Название: Tiferet Yisra'el. Die roem van Israel
Автор: Marzanne Leroux-Van der Boon
Издательство: Ingram
Жанр: Религия: прочее
isbn: 9780796316363
isbn:
Hulle bestel iets te drinke in die koffiekroegie by die spuitfontein midde-in die druk Ben Gurion-lughawe. Henok neem ’n lang, behaaglike sluk van sy bier. Hy hou Marc ’n rukkie takserend oor sy glas dop en sy donker oë vonkel.
“Marc, jy wonder seker waarom ek so uit die bloute hier opdaag.”
Marc lag. “Hoe lank moet ek dan nou nog wag om jou rede te hoor?”
Henok se gesig versober effens. Hy kyk ’n rukkie af in die skuimende lagie op sy bier asof hy oor sy woorde nadink. Toe sê hy: “Marc … ek het uitgevind dat ek van Etiopies-Joodse afkoms is.”
Dié aankondiging laat Marc byna in sy bier stik. Hy is sprakeloos.
“Nooit!”
“Ek was natuurlik net so verbyster soos jy,” sê Henok na nog ’n oomblik se stilte.
“Hoe … waar het jy dít uitgevind?”
“Lang storie.”
“Begin sommer by daai tyd toe julle hier in Jerusalem was, want toe dog ek al iets lol by jou – met dié dat jy so gefassineer was met alles wat Joods is. Maar dat dit só iets kon wees, het ek nooit vermoed nie.”
“Nee, ek ook nie. Maar jy’s reg, hier in Jerusalem al het ek gewonder waarom die land en die mense my emosioneel so verskriklik aanraak. Ek bedoel ons het tog nie veel van die tradisioneel Christelike plekke besoek sodat dit uit dáárdie oord kon kom nie. Ek was eintlik maar hier omdat Sarah so ’n begeerte gehad het om Israel te sien. Maar toe ek eers terug by die huis was, word ek toe al hoe meer bewus van ’n geweldige verlange na Jerusalem, wat my nie weer wil laat los nie. Dit was vir my baie snaaks, want ek het dit nog nooit ervaar met enigeen van die ander plekke in die wêreld waar ek was nie. Ek het nie eens toe ek in Italië en Engeland en Finland in exile was só na my eie land verlang nie.”
Hy sluk aan sy bier en Marc merk op: “Ek moet sê ek was self verbaas dat jy steeds met ons kontak gehou het, en dat jy in die Kaap dienste bywoon by daardie ‘Joods-Messiaanse gemeente’, soos jy dit noem.”
“Ja, dit was vir my ook ’n vreemde soort … hunkering, of wat jy dit ook al wil noem, want ek is nie eintlik so ’n sentimentele ou nie. Ek het na daardie gemeente toe gegaan omdat ek ‘toevallig’,” hy maak krom vingers in die lug om aanhalingstekens aan te dui, “van hulle gehoor het. En toe ek daar kom, voel ek ek hoort daar. Weet jy …” Hy bly ’n paar oomblikke stil, en Marc sien verwonderd hoe sy mond liggies bewe.
“Toe ek die eerste Vrydagaand daar aankom, gaan sit ek sommer agter iewers. Maar toe kom daar ’n vriendelike jong man na my toe en gee my ’n kippah aan. Dis die gebruik daar, sê hy vir my, dat mans hul hoofde bedek. En toe ek die wit satyndingetjie op my kop druk …” Hy kyk vinnig af in die glas bier in sy hand en byt op sy onderlip totdat hy sy stem kan beheer. “Toe kom daar ’n soort heimwee oor my wat ek nie geweet het bestaan nie.”
“Ek weet …” Marc moet keel skoonmaak. “Ek weet waarvan jy praat.”
“Ek het gedink jý sal weet … In elk geval, die volgende oggend was dit toe hul Shabbatdiens waar die Tora uitgehaal en die parashah bespreek is. En toe daardie rabbi sy tallit oor sy kop trek en die tzitzit so teen sy lippe druk … toe raak ek mos totaal bewoë, Marc. Sonder dat ek iets daaraan kon doen.”
Sy oë raak weer rooi en hy druk sy vuis teen sy mond, maak keel skoon. Toe hy weer sy stem vertrou, sê hy: “Meteens het ek onthou dat die Naam van die Almagtige in die knope van daardie tosseltjies is …” Nog ’n keer moet hy stilbly. “Dit was vir my ’n geweldige verleentheid dat ek wou aanhou huil. Maar dit het nie juis gelyk asof iemand dit raaksien nie. Maar toe hulle die Tora uithaal … twee mans met gebedsjaals aan wat die pragtige Tora-rol uit die ark haal, en die mense met hul gebedeboekies wat daaraan raak en dan soen … toe loop ek agterlangs uit, want toe dag ek nou gaan ek ’n gek van myself maak, want ek kon nie meer my trane keer nie. Ek het sommer afgeloop na die see toe, net ’n blok daarvandaan. Ek dag so by myself: Is ek nou van my sinne beroof? Ek het nog nooit tevore so iets oorgekom nie. Ek wou nie eens dink wat Sarah sou sê as sy dit moes aanskou nie. Sy was gelukkig daardie tyd ’n paar weke lank by ’n simposium in Amerika.”
“Ek het nie geweet daar is so ’n sterk Messiaanse beweging in die Kaap nie,” sê Marc toe Henok se woorde opdroog.
“Ek ook nie. En ek was veral nie daarop voorbereid om só vreemd te reageer nie. Trouens, ek het daar en dan besluit dis nou absoluut nonsens. Die plek sien my nie weer nie. Hoe moes ek aan my kollegas by die universiteit verduidelik dat ek heeltemal besimpeld geraak het nadat ek één maal in Jerusalem was? Ek kon my die uitdrukking op hul gesigte goed voorstel.”
“En Sarah?”
Henok skud sy kop. “Jong, soos ek vermoed het, was dit eenmaal te veel vir Sarah. Sy kon nie verstaan hoe ek as ’n bevryde Christen nou só beïnvloed kon raak deur mense wat terug onder die wet is nie. Niks het gehelp nie, hoe ek dit ook al probeer verduidelik het. Dis ook hoekom sy nou nie saamgekom het nie. Maar ek kom later daarby uit.”
“Kom nou eers by die Etiopiese konneksie.”
Henok sug en vee met sy oop hand oor sy voorkop. “Wel, ek het twee Shabbatot oorgeslaan en toe het ek maar weer teruggegaan na daai Messiaanse mense toe. Ek kon net nie anders nie.”
“Ek verstaan,” sê Marc weer.
“Maar toe gebeur daar ’n ander ding … Jy kan jou seker voorstel dat ek net omtrent die enigste swart mens in die gemeente was, maar toe ek die tweede keer nadat ek teruggegaan het daar kom, sê een van die vroue daar vir my: ‘Jy’s Joods, nè?’ Sommer net so.”
“Wraggies?”
Henok knik. “Ek het dit natuurlik onmiddellik ontken. Maar toe sê sy: ‘Ek vra maar, want jy lyk verskriklik Joods en ek dag jy’s dalk een van die Etiopiese Jode.’ Ek het haar verseker dat daar nie so ’n kans was nie. Maar wil jy glo, toe ek die aand by die huis kom en Sarah al gaan slaap het, het ek my tog in die badkamerspieël heel goed gaan bekyk … En ek dink toe, ja, ek sou nogal vir ’n swart Jood kon deurgaan.”
Marc kyk hom aan. “Dis waar,” sê hy.
“Dié nag kon ek toe nie slaap nie. Daar was soveel om uit die ver verlede te probeer opdiep. Aan die een kant het dit vir my gevoel ek is regtig besig om van die spoor af te gaan, en aan die ander kant was daar in my ’n soort … gedrongenheid. Of noem dit wat jy wil. Kyk, ek het geweet my ma wat my grootgemaak het, was nie my regte ma nie. Ek het geweet my eie ma is in 1952 met die geboorte van my suster dood. Ek was toe nog nie twee jaar oud nie. My pa is binne ’n kort tydjie weer getroud, want hy is alleen agtergelaat met ’n kleintjie van twee en ’n pasgebore baba. Hy het ’n baie goeie vrou gekies – ma Elisabet, en sy en my pa het nog vier ander kinders gehad. Tog, toe ek daardie nag so lê en dink, het ek besef dat daar altyd ’n ander vae herinnering by my gebly het …”
Hy skommel ingedagte die laaste bietjie bier in sy glas. So lank dat Marc vra: “Jy bedoel oor jou eie ma?”
“Ja. ’n Beeld van iemand met lang sagte hare, en van kerse.”
“Kerse?”
“Ja, maar dit was baie vaag. Tog moes dit genoeg gewees het om my, toe ek omtrent tien was, vir my pa te laat vra wie my regte ma was en hoekom hy nooit oor haar СКАЧАТЬ