Название: Ena Murray Keur 19
Автор: Ena Murray
Издательство: Ingram
Жанр: Эротическая литература
isbn: 9780624087960
isbn:
“Ek weet. Moenie so bekommerd wees nie. Ek sal met meneer Manie praat. Onthou om gereeld die dokter se pille te drink, hoor?”
“Ek doen dit, sustertjie, maar dit wil ook nie meer help nie.”
Op pad na die plaashuis dink Miempie met deernis aan die twee ou mense. Net die gedagte dat hulle verdryf gaan word van die grond waar hulle hul hele lewe geslyt en gewerk het, laat haar weer die grense oorsteek.
Manie Bredenkamp stap haar tegemoet toe sy voor die huis stilhou. Hy hou sy hand uit en glimlag vriendelik. “Manie Bredenkamp. Aangename kennis, suster.”
Sy hou onmiddellik van wat sy sien. ’n Oop, eerlike gesig, ’n reguit kyk in die vriendelike oë. “Miempie Rust. Aangename kennis.”
“Ek het jou sien afdraai huis toe. Is daar ’n probleem?”
“Nie juis nie, meneer Bredenkamp. Maar daar is tog iets waaroor ek graag sou wou gesels.”
“Kom dan binne. Ons kan koffie drink terwyl ons gesels.”
“Dankie, maar nie vir my nie. Ek het op La Rhône tee gedrink. Ons kan sommer hier op die stoep sit. Ek sal jou nie lank ophou nie.”
Hy kyk haar vraend aan nadat hulle op die gemaklike stoepstoele gaan sit het. Hy hou ook van wat hy sien. “Wel?”
“Dis in verband met oupa Piet en ouma Sanna.” Sy sien sy verwarde frons en korrigeer vinnig, half verleë: “Ek praat van Piet en Sanna de Wee.”
“Natuurlik. Ek is bekommerd oor hulle. Die twee oues is gedaan.”
“Ja. En ék is baie bekommerd dat daar nie meer vir hulle plek op Baardskeerderspoort sal wees noudat hulle nie meer kan werk nie.”
“Ek begryp nie. Hoekom dink hulle so?”
Sy kyk hom vas in die oë. “Omdat oupa Jafta en ouma Ragel moes padgee.” Sy sien hom weer frons, vertolk dit weer verkeerd. “Ek werk heeldag met hierdie mense en ek kry dit nie reg om van ou Piet of ou Sanna te praat nie. Hulle verdien respek en daarom spreek ek hulle as oupa en ouma aan,” laat sy verdedigend hoor.
Hy knik, sy oë goedkeurend. Sy respek vir die distriksverpleegsuster styg met rasse skrede. “Heeltemal reg ook, suster Rust. Ek noem hulle ook ouma en oupa.”
“O.”
Hy glimlag. “Jy weet, baie dae verlang ek na die ou dae toe ek ’n kind was. Dinge was toe soveel minder gekompliseerd. Ek het voor hulle grootgeword. Nooit sal ek droom om hulle sommer as Sanna en Piet aan te spreek nie. Piet en Sanna de Wee is vir my nou ouma Sanna en oupa Piet.”
Sy glimlag dankbaar teenoor hom, voel amper bewoë.
Dan keer sy frons terug. “Wat ouma Ragel en oupa Jafta betref … Dis nou vier maande sedert ek die leisels oorgeneem het en my pa-hulle weg is. Ek was ontsteld toe ek op die plaas kom en hoor dat hulle dorp toe getrek het. Maar ek het verstaan hulle is versorg. Hulle bly in ’n ordentlike huisie en albei kry ouderdomspensioen. Ek wil hulle nog op ’n dag gaan opsoek en groet.”
“Hulle sal dit baie waardeer, meneer Bredenkamp.”
“Asseblief, kan ons nie maar minder formeel wees nie? My naam is Manie.”
Sy glimlag, en dit is skielik soveel makliker om hom in te lig: “Volgens ouma Sanna gaan dit nie so goed daar nie.”
“Hoekom nie? Is hulle siek?”
“Die gewone ouderdomskwale, maar dis nie die grootste nood nie. Dit gaan blykbaar om kos daar.” Hy lyk opreg ontsteld en sy verduidelik: “Jy kan self die sommetjie maak, Manie. Hulle het al die jare op die plaas gebly. Hulle het verniet gebly, hout en water was verniet, hulle het hul kosrantsoene gekry, nie waar nie? Soos meel en vleis en groente?”
“Natuurlik. Hulle het nooit honger gely nie.”
“Maar nou sit hulle op die dorp in ’n huis waarvoor hulle elke maand huur moet betaal. Die water en elektrisiteit kos ekstra. Daar is geen rantsoene meer nie. Intussen styg die lewenskoste elke dag en hulle moet dieselfde pryse in die winkel betaal as ek en jy. Jy weet hoe lyk die inflasiekoers. Mediese dienste kos wel die minimum, maar intussen moet hulle nog by die hospitaal, die kliniek of die dokter kom om dit te kry. Dit bring weer vervoerkoste mee. Ek sê jou eerlik, ek weet nie hoe party mense kop bo water hou nie.”
Hy knik peinsend. “Ek staan skuldig, suster … of kan ek jou maar Miempie noem?”
“Natuurlik kan jy.” Sy glimlag, hou al meer van dié man. “Ek bedoel dit nie as ’n beskuldiging nie, Manie. Ek noem maar net feite, en vra begrip.”
Ook sý oë vertel wat hy van die meisie dink. “Ek is baie dankbaar dat jy dit onder my aandag gebring het, Miempie. Ek glo nie my pa het doelbewus onsensitief of onsimpatiek opgetree nie. Ek glo hy het gedink hy bewys hulle ’n guns toe hy vir hulle plek op die dorp gekry het. Maar dit was nietemin onnadenkend.” Hy sug. “Jy weet, so word die kwade gevoelens in hierdie land dikwels gevoed. Daar word meestal nie doelbewus kwaad bedoel nie. Maar ons tree so dikwels onnadenkend teenoor mekaar op. Ek belowe jou ek sal onmiddellik hierop ingaan en wat oupa Piet en ouma Sanna betref, ek sal hulle vandag nog gerusstel. Hulle kan op Baardskeerderspoort bly tot die dag van hul dood. En hulle sal in hiérdie aarde ’n laaste rusplek kry.”
Sy staan op, voel die trane in haar oë. O, as almal maar hierdie gesindheid wil openbaar! “Dankie, Manie. Nou kan ek met ’n geruste hart gaan.”
Die warm gevoel om Miempie se hart vervaag toe sy met die volgende plaas se imposante rylaan opry. Grootfontein. Wilhelm en Ruda Visser se plaas. Maar sy gaan nie by die plaashuis aan nie. Met haar terugkeer sal sy by die agterdeur stilhou en uitklim om met die huishulp te gaan gesels en te hoor of sy enige kwale het. Nou gaan sy eers na die strooise. En strooise is dit. Sy dink weer aan Manie Bredenkamp se woorde en vra haar af: Is dit ook onnadenkendheid, of is dit siende blind wees? Wilhelm Visser is ’n ryk man. Hy kan sekerlik beter huise vir sy werkers bekostig. Of is dit maar net ’n geval van nie omgee nie?
Sy sug, klim uit en spreek haarself streng aan: Dis nie jou werk om jou oor Wilhelm Visser se werkers se omstandighede te bekommer nie. Dis sý gewetensaak, nie joune nie. Maar dit help nie. Toe sy ’n ruk later weer in die kombi klim, weet sy sy kan die saak nie daar laat nie. Hierdie mense se fisieke welsyn rus op háár gewete en sy durf die feit nie ignoreer nie.
Sy doen haar werk by die agterdeur waar Sarie en Siena hulle aanmeld, maar anders as gewoonlik vertrek sy nie dadelik nie. Ook die Vissers ken sy nie. Ruda Visser het sy al op die dorp en in die kerk gesien, maar hierdie dame het haar nog nooit verwerdig om eens haar kop in haar rigting te knik nie, wat nog te sê haar te vra of sy ’n koppie tee sal geniet. Maar vandag moet sy die eienaars van aangesig tot aangesig spreek.
“Is meneer Visser hier?”
“Nee, suster. Hy’s dorp toe.”
“En mevrou Visser?”
“Sy drink tee op die voorstoep.”
“Dankie.” СКАЧАТЬ