Название: Wag-'n-bietjiebos van die liefde
Автор: Ena Murray
Издательство: Ingram
Жанр: Короткие любовные романы
isbn: 9780624067016
isbn:
Hul oë draai ontsteld na die tannie, en sy lyk skuldig en verleë. Natuurlik het hy gelyk! Natuurlik gaan ’n kind middae ná skool reguit huis toe om te gaan eet ... en gaan sit nie en ginnegaap met ’n vreemde tannie oor ’n berg roomys in ’n kafee nie! Maar sy het nooit sover gedink toe sy die twee ...
“Ek is jammer, meneer Van der Merwe. Ek het gefouteer. Dit was onnadenkend van my. Ek is bevrees die tweeling sal nie nou ’n bord kos kan behartig nie, en dis alles my skuld.”
“Ja, jý is die sondaar en ek sal seker van onregverdigheid beskuldig word as ek sê dat die tweeling ook straf verdien omdat hulle ongehoorsaam was aan my opdrag dat hulle direk ná skool huis toe moet kom.”
Die stelling “óók straf verdien” stem haar onrustig. Sy sluk. Sy is nou verspot. Die man kan haar tog nie saam met die tweeling pak gee nie! Sy kyk versigtig op. Of kan hy dalk? Hy lyk baie, baie vasberade. Haar blik sak vinnig af na die twee paar pleitende oë regs van haar. Op stuk van sake is dit alles die tannie se skuld! As sy nie met hulle by die skoolhek kom lol het nie, sou hulle nie nou hier gestaan en kriewelrig oor hul sitvlakke gevoel het nie.
“Hulle wás ongehoorsaam.” Sy kyk vererg op. “Maar hulle is tog net kinders! Is jy nooit as kind verlei deur ’n roomys nie?”
Hy kyk in haar flitsende oë af. “Dan erken jy dat jy ’n swak invloed op my kinders het? Dat jy my kinders verlei tot ongehoorsaamheid? Ek hoop die verslae wat jy skryf, juffrou Erwee, is pynlik eerlik.”
Voordat sy aan iets kan dink om te sê terwyl sy hom in ontstelde ongeloof aanstaar, vervolg hy met ’n sarkasme wat ’n drang in haar ontketen om die man warmplek toe te stuur: “My seuns is verlei deur ’n vroumens ...” Hy kyk na die twee. “Dit sal nie die laaste keer wees nie, maar dis my vaderlike plig om hulle sommer vandag te laat verstaan dat ’n mens soms gestraf word vir dade waarvoor jy nie verantwoordelik is nie.”
Sy kyk hom nou behoorlik stomend aan. Vaderlike plig se voet! En as hy hom besope drink – soos mevrou Reynecke hom hier gekry het – waar is sy vaderlike plig dan?
“Jy gaan hulle nie slaan nie!” bars sy los en tree verdedigend en uitdagend voor die twee in.
“Nee, juffrou. Ek gaan beslis nie my kinders slaan terwyl jý die skuldige is nie. Maar hulle gaan gestraf word oor hul ongehoorsaamheid.” Hy kyk oor haar skouer. “Gaan sit by die tafel.”
Hulle gehoorsaam verlig. Dit was darem so op ’n nippertjie na!
Hul pa draai om en verdwyn by ’n deur in. Lisbe bly hoog en droog staan, nie seker of sy moet loop en of sy moet sit nie.
Oomblikke later kom hul pa weer binne, plaas twee borde gekookte kos voor elk van die seuns en stap weer uit. Die tweeling se oë draai hulpsoekend na haar. Sy kyk magteloos na hulle. Dit lyk na ... e ... vleis, as daardie swarterige hompe vleis is ... en pampoen en ... daardie wit goed is seker veronderstel om rys te wees. Al herkenbare gereg op die spyskaart is die ertjies, duidelik uit ’n blik opgewarm, en aartappels nog in die skil.
Pa kom binne met sy bord kos, sit dit op die tafel neer en gaan sit dan self sonder om te wys dat hy van haar bewus is. Hy klop op die tafel en rammel ’n gebed af.
Hy tel sy mes en vurk op. “Julle kan maar eet,” en val dan self weg.
Die tweeling begin met ’n versigtige ontdekkingstog, maar hul pa val met mening weg en Lisbe staar hom aan. Honger is die beste kok, sê hulle ... en hierdie man is honger.
Lisbe verplaas haar gewig na die ander been. Sy begin voel asof sy deel is van die meubels. Is sy veronderstel om te loop of wat?
“Toe, Pietie, hou op krap in jou kos. Eet! Pa het dit self gekook. Dis lekker, nè?”
“Ja, Pa.” Maar die ogies dop wit in hul kasse om. Genade, hy begin naar voel ...
Lisbe lees die tekens reg. Kyk, dis nou kindermishandeling hierdie! Hy gaan die kinders sowaar daardie brousel indwing totdat hulle opgooi! Het die man dan nie ’n hart nie?
“Meneer Van der Merwe, dis nie snaaks nie! Die kinders gaan siek word van ... van daardie ... brousel ...”
Hy skuif sy leë bord opsy, kyk ysig op. “Insinueer jy dalk dat ek my kinders wil vergewe?”
“Vergewe?”
“Vergiftig dan.”
“Nee, natuurlik nie! Dis net ...”
Hy stoot sy stoel agteruit, wys met die kop: “Julle twee kan maar kamer toe gaan en met jul skoolwerk begin.”
Die seuns laat hulle nie twee keer nooi nie en verdwyn in die gang af.
“Kom sit, juffrou.”
“Ek dink ek sal liewer gaan ...”
“Kom sit, juffrou.” Dis ’n bevel en sy bevind haar op Pietie se stoel, reg voor Pietie se bord. Die bord word so effens nader gestoot. “Oortuig jouself dat daar niks met die kos skort nie.”
Haar stemtoon ewenaar nou syne. “Jy is kinderagtig. Ek het geensins geïnsinueer dat daar iets met die kos skort nie.”
“Eet dit dan,” beveel hy.
Lisbe kyk misnoeg na die bord kos voor haar. “Ek is nie honger nie ... dankie.”
“Dis jammer. Die tweeling is ook nie honger nie, maar iemand gaan daardie kos eet. Ek het nie verniet die hele oggend voor die stoof gestaan nie. Dan moet die tweeling maar al die oorskiet opeet.” Dit lyk of hy sommer die daad by die woord wil voeg.
Lisbe keer vinnig: “Nee! Nee ... e ... ek sal dit eet.”
Hy knik styf en kyk veelbetekenend na die mes en vurk. Sy tel dit op. Die vleis is erg verbrand en sy swoeg aan die bitter koutjie in haar mond. Eindelik sak dit genadiglik af en sy knip haar oë vinnig. Sjoe! En daar wag nog ’n groot stuk! Die suiker is oordadig oor die pampoen gebruik. Dit help darem vir die bitter wat die vleis nagelaat het. Met elke skep van die vurk, sprei die ryspap uit en maak maar net weer die bord vol. Sy gaan dit nie oorleef nie ...
Sy weet nie hoe sy dit regkry nie – suiwer koppigheid om hom nie weer die beste daarvan te laat afkom nie – maar sy oorwin al die onheile op die bord voor haar. Sy besef dat indien sy die kos nie opeet nie, hy sy sadisme op sy kinders gaan uithaal ... arme bloedjies. En dit ís suiwer sadisme om te verwag dat enige mens hierdie sogenaamde kos moet afsluk.
Ietwat blekerig stoot Lisbe die leë bord tot reg onder sy neus. “Dankie, meneer Van der Merwe. Ek sal beslis onthou om dit in my verslag te skryf.”
“Dis baie gaaf van jou, juffrou.” Hy buk vorentoe en skielik staan Hansie se bord kos voor haar. “Terwyl jy dit so geniet het ... Die mense van Keerboomstraat kan nie bekostig om kos te mors nie, weet jy?”
Sy weet haar oë word glasig. Oor haar dooie liggaam ... “Ja, dit was nog altyd vir my onverstaanbaar. Daar is selde genoeg geld vir kos, maar vir ander gebruike is daar altyd genoeg. Dis ’n eienskap van Keerboomstraat.”
“Ander gebruike? O! Ek begryp. Natuurlik, ja. By so ’n genoeglike ete moet ’n mens ’n drankie geniet. Verskoon СКАЧАТЬ