Название: Winterman, somerhart
Автор: Alexa Slabbert
Издательство: Ingram
Жанр: Короткие любовные романы
isbn: 9780624069492
isbn:
“Professionele gewoonte?” vra hy toe hy langs haar inskuif.
Sy kyk onderlangs na hom. “Wat bedoel jy?”
“Om mense so ondersoekend te beskou en hulle met jou oë te meet. Dit kom seker maar saam met die ander beroepsrisiko’s van model wees. Toe, wat drink jy? ’n Glasie chardonnay?”
“Nee, dankie, fonteinwater vir my. ’n Professionele gewoonte . . . ek drink net my pa se chardonnay,” terg sy. Chardonnay is haar gunstelingwyn, maar sy voel so ietwat aspris. ’n Man soos Simon maak haar dadelik astrant en op haar perdjie. Sy is seker hy weet meer van haar as wat sy graag sal wil hê hy moet weet. Sy bemarkingspan sou wel die portefeulje artikels wat al oor haar verskyn het vir hom gegee het.
Hy is nie die soort redakteur wat nie sy huiswerk sal doen voordat hy soveel geld sal uithaal om haar vir ’n fotosessie te betaal nie. Sy reputasie is dié van ’n taamlik genadelose mediaman wat werklik meer op sport wil konsentreer, maar hy besef deeglik dat sy tydskrif een keer ’n jaar die inspuiting van die swemdraguitgawe nodig het, ter wille van die sirkulasie en advertensie-inkomste. Dis lastig, maar nodig.
Hy kyk sydelings na haar, maar Donna is onversteurbaar. Sy het lankal geleer dat die Simon Conradies van die wêreld mans is wat vroue met ’n afstandkontrole wil beheer. Jy moet elke stukkie vroulike lis in jou gebruik om hulle uit hul gemaksone te kry. En vreemd genoeg, dis presies wat sy wil doen, vir welke rede ook al.
Sy neem ’n lang teug water en kyk hom vas in die oë. “Dans met my, asseblief. Ek is in ’n dansbui,” nooi sy met ’n sjarmante glimlag.
Kom ons kyk hoe hanteer jy dié uitdaging, meneer Komkommerkoel, dink sy met ’n bietjie leedvermaak.
Sy skuif die spaghettibandjies van haar geblomde rok oor haar skouers op en trek haar hare vir ’n oomblik op haar kop saam sodat haar lang oorbelle haar hals ten beste laat vertoon. ’n Romantiese Franse ballade word sielvol deur ’n eksotiese donker sangeres gesing en sy neurie saggies saam.
Hy hou sy hand uit na haar. “Net ’n waarskuwing: ek doen nie die losdansding nie, Donna van New York,” sê hy koel en lei haar na die dansvloer. En toe hy haar teen hom aantrek, merk hy op: “En los maar die modelfoefies soos om jou hare heen en weer te gooi. Dit werk nie op my nie.”
Donna is dadelik siedend kwaad en wil van hom wegbeur. Maar hy verstewig sy greep toe die tempo versnel. Sy lig haar kop op en kyk hom uitdagend in die oë. “Moenie jouself vlei nie.”
“So, dan is verleiding tweede natuur vir jou,” spot hy.
“Wie sal weet?” antwoord sy koel. Sy sal hom nie laat agterkom sy is ontsteld nie.
Hy beweeg so ligvoets soos ’n professionele danser op die meesleurende musiek, en teen haar sin voel sy hoe sy tog begin ontspan.
“Lyk my jy is nogal ’n raaisel,” merk hy op.
“Wat bedoel jy?”
“Jy weet ek laat nie sommer enige swemdragmodel in Sport SA toe nie. Toe ek my huiswerk oor jou gedoen het, het ek uitgevind jou naam is bekend en gewild, maar daar is nie veel mense wat jou werklik ken nie. Klaarblyklik is jou reputasie ook reiner as leliewit.”
Die musiek se tempo versnel nog en sy arm vou stywer om haar middel. Dis nogal ’n vreemde sensasie om in soveel harmonie te beweeg met iemand vir wie jy vies is, dink Donna. Hy is ’n meesterlike danser, maar heeltemal te selfvoldaan vir haar.
“Wie gee jou die reg om my te oordeel op sterkte van hoorsê? Jy ken my van geen kant af nie.”
“Maar ek ken meisies soos jy. Beeldskoon, bederf en eiesinnig. En dan kom jy nog boonop van ’n voorste Bolandse familie – ’n wynsnob daarby.”
“O ja, en alle vroue is eners. Dis duidelik waar jý vandaan kom!”
“Ek het darem ook vleiende dinge oor jou gehoor. Jy is toegewyd, jy weet waarheen jy op pad is en jy is ongelooflik gefokus.”
Sy is skielik nie lus om verder met hom te stry nie. Dis ’n vreemde troos om in sy arms te wees en so stewig vasgehou te word, en dis heerlik om sy liggaamshitte teen haar klam vel te voel. Vir ’n vlietende oomblik dink sy dat sy iets in sy arms voel wat sy nog nie in iemand anders s’n gevoel het nie, maar sy verwerp die gedagte dadelik.
As hy maar die soort man was wat ’n vars tuinroos vir jou sou pluk. Maar nou is hy Simon Conradie, siniese tydskrifredakteur en adrenalienslaaf. Die kans dat daar ’n romantiese snaar in sy hart skuil, is sekerlik nul.
Miskien tog nie, dink sy verbaas toe hy haar skielik nader trek en sy wang teen hare hou, asof hy presies bewus is van haar brose gevoelens.
“Wat niemand vir my gesê het nie, is dat jy volmaakte voete het, en daardie enkelbandjie aksentueer dit pragtig,” fluister hy by haar oor.
Simon Conradie: hartebreker van formaat, is beslis deel van sy lewensbeskrywing, dink Donna. Maar is sy kompliment opreg? Hoe sal sy in elk geval weet?
Die musiek word stil en sy wikkel haar uit sy omhelsing. Sy stap alleen weg van die dansbaan, verby die palms tot op die beskutte halfmaanstrand.
Hul stryery op die dansvloer het haar ontstel, maar nie soveel soos sy aanraking nie. En dan nog die kompliment daarby . . . . Sy is so verward dat sy nie eens ’n naam aan haar gevoelens kan gee nie.
Hoe is dit moontlik dat Simon haar so kan ontstel? Sy wil eintlik hê alle emosie wat met hom te doen het, moet oor haar waai soos die warm aandwind. Sy wil nie so omgekrap oor niks wees nie. Miskien sal dit help om ’n ver ent met haar voete in die vlak water te gaan stap.
’n Delikate geur dryf haar tegemoet vanaf die vanillaboorde. Sy draai een of twee keer om om te kyk of hy haar nie dalk volg nie . . . om te wat? Verskoning te vra? Nog ’n kompliment aan te dra? Daarvoor is Simon Conradie te arrogant.
Toe sy veel later na haar kamer stap, sien sy hoe die Sport SA-span lekker op die dansvloer jol. Chloe en Michelle is die voordansers met die moutia-danse op die kamtolet-musiek van sang, tromme en vreemde snaarinstrumente soos die zez. Hulle wikkel tot hul lang lywe onderdeur ’n lae dwarslat, tot almal se vermaak.
En toe is dit tyd vir die stadige en sensuele Mauritiaanse sega-danse. Die swaaiende rompe van die tradisionele dansers word ’n reënboog-kleurespel in die lig van die vuur soos hulle om en om dans. Van waar sy op haar kamer se balkon staan en kyk, dink Donna dat haar kanse om die voorbladmeisie te wees met elke passie verskraal as sy sien hoe Chloe en Michelle toenadering by Simon soek. Selfs hy waag ’n dans of twee wat hy nie vroeër die aand sou waag nie, en sy dog hy dans net vas!
Haar kans vir die voorblad is eintlik ook nul omdat sy nogal lanklaas voor die kamera was. Sy geniet loopplankwerk veel meer, hoewel sy weet dat jy ’n langer professionele lewe as model het indien jy die twee kombineer. Hier skuins ná vyf en twintig het sy al begin met haar opleiding as mode-ontwerper, en daar het al ’n paar van haar swemdragontwerpe die paal gehaal. Sy weet sy sal nie meer baie lank voor die kameras of op die loopplanke in aanvraag wees nie. Dis maar die vereiste van haar beroep: hoe jonger, hoe beter. Maar haar loopbaan het al op sestien begin, en sy sal eerder vroeër as later ’n nuwe rigting in die modebedryf wil inslaan.
Tot dan is daar nog ’n paar uitdagings, sowel as haar Armani-rok-weddenskap met Benita en Christina. Sy dink aan die bemoedigende СКАЧАТЬ