Название: Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey
Автор: Charl-Pierre Naudé
Издательство: Ingram
Жанр: Контркультура
isbn: 9780624084358
isbn:
“Jy moet geseënd bly,” sê Reent en omhels haar. Die vrou stink ’n bietjie vanoggend. Waar bevind Ans se Christen-self haar tog?
“Jy moenie lat jou gedagtese jou oud dink nie,” waarsku Reent onverwags. Ans trek haar uit die omhelsing weg, verskrik deur die vroumens se binnekennis oor wat sy aan die dink was. Reent glimlag net, die glimlag wat haar gesig so mooi by die kante oplig.
En meteens sien Ans weer die meisie voor haar, die jong borsies met die sponsagtige tepels met die tekstuur van vetplant.
Toe buig Reent agteroor en steek haar lootagtige arms uit om Ans by die elmboë vas te hou, op ’n afstand, sodat sy haar gas met haar legendariese glimlag kan groet, met die uitgestuurde diskus daarvan.
Ek wonder soms of Reent geweet het van die groot gevaar wat oor Ans en haar gesin se lewe gehang het. Sy was tog ’n siener. Volgens oom Willempie het sy. Maar vir Reent was die einde nie die einde nie en sy het nie vir Ans van haar wete vertel nie.
Ans sien die plat tienderjarige magie in Reent se agteroorte. En onder die heuplap se windsels sien sy ’n vlesige gevleg wat onbedoeld uitstoot uit die mik, bultend soos ’n luiperd se tong. Hier moet ek weg, dink sy. Gotta, nee!
Nóg ’n verbasende sinnetjie van die veldvrou het haar bygebly: “Nie die een nie, maar die vele.” Wat sou dit tog beteken? In elk geval, daar was vrede in dié woorde.
Al die pad met die grondpaadjies langs het haar hart gesing. Sy het by haar plaashek ingery, en net toe val daar groot druppels uit die hemel. Wanneer laas? Ek is geseënd met Dirkie, het sy gedink.
En met Reent.
* * *
“My ma het nogal in besonderhede van die kuier vertel,” het Alwyn aan die begin van een van ons kuiertjies gesê. Ek het my diktafoon aangeskakel. Ek kon Ans, wat in daardie stadium reeds baie, baie ver van ons was, duidelik in Alwyn se sinne en stembuigings hoor saampraat en dink.
VOETNOOT
Rentia beskryf hoe Hermanus sy storie aan haar voorgelees het, in episodes, jy weet, net soos hy dit geskryf het. Vandag is ons meer liberated as toe, C-P. Ek het gebloos vir Hermie se beskrywings. Stille waters, diepe grond! Het hy by my probeer aanlê? Ek was nogal ingenome met daai gedagte. Hy het die bladsye hardop gelees en hulle so een vir een op die leiklip van die stoep laat val, dit was nog nie gekram nie. Eers het dit vir my gevoel of hy daar en dan bylas, jy weet, want daar is wildeganse en watervoëls in daai aand se hoofstuk gewees en twee keer het die loeries by die swembad aan die onderkant van my grasperk geraas. Toe onthou ek. Wraggies! Die titel was reeds daar: Wildeganse.
Uit: <[email protected]> Subject: Kwê-kwê
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.