Suster Lilian se swangerskap & geboorteboek. Lilian Paramor
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Suster Lilian se swangerskap & geboorteboek - Lilian Paramor страница 4

Название: Suster Lilian se swangerskap & geboorteboek

Автор: Lilian Paramor

Издательство: Ingram

Жанр: Секс и семейная психология

Серия:

isbn: 9780798159029

isbn:

СКАЧАТЬ gevestig op jare se vertroue en sorgsaamheid, en die kans is kleiner dat die onvermydelike spanning van die babastadium jul huweliksbootjie sal laat kantel. Die begeerte na ’n baba is gewoonlik baie sterk wanneer jy ouer is. Ma’s en pa’s wat die babastadium voorop stel, word minder ontstel deur die inbreuk wat dit op hul persoonlike ruimte en tyd maak. Hoewel julle gewoond is aan jul roetine en jul eie ruimte, is Baba gewoonlik ’n baie welkome toevoeging tot die gesin. ’n Mens het hope geduld nodig vir ’n baba, en ouer ouers is gewoonlik meer geduldig.

      Ouer ouers het dikwels geen of aansienlik minder finansiële kwellinge, wat ’n baie belangrike stresfaktor uitskakel. Geldelike probleme kan allerlei onsekerhede en spanning veroorsaak, wat ouerskap nog meer ingewikkeld maak. Babas en kinders voel gou oormatige huislike spanning aan en dit kan hulle ongelukkig maak, wat tot ’n bose kringloop aanleiding kan gee. Dit kos nie soseer baie om ’n kind groot te maak nie, maar die lewenskoste kan ’n probleem wees as julle nog nie jul hulpbronne opgebou en gekonsolideer het nie. Dit geld veral indien julle nie veel ondersteuning van jul uitgebreide familie kry nie.

      Ná die onafhanklikheid van die volwasse lewe kan dit ’n groot uitdaging vir ouer ouers wees om 24 uur op diens te wees en op ’n baba se dikwels onvoorspelbare patrone en behoeftes te moet reageer, veral as jy baie georden en doelwit-geöriënteerd is. Die speelsheid van jonger ouers kan ’n waardevolle ouerskapsvaardigheid wees wat die las help verlig, en ouer ma’s en pa’s kan ewe goed dié faset van hulself herontdek.

      ’n Baba later in jou lewe kan moontlik jou vriendskappe met jou tydgenote wat nie dan babas het nie, beïnvloed, hoewel daardie potensiële probleem vinnig aan die verdwyn is noudat al hoe meer vroue hierdie opsie verkies. Jy voel dalk jy het minder tyd oor om die lewe te geniet teen die tyd dat die kinders groot is, maar die meeste mense sê dat die verlengde jeugjare voordat hulle met ’n gesin begin het daardie behoefte bevredig het.

      Jul verhouding

      Almal weet babas red nie huwelike nie, en tog vestig paartjies met tanende verhoudings verstommend dikwels hul hoop op ’n baba om hul huislike geluk te herstel. Dit kan wonderlik wees om saam oor jul kind se hebbelikheidjies en persoonlikheidseienskappe te glimlag in die wete dat julle as pa en ma die enigste mense is wat hom of haar werklik verstaan en so intens liefhet. ’n Kind kan egter nié ’n diep kloof tussen julle genees nie.

      Miskien koester ons onrealistiese verwagtinge van die huwelik of liefdes-verhoudings, maar net soos ons die eienskappe wat ons vir ons loopbane nodig het, slyp en oefen, behoort ons dieselfde te doen vir hierdie tydrowende en uiters belangrike aspek van ons lewe. Ek glo dat die volgende aspekte onontbeerlik is vir elke verhouding:

      •respek vir mekaar se individualiteit;

      •tyd wat daarin belê word om jou maat goed te laat voel;

      •gereelde kommunikasie sonder sarkasme;

      •die vermoë om te vergewe en vergifnis te vra.

      Deur tyd te maak om saam dinge te doen, skep julle ’n vrugbare teelaarde vir die koestering en beoefening van hierdie vaardighede. En wanneer die wittebrood-stadium van jul verhouding onvermydelik verbygaan, onthou dat dit natuurlik is, en dat ’n sterk, sorgsame vriendskap die verhouding op die duur sal voed.

      Wees eerlik met jouself voordat jy jou op die pad na ouerskap begewe:

      KYK DIE WERKLIKHEID IN DIE OË

      •Kan jy en jou maat jul probleme oorkom?

      •Baklei julle voortdurend op ’n destruktiewe manier?

      •Respekteer julle mekaar?

      •Deel julle ’n verskeidenheid soortgelyke belangstellings en vriendskappe?

      •Ondersteun julle mekaar in jul persoonlike ambisies?

      •Gun julle mekaar die ruimte om as individu te ontwikkel?

      Moenie die fout begaan om swanger te raak as jy eenvoudig voel dat die kloof tussen julle al hoe wyer gaap nie. As julle eers ’n baba het, skep dit die gevoel dat julle vir ewig aan mekaar gebind is. Van hoeveel vriendskaplike egskeidings het jy al gehoor, waar die kinders se belange voor die ouers s’n gestel word? En boonop is daar dan die kwessie van toegang en finansies om albei maats se lewe verder te kompliseer, en om verder sout in die wonde te vryf. Dink aan jou kind se skoolgeleenthede, gradeplegtigheid en huwelik. Hoeveel hartseer en ongemaklikheid gaan dit nie alles vir die hele familie inhou nie?

      Ek is ten gunste daarvan dat huwelike gered moet word en wil jou aanmoedig om in ’n positiewe, sorgsame gees aan jul verhouding te werk. Maar moenie die druk onderskat wat babas en kinders op ’n reeds wankelrige verhouding kan plaas nie.

      Berei jou geestelik en liggaamlik voor op swangerskap

      Vroue en hul maats besef toenemend dat liggaamlike en geestelike voorbereiding op bevrugting, swangerskap en ouerskap die beste vorm van voorkomende mediese sorg is. Matige oefening dra by tot ’n gesonde swangerskap. Eet verkieslik so gereeld moontlik vars, gesonde kos en beperk verwerkte en kitskos sover moontlik. Dit is ewe onontbeerlik om rook en ander dwelms te vermy, net die heel nodigste medikasie te gebruik en alkohol voor en gedurende swangerskap streng te beperk.

      Sekere aanvullings soos foliensuur kan jou algemene gesondheid verbeter en ’n gunstigste omgewing skep vir bevrugting. ’n Mens kan nie maklik ’n oordosis foliensuur inneem nie. Gebruik sowat 400 mg daagliks van ongeveer drie maande voor bevrugting en hou daarmee vol gedurende die eerste trimester. Jy hoef slegs ander vitamiene en minerale te gebruik indien jy nie gesond eet nie of dikwels olik voel. Dit is heeltemal in orde om selfs voordat jy swanger word ’n algemene swangerskapsaanvulling soos dié wat jou dokter sal voorskryf, of een van die bekende handelsname wat by apteke en gesondheidswinkels te koop is, te begin gebruik.

      DIE BELANGRIKHEID VAN INDIVIDUALITEIT

      Die heel belangrikste is om te besef dat gepaste individuele voorbereiding nodig is om optimale gesondheid vir sowel ma as baba te verseker. Probeer vasstel in watter een of twee van die volgende groepe jy tuishoort en pas die betrokke voedings- en lewenstyladvies toe. Jy sal agterkom dat dit op ’n diep psigobiologiese vlak sin maak. Die uitwerking van ’n paar aanpassings behoort jou gou te oortuig dat jy jou swangerskap positief kan beïnvloed. Hierdie stelsel van holistiese medisyne het ’n lang en ryk geskiedenis. Aangesien dit op gesonde verstand berus, hou hierdie soort lewenstyl duidelik waarneembare voordele in.

      Ek gee dwarsdeur hierdie Swangerskap- en geboorteboek wenke vir elke groep wat nuttig te pas sal kom tydens swangerskap, kraam en die vroeë stadium van ouerskap.

      GROEP 1: ENTOESIASTIES, MAAR ANGSTIG

      Is jy een van daardie komplekse vroue wie se gedagtes soos kwiksilwer is, met blitsige waarnemingsvermoë en ’n visioen van ’n miljoen dinge wat jy weet jy sou kon doen, as dit nie was dat jou energie in sulke kort, skerp sarsies vrygestel word nie? En jy weet dat jou kreatiewe sappe nie net sal vloei nie, maar iets waarlik wonderbaarliks sal voortbring, as jy jouself net kon dwing om ’n bietjie meer en beter te slaap. Jy is natuurlik ’n regte kommerkous wat jou oor alles en nog wat, van die kleinste tot die grootste probleem, kwel. Jou energievlakke val vinnig en jou wisselvallige eetgewoontes help nie juis om dit in stand te hou nie. Jy ly voortdurend aan onderliggende spanning, wat veroorsaak dat jy nogal baie gerusstelling nodig het. Die vooruitsig van swangerskap, geboorte en moederskap dra net verder by tot jou angstigheid, want jy wil jou uiterste bes doen – maar sal СКАЧАТЬ