Название: Ena Murray Keur 13
Автор: Ena Murray
Издательство: Ingram
Жанр: Эротическая литература
isbn: 9780624082125
isbn:
“Dis nie nodig nie. Die hotel stel motors met chauffeurs tot die beskikking van hul gaste. Maar ek gaan nou weer in stad toe. Kan ek u miskien êrens aflaai?”
Elmarie en Deon draai om. Die vreemdeling staan voor hulle. Deon is duidelik onverhoeds deur die vriendelike aanbod betrap.
“O! E … e … ja, maar ons wil u nie moeite aandoen nie,” begin hy onseker, maar die vreemdeling vee sy beswaar met ’n handgebaar opsy.
“Geen moeite nie. Ons kan maar ry. Hierlangs, asseblief.” Hy lei hulle na ’n duur Amerikaanse motor wat voor die hotel geparkeer staan. Die deur word vir Elmarie oopgehou. “Waarheen wil u gaan?”
“Na die polisiekantoor, asseblief,” antwoord Deon.
Op daardie oomblik sien Elmarie hoe die glimlag op sy gesig verstrak en die oë vernou. ’n Eienaardige trek flits oor sy gesig. Dan stap hy om en skuif agter die stuurwiel in. Sy stem is egter doodnatuurlik toe hy laggend opmerk: “Dis ’n eienaardige plek om eerste te besoek – veral as dit die eerste keer is dat u in Kaïro kom.”
Elmarie se mond gaan oop om te verduidelik, maar sy voel skielik ’n druk in haar sy en hoor Deon sê: “O, ons wil maar net navraag doen oor iets. Niks besonders nie.”
Die vreemdeling antwoord nie hierop nie, maar begin hulle al die vernaamste plekke uitwys en meer besonderhede verstrek van hierdie interessante stad. Hulle ry deur straatjies waar kraampies op die sypaadjies aangebring is en al wat denkbaar is te koop aangebied word.
“Hierdie plekke maak natuurlik ’n fortuin uit toeriste, want hulle gee voor dat omtrent alles egte vondse uit ou grafte is. Die toeriste sluk dit natuurlik,” verduidelik die vreemdeling.
“O, maar dan is dit hier …” roep Elmarie uit en sluk weer haar woorde vinnig in toe sy die tweede keer ’n pomp in die ribbes van Deon ontvang.
Die vreemdeling neem vlugtig sy blik van die verkeer af.
“U wou sê? Dis hier waar wat?”
Elmarie aarsel. Dit was op die punt van haar tong om te sê dat dit seker hier was waar Marcelle vir haar die hangertjie gekoop het. Maar Deon vertrou die vreemdeling om die een of ander onverklaarbare rede nie. “Nee, ek wou maar net sê dis seker hierdie deel waarvan die gidsboek praat, waar ’n mens alles van ’n speld tot ’n olifant kan koop,” antwoord sy dus nou ontwykend.
Weer word die donker oë na haar gekeer en hierdie keer rus sy blik ’n oomblik langer op haar. Elmarie voel intuïtief aan dat hy weet dit was nie wat sy oorspronklik wou sê nie.
“Ja. Dis seker hier,” sê hy dan droogweg. Daar heers ’n rukkie stilte en dan kom die motor tot stilstand. Hy wys met sy vinger toe hy die deur oophou. “Daardie gebou. Sal u my verskoon as ek nie saamstap nie?”
“Seker. Baie dankie,” verseker Elmarie hom vinnig en wag dat Deon hom ook moet bedank, maar dié kyk die ander man vas aan.
“Verskoon my dat ek dit vra, maar ek het gewonder hoe u netnou in die hotel geweet het dat ek ’n taxi wou ontbied? Ons het Afrikaans gepraat. Ken u die taal?”
Elmarie is verbaas, maar die vreemdeling is kalm.
“Nee, ek ken nie u taal nie, maar u het die woord taxi gebruik – en dis ’n internasionale woord.”
Deon lyk effens afgehaal, asof hy nie verwag het dat die vreemdeling so glad sal kan verduidelik nie.
“Ja. Ja, natuurlik.” Deon lyk selfs skaam vir sy ooglopende agterdog. Hy hou skielik sy hand uit. “Ons het ons nog nie aan mekaar voorgestel nie. Ek is Deon Rabie en dis juffrou Wiid.”
Deon se hand word geneem en so ook Elmarie s’n.
“My naam is so lank dat u dit nie sal onthou nie. My vriende noem my egter Hoessein.”
“Dan …”
“Ja?”
Elmarie voel ’n blos oor haar wange spoel. Daar volg ’n stiltetjie terwyl die vreemdeling wag dat sy haar sin moet voltooi. “Sy wou seker sê dan is u ’n Oosterling. Daar was ’n bietjie twyfel oor daardie feit by ons.” Dis Deon wat namens haar antwoord.
Die donker wenkbroue trek saam in ’n skerp frons.
“U meng u nie met Oosterlinge nie?”
Elmarie voel asof sy in die aarde kan sink. Wat het Deon besiel om so iets kwyt te raak? Die vreemdeling het aanstoot geneem, dit kan sy sien. Hy keer direk na haar.
“Juffrou? Selfs nie as die betrokke Oosterling beter maniere as sommige Westerlinge het nie?”
Hierdie keer is dit Deon se beurt om effens rooi om die boordjie te raak. Die skimp was baie duidelik. Elmarie werp Deon ’n verergde blik toe en kyk dan die man voor haar reguit in die oë.
“Nee, natuurlik maak dit nie saak nie. Ek is baie bly dat ek u ontmoet het … e …”
“Hoessein.”
“Hoessein,” gehoorsaam sy.
Die strak gesig verhelder weer in ’n glimlag.
“Ek is ook bly dat ek u ontmoet het.” Hy ignoreer Deon totaal. “Ons sien mekaar weer.”
Elmarie bewaar die swye toe sy en Deon na die polisiegebou aanstap. Deon is vandag glad nie in ’n goeie luim nie. Maar geen mens kan hom daaroor verkwalik nie. Die arme man is vol bekommernis. In elke vreemdeling sien hy ’n moontlike ontvoerder.
Die onderhoud met die polisie is teleurstellend. Die ou bekende “geen steen word onaangeroer gelaat nie” is al troos wat hulle ontvang.
“Die groot probleem is natuurlik dat juffrou Wiid heel waarskynlik nie meer in die land is nie. Ons soek maar hier rond omdat sy hier verdwyn het, maar indien sy oor die grens gesmokkel is, is dit byna onmoontlik dat ons haar sal opspoor.”
Deon se wange het ’n sieklike, bleek kleur.
“U bedoel dat die moontlikheid sterk is dat ons haar nooit weer sal sien nie?” sê-vra hy met ontsetting in sy stem.
“Ek sê dit nie, maar dis iets wat in gedagte gehou moet word. Wat meer is, selfs al is sy nog in Egipte, sal dit ’n blote gelukskoot wees as ons haar opspoor. Dit is die Ooste dié, meneer Rabie. Hier verdwyn mense asof die aarde hulle ingesluk het. Hier is soveel plekke waar hulle weggesteek word. Daar is net soveel dinge wat met ’n vreemde meisie kan gebeur wanneer sy hier spoorloos verdwyn. Dis eintlik maar net ’n wanhoopsdaad van die kant van die polisie om na haar te probeer soek. Ek erken ruiterlik dat ek mismoedig raak wanneer ’n geval soos juffrou Wiid s’n by ons aangemeld word. Ek is jammer, maar dis niks meer as reg dat ek u vooraf waarsku om nie te veel te verwag nie. Ek belowe dat ons ons uiterste bes sal doen, maar ek wil u geen valse hoop gee nie.”
Daar is wanhoop in albei harte wanneer hulle weer by die hotel aankom. Reeds toe hulle nog na die polisiehoof gesit en luister het, het die beeld van die vreemdeling Hoessein voor Elmarie se geestesoog verskyn. Miskien sal hy hulle kan help … Maar Deon СКАЧАТЬ