Название: Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey
Автор: Charl-Pierre Naudé
Издательство: Ingram
Жанр: Контркультура
isbn: 9780624084358
isbn:
LAASTE SON OP DIE DASHBOARD
Alwyn het maar net sy kop geskud. Die res van die storie kon hy eers ’n paar weke later uitkry. Toe ons groet het ek vir hom gesê dis reg so, later is reg.
Daardie was die middag toe ons in die dorp se teekamer, genaamd Die Teekamer, gesit het. Houttafeltjies met plastiekkleedjies. En die ongelyke vloer se rooigeverfde sement. Op die toonbank het ’n suisende handradio, van daardie met die metaalvoorskootjie, bietjie agtergrondmusiek en nuusbulletins verskaf.
Alwyn het dit juis dié keer gehad oor ’n reeks radiopraatjies deur ’n destydse voorligter wat bekend was as die Voorligter, en hy het verwys na sy invloed op Dirkie. Dirkie was een van die Voorligter se getrouste luisteraars.
“Ek self het in my jonger dae na die program geluister,” het Alwyn vertel. “Die Jeugaksie het dit aanbeveel. Ek het die praatjies goed geken. Die naam was ‘Lig van die kansel’. Net die vorige week het die Voorligter een van die vorms van trou, naamlik landstrou, afgehandel. Daarna was die verhouding en die huwelik aan die beurt, as ek reg onthou.
“Ek kan die Voorligter nog in my gedagtes hoor. Kyk, elke mens het net één lewe, geskenk deur God. Altyd die ding van één, die énigste, jy weet, dié klas van ding. Maar in elk geval, wie was ek om te stry? Die Voorligter het groot gewag gemaak daarvan dat God bepaal het ons moet hierdie één lewe in Suid-Afrika deurbring, daarom moet ons aan ons vaderland getrou wees, ons enigste vaderland.
“Ek onthou nog die dag toe hy van hedoniste gepraat het, Verdomp. Ek bedoel nou Dirkie. Hy het dit soos die Voorligter uitgespreek: jéédoeníste, ’n soort mens, soos humaniste, maar miskien nader aan ’n soort dier, het die Voorligter verduidelik. Met groot besorgdheid nogal gepraat oor hierdie mensdiere.
“Asof hy die spesie graag wou red, hulle miskien by die naaste dieretuin wou besorg omdat hy geweet het wat goed is vir hulle. Nou kyk, dis dié soort praatjies waarna my boetie gesit en luister het.
“Ek self het die Voorligter op ’n dag hoor sê: Die hedonis glo net in een lewe, nè? Maar ai, hier het ons ’n bewys van die Bose se verdraaiings. Al is daar net een lewe, moet mens nie dink hierdie lewe is die einde nie, nè? Daar is nóg ’n lewe wat wag. In die Ewigheid.
“Dié klas van ding, altyd die ‘nè’ wat die Voorligter bygevoeg het. Die Voorligter was ’n subtiele man. Altans, so het hy oorgekom.”
“’n Subtiele dieretemmer …” het ek geskerts. (In die jare tagtig is ons alreeds vryer in ons gesprekke as in die sewentigs.)
“Nou ja, jy weet dan. Dirkie het aanvanklik om een rede geluister, die musiek, die versoeke wat sou volg. Maar die woord ‘hedonis’ het hom gepla, dié dat hy my daaroor gevra het. Hy was bang vir hierdie toestand, vir die siekte van hedonisme!”
Nou het Alwyn geskater, maar met groot terugwaartse begrip vir die Voorligter, het dit gelyk. Hy was nie die opstandige tipe nie, onse Alwyn. Ek ook nie. Ons was wit mense.
“Hy’t op ’n kol begin huil, Verdomp. Toe vra ek hom: Waaroor nou, my boetie? Hy wou weet of hy ’n landsverraaier is omdat die weermag hom nie oproep nie. Hy het aangehou oor die Voorligter se ding van landstrou, en hy was daarvan oortuig hy het landstrou verbreek. Ek wou hierdie Voorligter toe eintlik net regsien, jy weet. Want wat my boetie van sedes en waardes en landstrou geweet het, was baie letterlik. Hy wou maar net tot elke prys die regte ding doen. Dis nou eenmaal die vloek van ons volk, die sogenaamde regte ding, jy weet. As jy weer sien, was dit net alles verkeerd.
“Dirkie kon goed bestuur. Dis die een ding wat hy nog in daardie stadium moeiteloos gedoen het. Dié dat my pa dit toegelaat het. Dit het ’n kalmerende effek op hom gehad.
“En toe vra hy my: Moet mens vóór weermag trou of wag tot later? Jong, wat ek van vroumense geweet het, was gevaarlik, nou nog. Maar ek het sy vragies tot die beste van my vermoë beantwoord.
“Die pad na Anna-hulle se huis het by die blinkvuurlampe, by die padwerke, verbygeloop. Jy weet mos wat dit was, daardie blinkvuurlampe? Nou ja, die karradio was aan. ’n Ent verder aan die linkerkant was die beroemde padkamp.
“Dirkie het die Voorligter se stem aan my beskryf … Hy het … hy het, verskoon my tog, meneer Verdomp,” ’n bewoëndheid het Alwyn oorval, “… hy het gesê die Voorligter klink louwarm, soos … laatagtermiddagson as dit op die dashboard skyn. Dis mooi, het ek nog gedink. Dit het so … verganklik geklink. Hoe sê die Prediker? Soos dou op die grassies. Of was dit Langenhoven? Die twee is baie naby aan mekaar,” het Alwyn gesê.
“In elk geval, hy het my gevra of ek ‘Master Jack’ ken, my boetie. Dié liedjie was sy gunsteling.”
Ek onthou self die refrein, die soort liedjie wat bekend staan as ’n treffer, en op ’n plek op die radio genaamd die treffersparade aangetref kon word: “It’s a strange, strange world we live in, Master Jack.” Ek het dié woorde vir Alwyn herhaal.
Hy het wrang geglimlag. “Nou toe, jy weet dan.”
7
ROOIPERD SE STORIE
Laat April 1973
Die bewoners van die Lyksovlakte was ootmoedig van ingesteldheid. Maar binne hul geslote wêreld het hulle oopkop gekyk. Hul benadering tot die blinkvuur is ’n skitterende voorbeeld hiervan.
Daar was reeds verskeie karre by die padwerke geparkeer om die skemertydse skouspel te besigtig. Rooiperd Ferreira, die Mobil-vulstasieienaar, was ook daar met sy twee klein kindertjies en sy plomperige vrou, in hul Morris. Dit was ’n gebruik by hulle om elke tweede of derde dag hier te kom sit in die gesinsmotor.
Mense het met flessies tee of koffie en toebroodjies geparkeer, in Ford Escorts en Dodge-bakkies en Toyotas, Datsuns ook, en natuurlik in ’n Volksie of twee. Op ’n veilige afstand, want hoewel sommiges die blinkvuur as padlampe bestempel het, was daar genoeg rede om te wonder of dit nie meer as dit is nie.
Die blinkvuur was sekerlik uitsonderlik. So het selfs ek destyds gedink. Daar was nie so baie dinge op die Lyksovlakte om na te kyk nie. Wat word dit nou weer genoem? Besienswaardighede.
“Het jy self geglo, of was jy een van die skeptiese siele?” het Rooiperd my gevra. Dit was nie so lank gelede nie, van waar ek hier sit en skryf, ’n paar weke voor sy besigheid gesluit het, dat ons in sy olierige kantoortjie langs die werkswinkeltjie gepraat het. Rooiperd was onwennig lank met ’n krulboskasie wat soos ’n boks op sy kop sit. Mens sou kon sê hy had ’n kwaf, maar van die deurmekaar, manlike soort. In die ou dae was sy hare nog baie rooi.
“Bedoel jy oor Dirkie Verwey?”
“Ja.”
“Skepties,” het ek geantwoord. “Aanvanklik.”
Dirkie het die bakkie langs die ander karre ingetrek. “Ek het nog nie besef dis hy nie, die onsigbare een,” het Rooiperd vertel.
Dit was destyds nog nie ’n uitgemaakte saak waarheen die Nuwe Pad sou lei nie. Sommiges het gesê reguit hemel toe, maar hulle was die sterk gelowiges. Vir seker had politiek, en geheime politiek boonop, iets met die bou daarvan te doen. “Vorster himself ordered this road”, het die bombastiese padingenieur, Jackson, alewig by die karvensters gebulder. Die ou het so ál beduiende tussen die karre rondgestrompel, bruinbottel in die hand.
“Aren’t they special?” СКАЧАТЬ