Keerkring van die hart. Ena Murray
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Keerkring van die hart - Ena Murray страница 3

Название: Keerkring van die hart

Автор: Ena Murray

Издательство: Ingram

Жанр: Короткие любовные романы

Серия:

isbn: 9780624066422

isbn:

СКАЧАТЬ want Grasbult is nie so groot dat die mense nie maar, soos in die meeste gevalle op dorpe, alles van almal geweet het nie. Hy het reeds geweet dat klein Kas van ou Joop elke kwartaal eerste in sy klas gestaan het, dat hy tot dusver wonderlike simbole gehandhaaf het, dat hy ’n goeie verstand het en ’n gebore student is. Dat ou Joop Burger nou so ’n slim kind moet hê … ’n Mens kan wonder waar kom dit vandaan, was die algemene gevoel van die dorpenaars wanneer klein Kas die enkele kere onder bespreking gekom het.

      Faan het daardie middag afgestap in die rigting van ou Joop se huisie. Hy het lank daar aan die oorkant van die straat gestaan en daarna gekyk – die viervertrek-platdakhuisie, spierwit afgekalk met ’n lowergroen wingerdstok al om die voordeur gerank. ’n Netjies gesnyde soutboslaning het die klein erfie afgekamp van die langsaan geleë sportterrein van die dorp en hier, weerskante van die voordeur, aan die voorkant van die wingerdstok, het twee roosboompies en ’n paar vilette enkele pers en rooi spatsels teen die wit muur geteken. Dit was baie eenvoudig en armoedig, en tog mooi. In hierdie laat uur van die middag, met die oranje skakerings van ’n plattelandse sonsondergang as agtergrond, het die huisie die hartsnare van die ryk prokureur diep aangegryp en byna weemoed in hom opgetower.

      Hy het nader gestap, die houthekkie oopgedruk en toe die skarnier sy klaaggeluidjie uitstuur, het ou Joop in die voordeur verskyn. Die prokureur het die instinktiewe verstrakking van Joop se gesig gesien wat altyd kom as ’n ryk en in­vloedryke man onverwags voor hom verskyn.

      “Middag, Joop.”

      “Middag, meneer.”

      Hy het dit tevore nog nie opgemerk nie. Daardie middag het dit hom opgeval – dat die arm man so dikwels sommer net Joop is en die ryk man, veel meer sy junior, meneer. Êrens in sy agterkop het iets hom laat voel dat dit nie eintlik so hoort nie, maar dit was net vir ’n breukdeel van ’n sekonde.

      “Klein Kas was by my. Hy wil graag volgende jaar by my kom werk.”

      “So sê hy. Wil … wil meneer dalk inkom?”

      Die huiwering was daar, en weer het Faan geweet dat dit genadiger is om jou baie haastig te hou, net kortliks te sê wat jy wil sê en dan maar liewer te loop. Dit spaar verleentheid aan beide kante. Dit spaar pynlike ongemak en selfbewustheid vir die gasheer as die onverwagse gas liewer maar nie binnekom nie. Maar Faan het meteens ’n onkeerbare drang ondervind om binne te gaan.

      “Dankie, Joop. Ek sal jou nie lank ophou nie.”

      Hy het ingegaan, wetende dat daardie woorde maar kon gebly het. Dit was gebruiklik, maar heeltemal onnodig, want Joop Burger het baie tyd – vier-en-twintig uur elke dag om om te sukkel met ’n liggaam wat kromgetrek is van rumatiek en ’n gedagtewêreld waarin hy beslis verdwaal moet raak.

      “Wil meneer nie sit nie?”

      “Dankie, ja.” Hy het gaan sit en, ook soos gebruiklik, sy blik vlugtig om hom laat dwaal. Daar was iets vreemd bekend vir hom aan die vertrekkie. Die stywe, regop stoele teen die mure het sy hart meteens laat ruk en hy het aandagtiger gekyk, toe meteens ontspan en geglimlag.

      “Magtie, Joop, maar hoe laat jy my nou terugverlang plaas toe. My oorlede ma het net sulke stoele in ons spens gehad. Hulle is absoluut identies – tot die patroontjie wat daarop uitgekerf is. En jy het ’n hele stel daarvan!”

      Ou Joop het na die stoele gekyk asof hy hulle tóé weer vir die eerste keer in jare raakgesien het. Toe het hy ook geglimlag, en die warmte het in die glansloosheid van sy kykers verskyn.

      “Ja, meneer. Dit kom uit my oorlede vrou se voorgeslagte.”

      “Hulle is baie werd vandag, hoor?”

      “Dit wil so voorkom, meneer. Mevrou Bernstein het my al blink gesoebat vir hulle, maar klein Kas wil niks weet nie.”

      “Ja, klein Kas … Jy het ’n baie oulike seun, Joop.”

      Die ooglede het geval, die knopperige vingers het onnodig begin vroetel.

      “Ja, ’k … so sê hulle. ’n Goeie seun.”

      “Hy verdien ’n geleentheid in die lewe, Joop. Ek is bly hy het na my toe gekom. Ek sal hom graag by my in die kantoor wil neem, as jy tevrede is.”

      Die kop het net geknik, terwyl albei geweet het dat dit nie werklik van belang was wat Joop wil hê nie, want Joop het sy regte en sy wil aangaande die seun wat laat in sy lewe gekom het, jare gelede al deur ’n bottel se nek afgespoel.

      Daar was meteens niks meer om te sê nie. Die stiltetjie het ongemaklik begin word en net toe Faan maar wou opstaan, het Joop weer opgekyk en sy oë was nie meer leeg soos Grasbult hulle maar ken nie.

      “Klein Kas … klein Kas verdien iets beters … beter as ek, meneer Dempers. Hy moes liewer jóú seun gewees het …”

      Die spontane reaksie in Faan Dempers se hart was op daardie oomblik om volmondig saam te stem, maar toe het iets in hom hom genoop om te swyg … Hy het ’n oomblik stil na die man voor hom gekyk, ’n man wat sy lewe weggesmyt het, maar ’n man met ’n kosbare kleinood in sy besit, ’n briljante seun, en die besef dat hy daardie kleinood nie waardig is nie …

      Hy kon Joop nie antwoord nie. Hy het opgestaan en sy hand ’n oomblik spontaan op die een skouer gedruk, toe by die voordeur uitgestap. By die hekkie het hy omgedraai, teruggekyk.

      “Sê vir klein Kas ek verwag hom die vyfde Januarie die oggend om agtuur in my kantoor. Wederom, Joop.”

      Maar op sy terugpad huis toe het ou Joop se woorde hom bygebly, en in daardie oomblik, met sy kommer oor sy dogter helder in sy hart, het dit weer na hom teruggekeer …

      Op daardie oomblik het hy opnuut besef dat God nie ’n fout maak nie. Kas moes juis Joop se seun gewees het, want as Kas Faan Dempers se seun was, sou hy miskien vandag nie dié Kas gewees het wat hy wel is nie. As hy Kas Dempers was, sou hy ’n tweede Liesel, ’n tweede Rob Rabe gewees het. Maar hy is ou Joop se seun, en daarom weet hy wat nee beteken, weet hy dat hy niks agter hom het om hom vorentoe te stoot nie behalwe sy eie deursettingsvermoë en dat daar niks vorentoe wag behalwe wat hy self tot stand sal bring nie. Hy weet nie wat dit beteken om te veel te gou te kry nie. Miskien, is die ontsettende besef op hierdie oomblik, ja, miskien was ou dronk Joop Burger ’n beter pa as Faan Dempers … Of miskien is dit vir sekere kinders beter, veel beter om ’n Joop Burger as pa te hê as ’n Faan Dempers …

      Kas het daardie oggend van die vyfde Januarie die kantoor van prokureur Dempers binnegestap en Faan was nog nie een dag spyt nie. Soos sy onderwysers, het Faan gevind dat die jong Kas Burger ’n knap verstand het, vinnig snap en, verbasend vir sy teruggetrokke geaardheid, ’n briljante redenaar is wat sy gedagtes netjies kan formuleer, goed kan oordra en ’n jong man wat by sy standpunt kan staan as hy daarvan oortuig is. ’n Jong man wat eendag, en miskien ook glad nie so ver in die toekoms nie, sy spoor gaan trap. Faan Dempers het in die gewoonte geraak om probleme en hofsake vooraf met Kas te begin bespreek, en hy was telkens verras met die jong man se insig en versiendheid. Dit het al hoe meer gebeur dat Kas ’n punt uitgewys het wat Faan se aandag ontglip het, of wat soms vir hom minder belangrik gelyk het en teen die end, nadat Kas dit uitgewys en ontrafel het, geblyk het ’n sleutelpunt te wees.

      Nee, as daar een man op Grasbult was wat Kas Burger se waarde reg geskat het, was dit Faan Dempers, maar in die res van Grasbult se oë is Kas net Joop Burger se seun, en niks meer nie.

      Intussen het Liesel begin grootword, ontluik en oopgekelk tot volle vroulike wasdom. Heel aan die begin het СКАЧАТЬ