Название: Monument
Автор: Maretha Maartens
Издательство: Ingram
Жанр: Контркультура
isbn: 9780624063155
isbn:
Hy het baie van sy pa die sinagoge-opsigter gepraat, so dikwels dat sy later kon saampraat. “Jou pa was ’n besonderse mens gewees, Yachin.”
“My ma se mense het nie veel van hom gedink nie.”
Wat was sy, Margo, vir hom? Die vrou wat hy versigtig intrek, asof sy sou wou wegkom uit sy net? Die geesgenoot wat hy begeer het, maar nie die vrou wat hy begeer nie?
Die padborde by die indraai na die dorp hang op grys pale in die rook. Links na Petrusburg, en onmiddellik weer links na Kimberley en die Noord-Kaap; by die toegee- en stopteken wys die bord diékant toe ’n gastehuis, vulstasie en Blue Moon Liquorland.
Dat beeste só op die verskroeide aarde kan bly lê, verwonder sy haar steeds. Bene onder die romp ingevou, kootgewrigte geknak, stertwortels en heupbene hoekig, neusgate en skewe horings windop. Hulle herkou nie. Hulle tuur die rook in, volksmoederborsbeelde by die eerste ingang na die dorp.
“What’s wrong with me, Bubbeleh?” het Yachin Woensdagmiddag nog gesug. “Theoretically I’m on leave until the second after your plane has left the runway.”
Regterhand op die rekenaarmuis tussen lessenaarklotter wat in der ewigheid nooit uitgesorteer sal kom nie, die laaste lig van nog ’n Jerusalemse dag in sy wilde krulhare en met sy linkerhand liggies op haar been het hy daar gesit, weer toegewyd besig om een van die middag se foto’s met die muispyltjie te patrolleer. Die foto’s was van aktiviste wat hulle gebruiklike jaarlikse sypaadjieversperrings in die aanloop tot die week lange Sukkot-vakansie in die Mea She’arim-woonbuurt oprig.
“Check this,” het hy beduie. “One missing leg, two hands without a human and half a dog. The editor’s Photoshop funnies. I’m optimistic about the future of my newspaper, Margo.”
Op die monitor langsaan was ’n handgetekende petisie teen ’n uithangbord by Beit El. We the undersigned herewith demand the immediate removal of the sacrilegious sign on the Ramallah bypass road, route 60, at the junction of the Palestinian villages Burqa, Dibwan and Beitin: ‘We’re home. Here in Beit El 3,800 years ago, the Land of Israel was promised to the Jewish people by the Creator of the Universe. By force of this promise we sit today in Haifa, Tel Aviv, Shiloh and Hebron.’
Hy het sag gesug en na haar gedraai. “Never thought I’d ever be confronted with the inescapableness of anything. But I’ve met my match.”
Here, gee dat Yachin op die vooraand van dié onbeplande vertrek sal doen wat nie langer uitgestel kan word nie, het sy woordeloos gebid.
“Die jaarlikse sypaadjieversperrings? Of die vrees dat ander die scoops voor jou sal wegraap?”
Hy het sy skouers opgehaal en geglimlag. “Ek het nie geweet waarvoor ek my inlaat toe ek Our Voice begin het nie. Jy ken my heeltemal te goed, Bubbeleh.”
Hy het op sy horlosie gekyk. “Die spanspek wat jy vir ons in Tel Aviv gekoop het …ek het dit saamgebring. Ons sny dit middeldeur, helfte vir jou, helfte vir my.”
Hy het die bord met die vyf-brode-twee-vissies-ontwerp van die rak afgehaal en gefrons. “Wanneer gaan ek onthou om nog ’n bord te bring? Oy, draykup.”
“Oy, workaholic. En deurmekaarkop ook.”
Ek neem foto’s van beeste op ’n lap verskroeide aarde, Yachin. En ek het nie woorde nie.
Hoofstuk 5
Sy staan voor Oumbecca se huis, uitgesluit. Die muur is drie meter hoog met duiwelsvurk bo-op. Die sipresse by die voorhek staan nog, maar agter die muur.
Die straatnommer het verander. Dit was 37; dis nou 42. Die hek by die motorhuis se oprit is afgehaal. In sy plek is daar ’n staalhek op spore, met die snoet en die gegrom van ’n groot hond in die smal opening tussen twee tralies.
Die loan shark wat Oumbecca se huis gekoop het, ry ’n Hummer, het Adriaan gesê. R1 400 per tenk, hum-hum deur Petrusburg se strate.
Cheri het haar mond oopgemaak: “Die man ooze geld.”
“Een vrou het ’n mikrolening vir ’n boob job by hom gekry,” het Adriaan bygevoeg. “Nou staan sy en haar man op skei oor die skuld, drie kinders onder ses. Maar dis eintlik Bolokanang se armes wat hom in die pound seats sit – of in sy volgende Hummer of Porsche, ha-ha. Hulle loop agter die geldreuk aan, vat kortpad van die brug af, jy moet die voetpaaie deur die veld voor die Ou Kerkhof sien, lyk soos ’n beespad. Dan tussen die kerk en die ouetehuis deur, net een ding in die kop: ching-ching by die shark. As hulle eers die leengeld gepocket het, is dit reguit Liquorland toe. Party haal nie die lokasie nie, die monument is hulle halfway stop. Jy moet sien hoe dit daar lyk, die Voortrekkers draai in hulle grafte om. Bottelskerwe, bierblikke, panties en vests. En jy kan nie naby die klippe kom nie.”
Haar broer se praat was soos ’n rioollek. Maar sy het hom jammer gekry; die diggings was nog nie uit hom uit nie.
Die jongste seuntjie, Attie, ’n kloon van sy boetie, het van buite af ingekom. Spoedig, het Margo gedink, sal hy ook met sy vingerpunte bepaal wat hy van die wêreld en die mensdom wil sien. Maar nou is ’n slimfoon hom nog nie beskore nie.
“Watter klippe, Dadda?” het hy gevra.
“Geloftedagklippe. Dié by die monument.”
“Watter monument?”
“In Monumentweg. Die monument oorkant die kafee, man. As mens by die dorp inkom van Bloemfontein se kant af. Naby die kerkhof waar Ouma begrawe is.”
“Hoekom sê jy dan dis belofteklippe?”
“Oor almal daar gaan klippe pak het, in die tyd toe daar nog Geloftefees gehou kon word sonder dat iemand van hoogverraad aangekla word.”
Die kind het nie verdere vrae gevra nie.
Die klipstapel by die monument is bevuil van menslike afval, moes Margo verneem. En daar is altyd ’n skoen.
“Hoe bedoel jy: ’n skoen?” het sy gevra.
“As ek ’n skoen sê, bedoel ek ’n skoen. Daar is altyd ’n skoen of twee wat by die monument rondlê. Hulle lyk almal eenders, en die hemel alleen weet hoe enigiemand nog daarmee kon loop, maar hulle is oral. Altyd net één, nooit ’n paar nie.”
Haar skoonsuster het hulle van ver agter af ingehaal: “Die wittes leen net so baie soos die swartes.”
Margo het haar broer se gelaatstrekke oor die beker kitskoffie sit en bestudeer en gesien die kinders hou haar dop, Cindy oor haar selfoon, Diederick oor sy brilraam. Hy was tien toe sy Israel toe is: ’n rustelose kind met geneigdhede – Oumbecca se woord. Met elke besoek het hy Oumbecca se slypsteen uit die onderste kombuislaai gehaal en haar groente- en steakmesse geslyp. Dankie, dankie, het Oumbecca ingenomenheid geveins.
Die onuitgesproke woorde was: Dankie, dankie dat Adriaan terug is van die diggings. Dat grond en skaap tóg in sy bloed is, ten spyte van alles.
Messe geslyp, het Diederick deur die СКАЧАТЬ