Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey. Charl-Pierre Naudé
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey - Charl-Pierre Naudé страница 6

Название: Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey

Автор: Charl-Pierre Naudé

Издательство: Ingram

Жанр: Контркультура

Серия:

isbn: 9780624084358

isbn:

СКАЧАТЬ Gelukkig was hy manlik in sy oortuigings.

      Altus se spesiale afluistervertrek was in Pretoria. Maar hy had ook satellietkantoortjies naby die buurstate. Hy was altyd in “civvie”-drag, soos dit ’n polisiegenie betaam.

      Dit was reeds etlike ure ná donker. Beethoven was vergete. Selfs Rudi Neitz het gekom en gegaan.

      By die sitkamervenster aan die buitekant het twee bruin oë deur die toegetrekte gordyne geloer. Binne het die twee mans hande op die heupe met mekaar gestaan en liggies heen en weer gewieg. “Cry to Me” op die draaitafel.

      Die oë was Dirkie s’n. Sit sy pa sy kop op die oom se skouer? Dit lyk of hulle wil huil.

      Net toe bemerk Boer sy seun. Vir ’n talmende oomblik het die pare oë mekaar aangestaar, harte versteen. Altus was nog van niks bewus nie. In dié stadium was hy waarskynlik op die gebruis in sy vriend se are ingestel, wat vir hom soos die Augrabies moes geklink het.

      Toe trek Boer los. Hy stamp sy vriend uit die pad, gee twee atletiese spronge tot by die venster en ruk die gordyne oop, ruk aan die handvatsel van die stoepdeur. Dirkie laat spaander, ’n windhond agterna. Nog twee windhonde skiet vorentoe vanuit die donker. Altus gryp na sy ore oor die geraas.

      “Vang hom!” en “Die bliksem!” het Alwyn tot in sy kamer gehoor.

      Boer trek die seun aan sy nek op die gras plat, daarna trek hy hom met een hand aan sy skof by die sitkamer in, ander hand oor die kind se mond. Die kind laat stroom geluidloos trane terwyl sy voete ampertjies sweef. Die windhonde besnuif sy enkels asof hy slaggoed is. Die deur word toegemaak, honde buite.

      “Met jou gaan ons praat,” sê Boer.

      “Jissus,” sê Altus. Hy vryf krampagtig oor die gladde skulp van sy geoliede hare en sak in ’n stoel neer.

      “Iets verkeerd?” kom Ans Verwey se hoë, benoude stem van anderkant die binnedeure. “My liewe ma,” sê Alwyn.

      “Niks!” was sy pa se antwoord. Hy het dit teruggeskree. Die musiek word afgehaal.

      “Jy mag nóóit énigiemand vertel nie, hóór? Oom Altus sal dit weet. Sy bynaam is Ore. Verstaan?” Boer het dringend en hard by Dirkie se oor gefluister.

      “Oom Altus sal jou vang en doodskiet soos die vyand. Kyk hom in sy oë!” Sy een hand het Dirkie se gesig hardhandig in Altus se rigting gedraai.

      Altus het strakker as die galg gelyk. “Kom hier, seun. Het jy ’n meisie?” Hy het met sy sysagte stem gepraat.

      Stilte.

      “Jy sal uitvind. Wat jy doen moet die regte ding wees. Met die regte … soort mens.”

      Altus het plegtig geklink. “Ek gaan jou vir die res van jou lewe afluister, seker maak jy vertel niemand nie. Hoor?”

      Dirkie se oë het geblink van verslaentheid en die twee mans se blikke vermy. Toe hy begin huil, ontslaan Altus hom gemaak vriendelik met ’n piets op die boude.

      Boer het Beethoven op die draaitafel teruggesit. Vir gesag. Ter wille van die kunste. Aan Dirkie het hy gesê: “Moenie spioeneer nie,” en hom uitgestuur.

      Later, net voordat Altus na die gastekamer verkas het vir die nag het Alwyn koffie ingedra en die volgende gehoor: “Boer, is iets verkeerd met hom? Hy is so geslote soos ’n tor.”

      “Hy is nie myne nie, Altus.”

      “Mmm … Daar is al hoe meer vreemdes in ons midde. Soos Liddell se meidjie laas jaar, wat so deur die Bose bevlieg was. Wat sal doktor Verwoerd van alles dink?”

      * * *

      Eenkant op sy tafelblad was Alwyn se bord met oorskiet. Wanneer Altus kuier, het die gesin in hul kamers geëet.

      Hy was agter sy lessenaar met skoolwerk besig toe Dirkie by sy kamer ingestrompel het vir troos. Die kind was verpletter oor wat gebeur het.

      “Dit was nadat ek vroeër die petalje met my oor teen die ysglasdeure afgeluister het,” het Alwyn my vertel.

      5

      WAT ALWYN MY NOG VERTEL HET

      “Hy was lateraan net nie by sy volle positiewe nie. Dit het gelyk of hy wegkruip vir die wêreld, jy weet, binne-in homself. En, nou ja, ons weet waar dit vir hom geëindig het. My pa wou hê die weermag moet hom oproep dat hy uitgestryk kon word.”

      Ons het in die voorvertrek van die drukpers langs die Heidelberg op regopstoele gesit en gesels, ek en Alwyn. Hy het op my aandrang oor sy broer gepraat. In die oorkantste hoek was my drukpers se marmersteen, wat iemand teen dié tyd seker as ’n grafsteen iewers gebruik.

      Nadat ek hom vertel het ek wil ’n boek skryf, het Alwyn ingestem tot ’n reeks onderhoude. Dit was toe al die vroeë jare tagtig en ons het af en toe bymekaargekom wanneer hy van Bloemstad oorgery het om vergeefs na die plaas, wat teen hierdie tyd in sy hande was, om te sien. Hy het homself reguit gemaak teen die stoel se rug en ’n veraf blik in sy oë gekry.

      “Ek weet nie hoeveel jy weet nie, Hermanus, so ek begin maar voor. Dirkie was so twintig. Ons praat 1972. Sonder matriek uit die skool. Hy het steeds in die aangeboude woonstelletjie by my ma-hulle gewoon. In sy eie private wêreldjie.

      “Dié jaar, soos die vorige jare, het hy maar gewag om in die weermag op te gaan. Hulle sou nog nie geweet het van sy probleme nie.

      “Terloops, wanneer gaan dit eindig, Verdomp, hierdie skynvrede? Diensplig gaan seker een van die dae drie jaar word? Ek stel dit self maar so lank moontlik uit.”

      “Ja-nee, bly dis nie my deel nie. Een van die oues van dae, mos,” skerts ek.

      “In elk geval,” sê Alwyn, “jaar ná jaar is Dirkie se oproep oorgeslaan. ’n Jammerte, want hy was nie universiteitsmateriaal nie. En daar was die probleem dat hy nie getel kan word nie.”

      Dit is tot vandag toe een van die vreemdste stories wat ek in my lewe gehoor het.

      “Wat gaan van jou word as hulle jou nie kan tel nie! was my ma se kommer. Sy sou aanhoudend dié soort uitroepe kwytraak en huilerig raak. Jy kan die situasie verstaan, Hermanus. Dit het gelyk of Dirkie die vermoë kortkom om amptelik te bestaan.”

      Wat ’n hartseer storie, en ek maak toe maar ’n soort grappie om die lug dunner te kry. “Amper soos die swartes …”

      Alwyn het gelag, maar sonder oortuiging. “Amper só. Elk geval, die kadette-onderwyser, ou Smittie, wat so gesluk het aan sy woorde dat my ma gesê het hy sluk lugaartappels, het gedink Dirkie is ’n weermagrisiko. Sy gevoel was moenie hoop nie. Maar pa was onkeerbaar. Hy’t self Tempe toe gery en gevra dat my broer opgeroep word.

      “Verdomp,” het Alwyn Verwey gesê en in vertroue na my oorgeleun waar ek agter my proefleeslessenaar sit. “Sy verdomde vorms kon óók nie getel word nie!” Ons skater. Maar ek besef die saak was ernstig.

      “In elk geval, die intussenlewe vat mos maar sy loop. Toe ek een naweek van Bloem af by my ouers kuier, vertel Dirkie my van sy besoekies aan Anna. So twee of drie. Hy was volslae verlief op dié Anna-meisie. Waar in die wêreld is sy nou? In elk geval, aanduidings was sy was erg oor hom СКАЧАТЬ