Название: Winterman, somerhart
Автор: Alexa Slabbert
Издательство: Ingram
Жанр: Короткие любовные романы
isbn: 9780624069492
isbn:
Maar Chris is anders. Op ’n goeie manier.
“As jy jou nou klaar aan my verkyk het,” spot hy, “sal ek graag jou geheim wil hoor.”
Donna bloos effe omdat sy onkant betrap is. “Met hierdie geheim gaan ek graf toe, anders is my reputasie vir ewig daarmee heen,” glimlag sy. “En jy sal jou wat verbeel dat ek my aan jou verkyk. Ek kom nou net van Milaan af, en jy weet wat sê hulle van die Italiaanse mans. Kom help my liewer afklim!”
Sy bring haar perd tot stilstand en verlang eensklaps na Sachen, haar swart hings op hul wynplaas in die Boland. En sommer skielik na haar ma, Ellen, en haar pa, Paul.
Haar ouers is sout-van-die-aarde-mense. Ma Ellen is ’n spesiale vriendin meer as ’n ma, die stylvolle vrou van ’n wynboer. As Donna aan haar dink, dink sy aan ’n roos in die oggendson. En natuurlik, aan al hul winkelekspedisies, want sy en haar ma is mal oor skoen-inkopies. Pa Paul kan dit nie verstaan nie; sy natuurlike habitat is die wingerd. Winkelsentrums vermy hy soos die pes. Nie dat die fyner dinge in die lewe by hom verbygaan nie. Hy het altyd ’n outydse sêding of twee gereed wat jou bybly. Beproefde ou boerewyshede . . .
Maar soos jare en jare van reis en ’n lewe op die loopplanke van die wêreld haar geleer het, trek Donna haar gedagtes doelbewus terug na werk. Na hierdie koraaleiland, die fotosessie wat voorlê en Chris. Dis ook iets wat hom anders maak: sy ken nie nog ’n fotograaf wat kan perdry nie.
Chris glip van sy perd af en stap kaalvoet oor die sand, fyn soos spookasem, na haar. Hy strek sy hande uit en swaai haar gemaklik van die perd se rug af.
“Erken dit nou maar: jy is uitgevang,” sê hy laggend. “Jy was besig om my intens te bestudeer. Ek dink nie Italiaanse mans is jou voorkeur nie, eerder Boerseuns soos ek.”
“Wat insinueer jy?” vra sy toe hy haar nie los die oomblik toe haar voete die sand raak nie.
Hy kyk na haar met ’n onpeilbare emosie in sy oë en draai dan skielik sy kop weg sodat sy net sy profiel kan sien. Hy trek haar vir ’n oomblik nader aan hom, sy hand op haar skouer. Sy reik uit daarna en hou dit vir ’n oomblik teen haar wang.
“Donna . . . ek kon jou nog nie uit my gedagtes kry ná daardie dag op Welgevonden nie,” mompel hy asof hy nie weet wat hy wil óf mag sê nie.
Sy stemtoon laat haar haar oë vir ’n oomblik toemaak. Vergete is die sand onder hulle voete en die warm seën van die reën wat oor hulle stroom terwyl hulle woordeloos in ’n halwe omhelsing staan. Selfs die geproes van die perde raak net agtergrondgeluide.
Sy voel hoe ’n warmte oor haar vel kruip van waar sy hand onderdeur haar hare na die sagte plekkie agterin haar nek geskuif het. Te veel gedagtes, te veel emosies oorstroom haar. Ook bittersoet herinneringe aan hul vorige ontmoeting. Soos speldeprikkies het sy dié gedagtes ook so af en toe ervaar, maar dit heftig ontken. Chris is immers ’n gesogte fotograaf en ’n bekende vroueverleier. Dit sal nie help dat sy enige verwagtinge koester nie.
Toe hy sy kop oorbuig om haar te soen, lig sy hare op en vir ’n oomblik raak haar lippe aan syne. Dit verander in ’n teer oopmondsoen. Sag soos somerreën.
“Met jou in my lewe . . .” prewel hy teen haar lippe.
Maar voordat Donna haar kan oorgee aan die verruklike sensasie van haar lyf wat reageer op Chris se oorrompelende nabyheid, kyk hy oor haar skouer en laat haar stadig los. Hy tree effe terug en neem sy perd weer aan die teuels.
Donna draai om en kyk strand-af na waarheen sy blik verskuif het.
’n Entjie van hulle af kom Simon Conradie, redakteur van Sport SA, kop onderstebo aangestap asof hy nie hul omhelsing gewaar het nie. Toe hy by hulle kom, steek hy sy hand uit om Chris te groet, en hulle klap mekaar op die skouers soos wat mans nou maar eenmaal doen. Duidelik ou bekendes.
Simon se blik verskuif na Donna. Daar is vir ’n oomblik ’n ongemaklike stilte.
“O, ek dog julle ken mekaar,” sê Chris toe hy skielik kliek hulle bekyk mekaar net op en af. “Simon, dit is Donna Joubert. Donna, Simon, Sport SA se redakteur.”
Simon bekyk haar met sy kop skuins gehou voordat hy berekenend sy donkerbril met al twee hande afhaal en opvou om in sy sak te plaas.
As sy alles moet glo wat sy van hom gehoor het, het dié idilliese eiland pas ’n deel van sy bekoring verloor, dink Donna.
Sy oë glip oor haar reënnat lyf, maar net vlugtig. In sy vyf jaar as Sport SA se redakteur het Simon die allermooistes – bekendes, beroemdes en supermodelle – sien kom en gaan vir die tydskrif se swemdraguitgawe. Hy kan hulle in ’n oogwink opsom.
Skoonheid is vir hom ’n kommersiële bate wat hom help om tydskrifte te verkoop en sy tydskrif se sirkulasie te verhoog. Hy is skepties en sinies oor beeldskone vroue, al word hy hoe gereeld saam met hulle gesien op die sosiale bladsye van koerante en tydskrifte.
Maar in die enkele oomblik wat sy oë op Donna gerus het, het hy tot sy verbasing nie die bekende en goedbesoldigde internasionale model gesien nie, maar net ’n pragtige, onopgesmukte langbeenmeisiekind in die ligte reën, met onversorgde nat krulhare en ’n vlekkelose gelaat sonder enige grimering.
Haar nat sarong kleef teen haar bene aan sodat elke kurwe oorbeklemtoon uitstaan teen die grou lug. Hy wens sy wil vir ’n oomblik reguit na hom kyk, maar sy is te besig om haar perd nader te trek, ’n sagte uitdrukking op haar gesig. Duidelik ’n diereliefhebber. Haar smal hand met die dun pols rus liefdevol teen die perd se fluweelsagte nek terwyl haar kop teen hom aanleun.
Dan kyk sy wel op, met ’n blik in haar bruin oë wat Simon sy asem laat intrek. Dis ’n blik van verwondering oor die reënboog wat skielik, toe die son uitgekom het, sierlik op die horison verskyn het.
Daarvandaan sak haar blik stadig na hom, maar sy kyk net skalks na hom. Sy lig haar wenkbroue ’n fraksie voordat sy wegkyk. Al twee is oorbewus van die vonk wat vir ’n oomblik tussen hulle was toe hulle oogkontak gemaak het.
As jou hart al ooit gebreek was, sal jy dit verstaan, meneer die redakteur, dink Donna. Daardie oomblik wat ’n kykie is op iets wat kon wees. ’n Ontmoeting van hart tot hart. Maar nou is ons weer terug op die aarde, nie in ’n fantasiewêreld nie.
Sy bekyk Simon een keer van kop tot tone, en kyk dan neerbuigend weg.
Simon is nie gewoond daaraan om geweeg en te lig bevind te word nie. Hy merk die reëndruppels wat oor haar hals versprei lê en soos lipglans op haar vol lippe blink. Haar donker wenkbroue boog in ’n onuitgesproke vraag, maar haar blik is reeds afgewend.
Chris kyk ongemaklik van die een na die ander, bewus van die onderstroom tussen hulle.
Simon vou sy arms oor sy bors en plant sy voete stewig in die sand. “Ja, ek sien dis Donna Joubert, ek ken haar portefeulje goed genoeg. Welkom uit Milaan, Donna. Ek is bly jy kon jou New York-afspraak vir ons uitstel,” sê hy kil.
Vandat hulle begin het om vanjaar se uitgawe saam te stel, wou sy redaksie die bekende Donna Joubert insluit by die modelle vir die swemdrag-uitgawe. Daar is uitgewei oor hoe goed sy oorsee vaar as loopplankmodel en hoe wyd bekend sy is vir haar skoonheid en sjarme. Hy kan nou nie eens meer onthou wie se voorstel dit was nie, maar hy was self erg daarteen gekant. Die bemarkingsmense het hom egter oortuig hoeveel ekstra eksemplare haar naam sal verkoop. Die syfers het dit vir hom beklink; dit sal werklik aan hulle ’n rekordsirkulasie besorg en die advertensies СКАЧАТЬ