Название: Rillers 6: Kamer 13
Автор: François Bloemhof
Издательство: Ingram
Жанр: Учебная литература
Серия: Rillers
isbn: 9780798157629
isbn:
Daarvoor is hy nie lus nie. Hy sal eerder vir Janus ’n e-pos of ’n sms stuur. Sal hy iets teken, dalk ’n motorfiets of die een of ander prehistoriese dier? Ook nie lus nie.
Hy staar dan maar by die venster uit. Behalwe vir ’n paar duiwe wat in die lug draai, is daar nie veel te sien nie, net nog ’n stuk van die skoolgebou. Die vensters blink soos ’n lang ry spieëls.
Sy gedagtes dwaal na die weke wat verby is. Hoekom kan dit nie altyd vakansie wees nie?
Hy leun agteroor in sy bank, tot sy kop aan die muur raak.
Dis eienaardig . . . Hy draai om.
Nes hy gedink het – die agterste muur is nie van baksteen nie.
Bennie loer na meneer Snyman wat druk besig is om aan sy register te werk. Hy kyk nie op nie en lyk ook nie of hy binnekort gaan nie.
Versigtig raak Bennie aan die muur. Hy klop liggies daarteen. Dit klink of dit van pleisterbord is. Witgeverfde pleisterbord.
Hy loer weer na meneer Snyman, dan na sy klasmaats. Almal is besig met iets en hulle het nie ’n saak met wat hy doen nie.
Hy raak weer aan die muur en kyk mooi. Dit lyk of dit uit drie skuifpanele bestaan en die een reg agter hom het ’n kraak in, amper ’n sentimeter breed.
Hy vryf met sy vinger daaroor.
En dan!
Bennie pluk sy vinger vinnig weg. Hy wou skree, maar het homself net betyds gekeer.
Dit was asof hy ’n skok gekry het.
Hy skuif effens vorentoe in sy bank. Nou gril hy vir hierdie hoek. Dis waar hy wou sit, maar skielik wens hy hy het eerder een van die ander banke in die klas gekies.
Outomaties kyk hy boontoe. Dis ’n ou gebou en daar is balke onder die plafon. Aan een van daardie balke, sê hulle, het ’n onderwyser haarself jare gelede opgehang.
Skielik voel Bennie benoud. Hy kry warm. Wat gaan aan?
Hy trek sy baadjie uit en leun terug in sy bank. Noudat die skrik verby is, wil-wil hy weer verveeld begin raak. Hy laat die bank tot teen die skuifpaneel wieg.
En dan ruk hy vorentoe. Pyn skiet deur sy rug.
Hy wil skreeu. Dit voel of ’n naald in sy rug steek, dieper en dieper.
Hy swaai om, hoor hoe sy penneblikkie die houtvloer tref en in die lug opskiet.
“Wat vang jy daar agter aan, Taljaard?” Meneer Snyman frons so diep, dit lyk of iemand met ’n mes ’n sny tussen sy wenkbroue gemaak het.
“E . . . niks, meneer,” probeer Bennie normaal klink. Maar sy rug brand soos vuur.
“Sit stil, of anders gee ek vir jou iets om jou mee besig te hou,” sê die onderwyser en gaan aan met sy werk.
Versigtig steek Bennie sy arm agter sy lyf en raak aan sy rug. Deur sy hemp voel hy ’n ligte swelsel. Bye? Nee, hy sou ’n by gehoor het.
Hy bring sy hand vorentoe en sy oë rek. Dis g’n wonder dit was so seer nie!
Aan sy wysvinger is ’n kolletjie bloed . . .
3
Seer bly seer
“Hoe was jou eerste dag in graad nege?” vra sy ma die middag toe hy by die huis kom.
“Ag, orraait. Daar’t nie veel aangegaan nie. Maar gelukkig is ons nie meer die juniors in die skool is nie. So die seniors los ons nou uit.”
“Grootmeneer, nè,” sê Karien. Sy is in graad elf.
“Niemand het met jou gepraat nie.”
“Toe nou, julle twee,” sê hulle ma. “Gaan trek uit dat julle kan kom eet.”
“Dis jammer jy is nie so groot as wat jy dink jy is nie. Dan was jy die langste ou in die skool, in plaas van net vier bakstene hoog!” Karien kyk hom vermakerig aan.
Bennie maak of hy haar nie hoor nie en gaan na sy kamer toe. Sy is die meeste van die tyd so simpel, maar partykeer voel hy jaloers op Karien omdat sy so maklik met hulle ma kan praat oor alles wat haar hinder. Hy wonder of hy net so maklik met sy pa sou kon gepraat het as hy nog gelewe het.
Dit help nie om te wonder nie, sê hy vir homself. En daar is ook eintlik nie só baie dinge wat hom pla nie.
Die plek op sy rug voel styf en geswel. Hy onthou van die puisie wat hy verlede week op sy rug stukkend gedruk het. Dalk het dit ontsteek.
Hy trek sy hemp uit en gaan staan met sy rug na die spieël . . .
Jig! Hy trek sy asem saggies in. Die plek lyk leliker as wat hy verwag het. Dis pers teen sy vel en die swelsel is omtrent so groot soos ’n tweerandstuk.
Hy raak liggies daaraan, maar kners dan op sy tande van die pyn.
Meteens voel hy weer so benoud soos in die klas. Hy moet vir sy ma gaan sê, ’n mens moenie speel met so iets nie!
Maar sy sal hom dokter toe wil vat, sy sal dink ’n giftige ding het hom gebyt. Vir die dokter is hy nie lus nie, en vir ’n inspuiting nog minder. G’n onnodige inspuitings vir hom nie, baie dankie! Buitendien, hy is nou die man van die huis, nie meer ’n klein seuntjie wat vir alles dokter toe hoef te gaan nie.
Maar seer bly seer.
4
Die plek
Vroeg die aand terwyl Bennie TV kyk, bly hy bewus van die plek op sy rug. Hy kry nie gekonsentreer op wat op die skerm aangaan nie. Die plek is nog net so seer soos dit was. Eintlik voel dit erger.
En dalk het dit ook intussen groter geword. Hy wil nie weer daaraan vat nie, want dis vrek seer en hy gril hom dood.
Dood! Sê nou hy gaan dood? Hy skrik vir die gedagte.
Maar dan glimlag hy vir homself. Jy’s simpel! Hy weet nie hoekom hy so op loop is nie. Karien sal omtrent veel te sê hê as sy moet weet. Môre is dit dalk beter of sommer heeltemal weg. Hy moet net uithou.
Dit voel in elk geval nie of hy gaan doodgaan nie!
Dan dink hy daaraan dat sy pa ook dalk nooit gevoel het asof hy sal doodgaan nie – en hy hét.
Bennie sug. Dit help tog nie om daaroor te tob nie. Hy vat dinge mos rustig. Wat kry jy van worry? Net meer worries. Karien is die een wat oor alles worry.
Toe hy kamer toe gaan en uittrek, kyk hy nie weer in die spieël nie. Die plek voel nog dieselfde.
5