God se pad van vryheid. Engela Linde
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу God se pad van vryheid - Engela Linde страница 7

Название: God se pad van vryheid

Автор: Engela Linde

Издательство: Ingram

Жанр: Религия: прочее

Серия:

isbn: 9780796313096

isbn:

СКАЧАТЬ die vars vel van ’n slagding moes sout, durf nie hoekies of vouplekkies oorslaan nie, want die droë vel word by die winkel ingeruil vir bestaansmiddele. Verstaanbaar is Jesus se woorde: “Julle is die sout van die aarde” (Matt 5:13) en “Julle moet sout in julle hê en vrede hou met mekaar” (Mark 9:50 OAV). As ons nog onder die offerwette gestaan het, sou ek graag aan my God ’n deursoute, kraakdroë bokvel wou bring, as simbool van sy verbond met my.

      GEBED: Here, help my om ’n korrel sout te wees in huis, kerk en samelewing. Volgens u woorde wil ek die sout van wysheid en vrede besit en meedeel.

      22 Januarie Levitikus 26:35-46

      MOSES PROFETEER OOR DIE BALLINGSKAP

      “En tog, al sou hulle ballinge word … sal Ek hulle nie so verwerp … dat hulle heeltemal sal verdwyn … nie” (Lev 26:44).

      Moses het foute gemaak, sodanig dat hy aanvaar dat God hom die beloofde land slegs vanaf die berg Nebo laat binnekyk (Deut 34:1-4). Maar Moses was ’n voortreflike leier en God-geïnspireerd genoeg om eeue tevore te profeteer oor die hongersnood (Lev 26:26) en ballingskap wat sou kom. Selfs toe Levitikus later neergeskryf is, sou oorlewering en bewaarde fragmente sorg dat Moses se woorde korrek genoeg oorgedra word.

      Daar is reeds gewys op die geringe verskil tussen vroeë en latere geskrifte met die ontdekking van die Dooie See-rolle (dagstukkie 20 Jan). Moses kon net deur die Gees van God so ver vooruit die hede in die toekoms plaas. Hier is hulle nog moeisaam op pad Kanaän toe; hoe kon Moses weet dat Israel daarvandaan weggevoer sou word? Hierdeur skaar hy hom by die latere profete wat gedurig gemaan het teen die volk se afvalligheid. Onthou, waar Israel ook al die voet neergesit het, het hulle letterlik getrap in heidense lande vol tempels, afgode en rites wat hard om aandag roep. Is dit nie vandag nog so nie? Die aard en vorm van afgode het bloot verander, sodat daar selfs van elektroniese afgode gepraat kan word, onder meer kuberpornografie en sekere ongure kletskamers.

      Die waarskuwing aan Israel skets ’n lewende nagmerrie van angs en paranoia: Diegene wat nie weggevoer word nie, sal so bang wees “dat die geritsel van ’n droë blaar hulle op die loop sal jaag. … Die vrees vir oorlog sal hulle oormekaar laat val om weg te kom van agtervolgers wat nie bestaan nie” (Lev 26:36-37). Tog loop die goue draad van God se troos en ontferming regdeur. Daar sal opregte berou wees (Lev 26:39-43). En dan, soete saligheid, sal God hulle in sy arms toevou en hulle verwildering sal bedaar. “Ek is die Here” (Lev 26:45).

      GEBED: Ek skrik, Here, vir die benoudhede en angs van die ou-ou tyd. Maar my skrik bedaar as ek lees van u ontferming en troos. Al wat U vra, is trou. Help ons daartoe deur u Gees.

      23 Januarie Numeri 10:28:36

      VAN OUE OUERS EN GROTE KINDERS

      “Moet ons tog nie verlaat nie. Jy ken die plekke in die woestyn waar ons kamp kan opslaan …” (Num 10:31).

      Die “plekke in die woestyn” is allereers die oases, ou putte, en die dele waar ’n gorra syferwater kan oplewer. Oënskynlik gaan dit oor Moses se swaer Gobab. Volgens Rigters 4:11 was dit egter sy skoonpa. Indien wel, het Moses nóg ’n vrou gehad behalwe Sippora; dalk die donkervellige een teen wie Mirjam en Aäron so gekant was? (Num 12:1).

      In ’n aftreeoord is daar baie begrafnisse. Die kinders is soms self middeljarig, dalk van oorsee, skuldig omdat hulle die laaste jare so ver was. Die nader kinders moes instaan, byna meer as wat hulle kan. Daar is die afhanklike ouer wat nie verstaan daar is dalk ’n oponthoud by die werk of ’n verkeersknoop of ander krisis nie. Hulle sit gedurig en wag, met liefde gesê, soos die karakters in Samuel Beckett se drama Wagtende op Godot.

      Aan alles en iedereen behoort ’n kind, behalwe aan sy ouers; dis ’n wrede wet, maar dis ’n wet, skryf Louis Couperus. As ’n ouer hierdie “wet” aanvaar, word dit makliker om die aandag, liefde en toewyding van jou kind te erken as ’n bonus, ’n voorreg, nie “omdat ek hulle grootgemaak het” nie. Maria Oomkens sluit hierby aan in Het huis dat lachte (Van Holkema & Warendorf): “Ouers is geliefde wesens op die agtergrond. Alles wat jy van jou getroude kinders ontvang aan liefde en geselskap, is wins. Veel meer durf jy nie verwag nie.”

      Hiermee bedoel sy dat kindgrootmaak geen saak van verdienste is nie. Eintlik is dit blote genade. Ons kan nie altyd bý hulle wees nie, maar wel ín hulle. Die seun wat ingedagte eenkant toe dwaal in die aftreetuintjie, kan hom self op ’n dor plek in sy lewe bevind. Moontlik onthou hy, bemoedig, dat die gestorwe ouer deur al die woestynplekke gekom het, en dat die vermoë daartoe in hom nagelaat is.

      GEBED: U weet my beste pogings as kind en as ouer word dikwels nog deur skuldgevoel oorheers. Help my, Here, nie om te probeer nie, maar om vanself te wees wat ek moet wees.

      24 Januarie Numeri 14:34-44

      IN DIE WILDERNIS

      “Julle sal veertig jaar … die gevolge van julle ongeregtigheid moet dra” (Num 14:34).

      Die woord Numeri, wat op sensusgetalle dui, is aan Grieks ontleen. ’n Pasliker titel is die Hebreeuse “Bemidmar”, “in die wildernis”. Veertig jaar swerf Israel tussen Sinai en Kanaän. Behalwe statistiek en wettiese opdragte, is hierdie swerftog die hoofintrige van Numeri. Hulle kamp ruweg 43 keer (Num 33). Hoe kon ’n uittog oor ’n beperkte afstand so lank duur? Die beste en kortste roete, die karavaanhandelsroete, die grootpad van Egipte deur Palestina na Asië, was by die grensforte goed bewaak. Volgens Eksodus 13:17 het die kortste pad na die land van die Filistyne gelei; Israel sou liefs oopgetrapte kameelpaadjies gebruik wat na water lei. Vervolgens was hulle dikwels self vir hulle oponthoud verantwoordelik.

      My pa se voormense was Boesmanlandse trekboere. My broer onthou hoe oorle’ oupa Van Rooyen se wakis in ’n patroontjie geriffel was soos die bondel sinkplate op trek daarteen geklop-klop het. Van dié soort Afrikaner skryf Deneys Reitz in sy oorlogsboek Commando dat hulle van put tot put met hulle vee getrek het, soos ou Bybelse volkere.

      Die wêreldletterkunde wemel van simboliese swerftogte. Die woord “odyssee”, vir swerftog, is ontleen aan Odysseus, Homerus se verhaal van ’n mitiese swerwende held. Dan is daar Dante se Divina Comedia; en wie weet nie van Bunyan se Pilgrim’s Progress nie? Pearl Buck se The good Earth, die lewensloop van ’n Sjinese kleinboer, waarvan my suster sê: “Die boek het my hart gebreek.” Nader tuis is daar DJ Opperman se Joernaal van Jorik, waar Jorik in ’n duikboot (baarmoeder) aan die Kaapse kus opduik. Nie net die Afrikaner se geskiedenis nie, maar ook dié van die mens tussen Genesis en Openbaring speel hom in Jorik se swerftog af … totdat hy weer gehaal word.

      Tussen wieg en graf het elke mens sy waterlose wildernisse van teenspoed, misverstand en dood, maar ook die oases van sukses en geluk en liefde.

      GEBED: Ja, Here, ook ek ken die wildernis, dikwels as gevolg van keuses van my of ander rondom my. Dankie vir u genade wat altyd weer na ’n oase op my lewenspad lei.

      25 Januarie Numeri 20:1-13

      WATER UIT DIE ROTS

      Toe lig Moses sy hand op en hy slaan die rots … Daar het baie water uitgekom … (Num 20:11; kyk ook Eks 17).

      Totdat Israel die Amalekiete verslaan en toegang tot die kosbare waterbron in die omgewing van Refidim kry (Eks 17:8-13), was hulle by daardie staanplek sonder water, en die volk is op die punt om Moses te stenig (Eks 17:2 ev). Dis maklik om te sê: “Hemel, maar die klomp kon kla.” Dis ’n glad ander saak om massas kinders en vee erbarmlik van dors te hoor kerm. Daar is ’n verskil tussen min water en geen water. Moses soek die aangesig van God, wat deur СКАЧАТЬ