Название: Mooier as Marilyn
Автор: Anita du Preez
Издательство: Ingram
Жанр: Контркультура
isbn: 9780795801914
isbn:
Ek besef dat almal nou diep in my privaatheid staar, gefassineer deur die skamele versameling in my kas. Asof ’n rare argeologiese vonds aan die publiek se oë blootgestel word. Ek spring op en pyl op die kas af.
“Komaan, julle! Maak net my flippen hangkas toe, asseblief!”
Die eerste reaksie kom van Oom Piet en Antie Soes, wat skuiling agter Christine se enkels soek, dalk net so ontsteld oor die inhoud van my hangkas soos die ander.
“Jeez!” glip dit uit Gloria se mond, “geen wonder Vincent …”
“Gloria!” maak Liz haar stil. “Jy’t gehoor wat Caz gesê het. Hou jou in. Nie almal van ons loop rond soos ’n afslag-Krismisboom nie.”
Ek kyk verbaas na Liz. Soms kom mens se hulp so wragtig uit vreemde oorde. My verligting is egter van korte duur toe sy byvoeg terwyl sy gebiedend met ’n elegante hand na die kas beduie:
“Maar dis duidelik dat alles, ja, álles hier verkeerd gekies is.”
“Exactly,” spring Christine terug na die voorkant van die wa. “Presies soos wat ek gister vir haar gesê het! Dit lyk kompleet asof sy goed van Pick n Pay Clothing, Mr Price of PEP se rakke af gegryp …”
“Nee, nee, nee,” praat Liz haar dood. “Dis nie die probleem hier nie, dit is baie meer fundamenteel. Ek praat van kleurkodering. Ek is immers die kenner onder ons? Wat hier nodig is, is ’n wetenskaplike benadering van haar …”
Gloria waai haar foontjie rond. “Oh no, tog net nie colour coding nie. Dis so last century! Laat ek net gou …” Almal kyk tot sy weer die foontjie swaai. “Ek het gegoogle en hoor net wat sê hulle hier oor colour coding. Hulle sê …”
Liz kyk Gloria aan asof sy iets is waarin sy op ’n sypaadjie getrap het. “Goeiste, ek is immers ’n ten volle opgeleide, hoogs gekwalifiseerde kleurkonsultant. Dis my werk! So, asseblief …”
Gloria sak pruilmond op die Queen Anne-stoel neer en kap met haar vinger op haar foontjie vir nog ammunisie. Niemand steur hulle aan my wat my hangkas se toe deure bewaak nie.
“Refill, enigiemand?” Christine hou die bottel vodka omhoog. “Want dit lyk my hierdie paartie kom nou eers op dreef!”
“Verskoon my!” My stem klink vir my skril. “Kan julle asseblief julle paartie iewers anders gaan voortsit? Dit is per slot van sake my slaapkamer dié. My priváte slaapkamer! So, skoert!”
Alle oë draai na my, maar niemand loop nie. Selfs Caz laat sak haar foon en laat val die oorfoontjie.
Christine kom sit haar arm om my. “Ai, vriendin, hoe kan jy dan nou verwag dat ons jou in jou uur van nood alleen moet los, huh? Wat dink jy ís ons?”
Voor ek kan sê wat ek dink hulle is, tjip Gloria in: “Hier is nog ’n baie interessante artikel op die internet, julle. Die hele zen-ding. Baie in nou. Dit gaan oor hoe ’n mens van jou goed moet ontslae raak … minimaliseer. Marie Kondo glo as ’n ding jou nie happy maak nie, gooi jy hom uit! Briljant, nè?”
“Net mooi wat ek gister gedoen het,” mompel ek.
“Wat het jy nogal uitgegooi?” vra Christine en wys na my kas.
“Vir Vincent.”
Almal bars uit van die lag. Ek inkluis. Enige ys wat opgebou het, is gebreek.
“Nog ’n ronde?” vra Christine en almal hou hulle glase uit.
“Op sweet revenge,” sê Liz en neem twee yslike slukke.
“Hier is die cuteste quote dáároor,” sê Gloria oomblikke later. “Luister bietjie. ‘Revenge is a dish best served cold.’”
“Gloria,” sug Liz, “as jy nog een bleddie holrug geryde cliché uit daai foontjie van jou aanhaal, dan druk ek hom vir jou dwars in –”
“Wow-wow-wow, dames!” keer Christine en sit haar arms om die twee.
En net daar begin ek dink dat Vincent se eks eintlik ’n oulike vrou is van wie ek dalk kan hou. En Gloria? Snaaks genoeg is dit asof ek nou minder seergemaak is oor háár as oor al die ander van wie ek nie weet nie.
5
Die uiteinde van die saak was seker maar vooraf bepaal, met geen manier vir my om dit stop te sit nie. Vyf vasberade vrouens en twee honde op ’n missie van vergelding is onmoontlik om te stuit. Soos vloedwater met ’n sif.
Gewapen met Vincent se kaart, is ons skaars ’n dag later by Christine se plaaslike velsorg-en-harepersoon en Gloria se naelpersoon, maar toe hulle my na-uurs Waxitoff toe sleep om ’n verdomde Brazilian te kry, skop ek vas. Hulle moet maar tevrede wees met die feit dat ek toegelaat het dat die gawe dametjie my beenhare en bolip wax.
En dis bloot omdat ek nie na ’n regte ou kloosterkoek wil klink nie, dat Caz my in ’n tattoo kan inpraat – en omdat sy my belowe sy ken iemand uitstekend. Net Christine weet waarom ek ’n skoenlapper vir bokant die naam Benjamin in swart Gotiese letters gekies het. Die ander dink dis omdat ek nog nie al my varkies terug op hok het na die skok van Vincent en Gloria nie. Dalk is hulle reg.
Intussen neem Liz toe mos my garderobe onder hande. En sy’t nie gelieg nie, sy ken haar storie. Omtrent alles in my hangkas is uitgesmyt. En kyk, kan die vrou nou vir jou shop. Verál met Vincent se kaart. Van drop is daar geen sprake nie. En alles couture. Vir almal. En vir my? Alles net so effens fifties. Retro.
Maar al moet ek dit self sê: die resultaat ís verstommend! Dis nou as mens wil hê jou voorkoms moet ander verstom. Dis so ingrypend dat ou bekendes by my verbystap. En ek so pas bekommerd tot stilstand gekom het voor my weerkaatsing in ’n winkelvenster, op pad terug van ’n taamlik pynlike kosmetiese prosedure by Liz se tandarts waarvoor ek vroeg op ’n Saterdagoggend moes opstaan.
Dié platinum blonde wat grynsend uit die glas na my tuur, soos die greinerige foto op die voorblad van die laaste boek wat ek oor Marilyn gelees het, kan voorwaar nie ek wees nie, kan dit?
“Hei, hei, hei, kyk hoe lyk jý!” roep Christine teen topvolume in die gang toe ek my eie voordeur oop aantref.
“En nou?” vra ek met my verdoofde tong.
“En nou is dit ons tweede vergadering, vriendin. En jy’s laat.” Sy stap doelgerig voor my dieper die huis in. “Kom, jong, kom in, die ander wag al.” Ek volg haar soos ’n verstomde skaap terwyl ek my tong beweeg oor my seerderige tandvleise en geskropte gebit. Niemand het my iets van nog vergaderings gesê nie.
“Laat ek sien! Smile bietjie,” vra Liz toe ek skaars oor die kombuis se drumpel is. Sy plant haar vlak voor my en ek gehoorsaam maar soos ’n vendusie-ooi. “Pragtig, nè?” Sy draai na die ander vir bevestiging, asof sy self verantwoordelik is vir my spierwit tande.
Oor haar skouer sien ek Gloria en Caz by die kombuistafel sit en Christine wat by die ketel doenig is. Daar is koek op die toonbank. Almal stem saam, ja-nee, die ou ken sy storie.
Ek mag weer my mond toemaak. “Gaan hier iets aan, julle? СКАЧАТЬ