakker is, kan jy netsowel vir my sê wat fout is met meneer Olsen,” kap Otto terug terwyl hy na die venster wys. “Ek dink hy het …”

      Nog voordat hy sy sin kan klaarmaak, span Vincent sy vlerke en gaan sit op die vensterbank. “. . . die tranedal verlaat,” voltooi hy Otto se sin. “Die ou grootgees is dood. Morsdood! Lyk asof hy sy groente van nou af van onder af gaan beloer …”

      Otto sluk. So, sy eerste vermoede was toe reg. Dood. Morsdood, weerklink dit in Otto se kop en hy kan behoorlik voel hoe hy bleek word. Vannag gaan hy sonder twyfel nie ’n oog toemaak nie. En dit nou juis op die aand voor sy biologietoets. Meneer Willemse sal elke velletjie van sy lyf af trek as hy gedurende die toets slaap. Om nie eens van die waarskuwingsbrief te praat nie. En om alles te kroon, is biologie sy gunstelingvak.

      “Moenie so verskrik lyk nie, Otto. Jy’s so wit soos tannie Sharon se brekfis-doppie-eier.” Vincent skud sy kop. “Nee, maggies man, jy moet leer om dinge beter te vat. Ek dog jy het teen dié tyd gewoond geraak aan die huis en sy inwoners.”

      Otto antwoord nie. Hy is seker veronderstel om alles van die “Oorkant” en al daai dinge af te weet. Kort nadat hy in tannie Sharon se villa ingetrek het, het hy kennis gemaak met die drie huisspoke wat hier bly. En hy het nogal van hulle begin hou. Tannie Sharon het nie ’n idee hulle bestaan nie. Niemand weet van hulle nie, behalwe Otto se beste vriendin, Emily. Sy kan nie tannie Sharon se spoke sien nie, maar bonatuurlike wesens is een van haar stokperdjies en daarom glo sy elke woord wat Otto haar vertel.

      “Spoke ofte nie! Hierdie is ’n ander storie. Meneer Olsen is dood,” fluister Otto benoud. “Of hy sal binnekort wees, as iemand hom nie help nie.” Hy vryf oor sy voorkop en probeer onthou wat hulle op skool geleer het om in ’n noodgeval te doen.

      “Waarheen gaan jy?” skree Vincent agter hom aan, maar Otto is al halfpad by die kamer uit. Hy hol deur die stikdonker gang en af met die trap na die eerste vloer, waar tannie Sharon se stokou telefoon staan. Soos gewoonlik is die kabel in ’n knoop en moet hy eers ’n paar keer hard daaraan trek, voordat hy die gehoorstuk by sy oor kan kry. Hy bel die noodnommer en hou asem op tot iemand aan die ander kant antwoord.

      “Ons het ’n krisis!” Otto praat so vinnig dat hy behoorlik oor sy eie woorde struikel. “Radysstraat nommer tien. Ons buurman, meneer Olsen, lê in die groentebedding. En hy het nog nie weer vir …” Otto kyk na die muurhorlosie aan die einde van die vertrek, “. . . СКАЧАТЬ