Helena Hugo Derde Keur. Helena Hugo
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Helena Hugo Derde Keur - Helena Hugo страница 11

Название: Helena Hugo Derde Keur

Автор: Helena Hugo

Издательство: Ingram

Жанр: Контркультура

Серия:

isbn: 9780624090519

isbn:

СКАЧАТЬ slag redelik met die arme ou.”

      “Daai arme ou is nooit redelik met my nie.”

      “Wag nou! Kyk wat het hy gister gedoen.”

      “Ja, kyk wat hét hy gister gedoen – my hele middag opgemors. Dink jy hy sal van prinses Irmina verwag om een enkele uur van haar oggend op te offer ná ’n lang nagskof?”

      “Dis nie hy wat jou genader het nie, en jy was nie op ’n lang nagskof nie.”

      “Hy het my naam opgegee.”

      “Jy kon geweier het.”

      “En? Hoe lyk ek dan?”

      “Moeg gewerk, dis al.” Regina kom sit weer op die bed langs haar. “Toe maar, ek weet hoe jy voel,” paai sy.

      “Jy kan nie weet nie.”

      “Goed dan, min of meer.”

      “Het jy al ooit gevoel dat jy nie die man wil verloor met wie jy van die môre tot die aand rusie maak nie?”

      “Ek het al besef dat ek hom liefhet,” sê Regina met erns. “Dis dié dat ek vir Karel ja gesê het en teruggaan Louis Trichardt toe en vir die res van my lewe daar gaan bly.”

      Alinda se kop draai. Sy skrik toe sy agterkom watter rigting die gesprek ingeslaan het. Dis nie wat sy bedoel het nie. Sy hou haar hande op, handpalms na vore. “Stop die bus net hier.”

      “Ek luister,” sê Regina geduldig.

      “Ek is lief vir Danie, maar nie in dáárdie sin van die woord nie …”

      “O, in watter sin dan?”

      “Ek’s nie verlief nie, ek is net … Ek’s jaloers op hom, hy’s my vriend en ek het hom nodig soos ek ’n broer nodig het. Irmina kan kies tussen duisende Arabiese prinse en ek het net een Afrikaanse prins … vriend, ek meen vriend, en hy’s … hy’s myne, net myne.”

      “Jou substituut-broer?”

      “Ja, my noodsaaklike euwel.”

      “Nie jou droomprins nie?”

      Alinda lag, en haar lag klink vir haarself taamlik senuweeagtig. “Nee! Nee, goeiste, hy’s nie my tipe nie.”

      “O, en hoe moet jou tipe wees?”

      “In die eerste plek nie so maer nie.”

      “Goed, hy is aan die skraal kant, maar dis beter so, gesonder.”

      “Ja, maar dis nie mooi nie.”

      “Hy’t mooi hande en oë.”

      “Miskien, maar hande en oë maak nie die man nie.”

      “Jy bedoel sy lyf is nie sexy genoeg nie?”

      Alinda sien in haar geestesoog hoe Danie ’n druppel Tab met sy tong opvang, hoe hy met lang hale agter die branders by Jedda swem. Sy sien hom onberispelik in sy swart aandpak by ’n deftige hospitaalfunksie.

      Vinnig onderdruk sy die sluimerende ekstase. “Ek hou van spiere,” sê sy pront.

      “Tussen die ore ook?”

      “Jy weet goed dis nie wat ek bedoel nie.”

      “Alinda, Danie is briljant, ons weet dit almal. Maar in sake soos hierdie dink ’n mens nie. Jy word aangetrek en voor jy jou kom kry, is jy verlief en verlore.”

      “Is hy verlief op haar?”

      “Irmina is ’n bekoorlike jong vrou en Danie is ’n man.”

      “Wat moet ek doen?”

      “Hang af wat jou gevoel vir hom is,” sê Regina en kyk Alinda vas in die oë.

      Alinda raak ongemaklik en kyk weg.

      “Gee jou wasgoed, ek gaan die masjien aansit,” sê Regina prakties.

      Omdat dit haar beurt is om wasgoed te was en kos te maak, kan Alinda in die kamer agterbly en haar gesig in die wasbakkie in die hoek was. Teen die tyd dat hulle aandete gereed is, sal haar dikgehuilde oë beter lyk.

      Sy baai haar oë beurtelings in warm en koue water, maak haar waslap nat, vou dit dubbel en gaan lê op die bed met die lap oor haar voorkop en oë. Waarom sy altyd soos ’n brulpadda opblaas al stort sy net drie trane …

      Sy is seker Irmina kan heeldag en heelnag deur huil en nog steeds beeldskoon wees. Prinses Irmina Al Sa’ud. Sy het hulle al die een en ander oor haarself vertel. Haar pa is ’n oliemagnaat en sakeman, een van die verligte Al Sa’uds wat sy dogters – Irmina het drie susters – Amerika toe gestuur het om verder te studeer.

      Solank hulle nie hul geloof versaak nie en by die kultuurgebruike hou, is hulle vry om te doen wat hulle wil en om self die mans te kies met wie hulle wil trou. Irmina se oudste suster is ’n prokureur in die middestad van Riaad, haar middelste suster werk in die stadsbiblioteek, en die jongste studeer elektroniese ingenieurswese.

      Hulle is slim, ryk, beeldskoon en perfek, en al vier nog ongetroud. Irmina wou van kleins af ’n verpleegster wees en met ’n snydokter trou. Daar was iemand in Amerika, maar hy wou nie haar geloof aanneem nie. Alinda wonder of Danie hom sal bekeer net om Irmina te kry. As hy haar regtig wil hê, het hy geen keuse nie.

      Ag tog! Hoekom was sy gisteraand so naar met hom? Sy mis hom. Hy bel gewoonlik saans of stuur ’n simpel SMS. Vandag is hy tjoepstil. Werk natuurlik aan sy Arabies, of maak seker dat hy die etiket vir ’n paleis-majil deeglik onder die knie het.

      Alinda draai die lappie op haar oë om. Sy het ’n dowwe hoofpyn en sy raak elke oomblik meer gespanne. Haar lewe gaan so vervelig wees sonder Danie. Ná twee en amper ’n halwe jaar in Riaad het sy die stad van hoek tot kant deurgewerk, selfs Jedda ook.

      Danie is die ideale reisgenoot. Hulle was in Katar en oral in die Emirate; Dubai, Abu Dhabi, Al Khaiman, Fujairah. Hy het belowe hulle gaan een van die dae Oman toe …

      Abdel Mahmoud, die Egiptiese dokter wat saam met hulle werk, is altyd laat en sy reisdokumente is nooit in orde nie. Alinda vertrou ook nie die Egiptenare nie. Hulle is goeie dokters, maar hulle verstaan mekaar nie altyd nie. Laas keer het Abdel sonder ’n woord verdwyn en eers weer in Riaad sy verskyning gemaak. Toe hulle hom vra waar hy was, het hy hulle beskuldig dat hulle hom in die steek gelaat het. Engels beteken ook nie vir almal presies wat gesê word nie. Nee, sonder Danie kan sy Oman op haar maag skryf en met haar T-hempie afvee.

      Danie is soos ’n tweede paspoort na die mees eksotiese plekke wat die Midde-Ooste haar kan bied. Vroue reis nie alleen nie. Wel, dit kán gedoen word, maar dit word nie aanbeveel nie – veral nie vir hulle wat kontrakwerkers is en met die bruinrooi Saoedi-identiteitsboekie reis nie.

      Danie reël altyd alles. Hy neem die voortou, hy doen die praatwerk. By hom voel sy veilig – al het hy nie spiere nie, is hy seningtaai. Hy ken Oosterse gevegskuns en hy is ’n kampioenskut. Hulle mag nou wel nie met vuurwapens reis nie, maar hy sal ’n aanvaller kan ontwapen en die bordjies verhang as iemand hulle met СКАЧАТЬ