Название: Raaisels op Keurboslaan #5
Автор: Theunis Krogh
Издательство: Ingram
Жанр: Учебная литература
Серия: Keurboslaan
isbn: 9780798153805
isbn:
Raaisels op Keurboslaan
Theunis Krogh
Human & Rousseau
1
’N NUWE SKOOLJAAR
Jong meneer Nieuwenhuis wens vanaand hy het sy aandpak saamgebring Keurboslaan toe. Doktor Serfontein, die hoof van die groot seunskool, lyk so deftig aan die eettafel. Hy is buitengewoon lank met breë skouers en sy klassieke gesig maak hom nog meer indrukwekkend.
Meneer Nieuwenhuis kan nie glo hy gaan vir ses maande een van hierdie bekende man se personeellede wees nie. Hy het aansoek gedoen en is genooi om op Keurboslaan te kom oornag sodat doktor Serfontein hom kan leer ken. Meneer Papenfus, wat lankal hier werk, is onlangs getroud en het nou ses maande verlof. Die jong onderwyser sal in sy plek waarneem.
Hierdie reëling pas Nieuwenhuis goed, want hy wil aan die verhandeling vir sy meestersgraad werk. Hy verstaan egter nie hoekom net hy genooi is om die pos te bespreek nie.
Is dit miskien omdat sy boetie, Fanie, ’n skolier hier is? Nee, dit kan nie wees nie. Fanie is gans te stout. Wat Nieuwenhuis nie besef nie is dat die hoof graag belowende jongmense soos hy help.
Daar is ook ander gaste: pa’s van seuns wat nuut in die skool is en spesiale probleme het.
Meneer Nieuwenhuis is byna te skaam om te eet, maar mevrou Serfontein, ’n pragtige vrou met goue hare, is nie so teruggetrokke soos haar man nie. Sy gesels met elke gas asof hy die belangrikste persoon in die wêreld is.
Ook aan tafel is Eugene Krynauw, ’n mediese student. Fanie het hom as die gaafste prefek van sy jaar beskryf, en vertel hoe hy as leerling reeds ’n besonderse band met die hoof gehad het. Hy was op Keurboslaan vandat hy agt jaar oud was, en is baie goeie vriende met die Serfonteins. Meneer Nieuwenhuis weet nie hoe enige gewone mens vriende met die hoof kan wees nie, maar Krynauw is hier aan tafel, soos ’n seun in die huis. Hy noem mevrou Serfontein boonop Helen. Sy is heelwat jonger as haar man, wie se sekretaresse sy voorheen was, en nie in jare soveel ouer as Krynauw nie.
Ná ete, toe almal vir koffie na die sitkamer gaan, kom ’n mooi elfjarige dogtertjie ingestap. Soos alles wat aan doktor Serfontein behoort, is sy vir die nuwe onderwyser interessant. Tessa is die hoof se aangenome dogter. Haar ouers is doktor Serfontein se broer Adolf en sy vrou Coralie.
Tessa gedra haarself vanaand besonder goed. Sy dra ’n wit rokkie en skoene, en haar krullerige hare is gevleg en op haar kop vasgebind, soos haar tannie Helen s’n ook gekam is. Haar groot grys oë onder die lang swart wimpers laat haar sag en onskuldig lyk.
Sy groet die gaste bedees en help koffie bedien. Krynauw vermoed egter onraad. Tessa is vandag gedwing om ’n uitnodiging van Sylvia Lambrecht, ’n senior personeellid se dogter, te aanvaar. Sylvia is baie delikaat, terwyl Tessa saam met die skoolseuns grootword. Die meisies het min vir mekaar te sê.
“Het jy die middag geniet, Tess?” vra Krynauw.
“Ja dankie, Gene,” sê ’n stroopsoet stemmetjie.
Doktor Serfontein se wenkbrou flikker net effens. Maar Krynauw is nuuskierig. Hy vertrou nie hierdie sedige gesiggie voor hom nie. “Wie was daar behalwe jy? Was dit ’n partytjie?”
“O ja. Daar was baie ander kinders. Gawie Jonker en …”
“Wat? Jou grootste vyand!”
“Dit was Sylvia se partytjie, en sy hou van hom. En …”
“Dis tyd om nag te sê, Tessa,” onderbreek haar oom. Hy voel sy het nou genoeg aandag gekry.
Sy gaan na hom toe. “Goeienag, oom Roelof,” sê sy soet. Sy lig haar gesig sodat hy haar op die voorkop moet soen.
Krynauw glimlag onderlangs. Hy weet die hoof hou nie van so iets in die openbaar nie. Tessa besef dit natuurlik goed. Dit lyk of mevrou Serfontein ook geamuseer is.
Sy soen die meisie hartlik. “Slaap lekker, my liefie,” sê sy.
“Mag ek na Josef gaan kyk?”
“Ja. As jy net kyk, sal jy hom nie wakker maak nie.”
Tessa sak op haar knieë neer langs Krynauw waar hy naby mevrou Serfontein op ’n lae rusbank sit. “Nag, liefste Gene!” sê sy en soen hom op sy wang.
“Nag, Tess.”
Hy staan op, maak die deur vir haar oop, en kom met ’n breë glimlag terug.
“Daar lui die telefoon in die studeerkamer,” sê mevrou Serfontein.
“Sal ek gaan antwoord?” bied Krynauw aan.
“Nee, toemaar. Dan sal jy my tog moet kom roep,” sê doktor Serfontein.
Die hoof is dankbaar vir hierdie kans om uit die geselskap te ontsnap. Hy is lankal uitgepraat.
Maar toe hy ’n vrouestem oor die telefoon hoor, frons hy.
“Mevrou Jonker hier,” sê die stem.
“Waarmee kan ek help, mevrou?” vra hy ysig.
Mevrou Jonker klink meer soos ’n neulerige skoolmeisie as ’n negejarige seun se ma. “Net omdat ons elf jaar gelede verloof was, en ék dit beëindig het omdat ek nie langer …”
“Is dit werklik nodig om dit nou te bespreek?”
Elf jaar gelede, gedurende sy eerste maande hier, het Dora Kock aan hom ‘verloof geraak’ deur eenvoudig vir almal op ’n partytjie te sê dit is so. Die hoof was te ordentlik om dit te ontken. Sy was mooi en bedorwe, en wou die ander meisies jaloers maak omdat sy die wonderlike nuwe skoolhoof gekry het.
Doktor Serfontein het besef Dora is meer kind as vrou en dat haar ambisieuse ma haar in haar kwaad sterk. Hy het haar daarom voorlopig laat begaan, en soveel moontlik by die skool weggekruip.
Oscar Wienand, wat nou sy swaer en sakebestuurder is, was destyds ’n toegewyde senior skolier en het hom gered deur eenvoudig vir Dora te sê die hoof, wat toe reeds besig was om sy eerste boek te skryf, gaan haar liefdesbriewe laat publiseer. Wienand het die briewe gesteel en dit vir haar gaan gee, op voorwaarde dat sy die verlowing beëindig. Die onwillige verloofde het baie van die briewe nie eens oopgemaak nie!
Dis te verstane dat die verhouding tussen doktor Serfontein en hierdie vrou hierna nooit gemaklik sou wees nie.
“Natuurlik is dit nie nodig om ons kastige verlowing te bespreek nie!” sê sy nou. “Wat ek wil sê, is dit. Net omdat ek jou huweliksaanbod jare gelede van die hand gewys het, is dit g’n rede om daardie afskuwelike Tessa aan te hits om my arme seun te verkleineer nie! As jy …”
“Wat het Tessa gedoen?” vra die hoof.
“Sy’t hom vandag by die Lambrechts se partytjie aanhoudend verspot laat lyk. Sy het hoër as hy in bome opgeklim en hom uitgelag en gesê hy is ’n sissie. Daarna het sy die seuns aan die boks gesit, en toe my Gawie se beurt kom en hy nie teen die ander seuns wou boks nie, het s´y teen hom baklei.”
“Het sy hom seergemaak?” vra die hoof met ’n hoopvolle klank in sy stem.
“Nee, СКАЧАТЬ