Название: Satyn Omnibus 2
Автор: Helena Hugo
Издательство: Ingram
Жанр: Короткие любовные романы
isbn: 9780624051718
isbn:
“Sy is so fyn gebou, so lank en skraal, jou ma is bang sy breek ’n been as sy te vinnig loop.”
Jacques grinnik. Ja, hy is ook bang hy breek van haar beentjies of druk een van haar borsinplantings stukkend wanneer hulle liefde maak. Maar sy is ongelooflik taai, en dit bewonder hy van haar.
“Sy’s taai, Pa,” sê hy net.
“Wel, sy kan perdry, en sy en jou ma gim saam.”
Suzette kuier al langer as ’n week op Rosedal. Sy het vooruit gekom om werksredes, en sy ma het haar met ope arms ontvang. Dat sy saam met hom hier is, is nie omdat hy dit so beplan het nie. Hy sou verkies het om haar nie na Rosedal te bring nie.
Maar toe kom die bekendstelling van die winterreeks van een of ander obskure Franse couturier juis nou. Die eienares van ’n Kaapse boetiek het die man ontdek en sy pakkaas Suid-Afrika toe gesleep, Suzette inkluis. Afskuwelike klere, maar as dit is wat Kaapse modevlinders verkies, wie is Jacques om beswaar te maak? Suzette dra dit gelukkig net op die loopplank. Sy het beter smaak, dankie daarvoor.
“Dis ’n probleem ...” sê sy pa.
Jacques weet nie of hy na die swaarvoertuie op die pad verwys of na Suzette en sy ma wat so geheg aan mekaar is nie. Sy ma soek die afgelope tien jaar ernstig vrou vir hom, maar die vrou wat hy wil hê en wat sy hart gebreek het, oor háár praat niemand nie.
Onthou sy pa dat hy ná daardie vreeslik vernederende voorval so uitgekryt is en voor soveel ultimatums gestel is dat hy eenvoudig weggehardloop het? Hierdie kuier is die eerste een in jare. Dis al agt jaar wat hy in Frankryk woon. Aan die begin het hy elke ses maande huis toe gekom, later al hoe minder. Dié keer was hy drie jaar weg.
Vreemd genoeg, niks het eintlik drasties verander nie – nie hier in die omgewing nie. Daarvoor staan die berge te stewig en is die streek te tradisievas. Wynlandvalleie onder wingerd, appel- en lemoenboorde. Sy grootwordwêreld. Hy kry ’n knop in sy keel.
“Mooi is die land,” sê hy onwillekeurig.
“Jy dit gemis?”
“Ja.”
Sy pa antwoord nie met woorde nie. Hy knik ’n paar keer, ernstig.
Hulle kom met die N1 van die Kaapse lughawe af, al die pad deur die Hugenotetonnel oor die Dutoitskloofberge – berge wat Jacques as seun geklim het, soms saam met sy maats, soms saam met sy pa, nooit alleen nie. Bekende berge wat hy in sy drome gesien het terwyl hy die Franse wynstreke deurkruis het – van die koue Champagne-streek deur Alsace en Chablis, tot die Loire-vallei en Bordeaux, Languedoc en die Rhône. Byna agt jaar in Frankryk. Hy praat nou vlot Frans, hy ken hul wyne en wingerde, was maande in die Cognac-streek om te leer hoe versny hulle hul beroemde brandewyne. Enigiets om nie terug in sy eie vallei te wees nie.
Noudat hy hier is, hou hy sy oë oop – nie net vir die afdraai nie.
Sou sy pa weet? Hy soek haar.
Sharise van Harte.
Asof sy skielik sal verskyn, langs die pad op ’n wit perd of in haar groen Volkswagentjie met die geel blomme op die enjinkap, dalk te voet met linte in haar hare. Al wat hy weet is: sy is hier.
Colette en Teresa het hom op hoogte gehou, al het sy ma nooit Sharise se naam genoem nie, en sy pa slegs die noodsaaklikste.
“Hoe gaan dit met Sharise van Harte?” vra hy nou en skrik amper vir die uitdagende toon in sy stem.
“Daardie meisiekind! Het jy nog nie van haar vergeet nie?”
“Pa, ons het saam grootgeword.”
“Vergeet van haar, sy’s getroud.”
Maar Sharise is nie meer getroud nie, dit weet hy danksy sy susters. Noudat Suzette hom vir haarself toegeëien het, noudat Suzette moeite doen om sy ma te beïndruk, noudat Suzette permanent wil word, is Sharise nie meer getroud nie!
As dit nie ’n geval van Murphy’s Law is nie, is dit ’n doodeenvoudige, maklike toets vir hom. Soek Sharise op, praat met haar, kyk of dinge nog dieselfde is tussen hulle. Maar hoe was dit? Beslis nie soos dinge tussen hom en Suzette nie!
Jacques klou die stuurwiel vas. Dit was meer, dit was veel meer ...
“Ek dag haar man is dood?”
“Die afdraai, Jacques!”
Dit kom so skielik, hy mis dit toe byna en laat gly die kar met die unieke remstelsel skuins soos hy rem.
“Jam-mer!”
“Waar’s jou gedagtes, kêrel?”
Sy pa is reg. Die granietkranse en die wingerde, hier en daar nog rooi gevlek van blare, het tydelik weggesmelt toe hy haar naam noem ... en terugdink. Sy knoop haar skoolrok oop, haak haar bra vir hom los. Hy is in matriek, sy in graad tien. Dis die eerste keer dat hy haar borste sien uitspring. Hy raak met sy vingerpunte aan haar tepels. Dit word hard nes hy.
Maar hy besef dat hulle voor ’n afgrond staan, en hy hou haar veilig teen hom, fluister in haar oor: “Jy is genuine mooi.”
As kinders het hulle somers kaal in ’n plastiekbadjie in die agterplaas van haar ouma Maria se erf rondgeplas. Winters is hulle saam in die pootjiesbad gestop om geskrop te word, al vier van hulle – hy die enigste seuntjie tussen die drie meisiekinders. Tot hy skool toe is, en nie meer saam met die meisies wou bad nie.
Van toe af was dit interessanter om hulle af te loer, of om onverwags die badkamer in te storm met ’n emmer vol paddas wat hy in die vlei gevang het. Hy onthou hoe hulle opgespring het, mekaar vasgeklou en gestaan en gil het: ronde boudjies en stewige beentjies. Grootmense wat dink kinders onthou nie sulke dinge nie, is baie naïef, of hulle het van hul eie ontwaking vergeet, daardie bewuswording van die andersheid.
Sy ma het hom aan die begin van sy hoërskooljare eenkant toe geneem en alles van die bye en die blomme vertel, goed wat hy in elk geval reeds geweet het. Haar waarskuwings teen wilde meisies het hom skuldig laat voel, en skaam vir Sharise, sodat hy weke lank wye draaie om haar geloop het. Tot hy haar weer een middag in die pad gekry het. Was dit nie dalk hier nie? Hy onthou die verknotte akkerboom. Is dit dieselfde boom?
“Dit het nog nie gereën nie,” maak sy pa verskoning.
“Ek sien.”
Die boom lyk vaal van die stof en die omgevalle stomp is so verweerd, ’n muis kan nie daaragter wegkruip nie. Seker nie die regte boom nie, of dalk het die stomp reeds vergaan. Agt jaar is lank.
“Ons het darem die pad so twee maande gelede geskraap.”
“Ja, Pa.”
“Hierdie motorkar hou gelukkig goed pad, jy sou hom nie omgekeer het nie. Jy kan nie die verskil voel teen die teerpad nie.”
Sy pa is reg. Jacques hou die stuur van die BMW nou СКАЧАТЬ