Etosha. Piet van Rooyen
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Etosha - Piet van Rooyen страница 6

Название: Etosha

Автор: Piet van Rooyen

Издательство: Ingram

Жанр: Контркультура

Серия:

isbn: 9780798153324

isbn:

СКАЧАТЬ ook nie juis die dankbare tipe nie, nè?” sê die stiller een van die drie jagters. Dis die eerste keer dat sy hom hoor praat.

      “Ek besef julle het my lewe gered, dankie. Jammer dat ek so ongeskik is. Dis die skrik, en die ontsteltenis.” Sy moet haar dwing om hierdie woorde te sê. In haar bly slegs die woede en skaamte steek.

      “Neem ’n foto en los die dier vir haar,” sê Palazzolo, wat nou ook langs hulle kom staan. Hy stoot met sy skoen aan die dooie leeu se lippe. Dis nou behoorlik lig.

      “Dis my eerste leeu!” bly die dikke mor.

      “Ons kom weer. Hulle sal weer uitkruip uit die Park uit. Neem ’n foto en laat ons ry. Ek is honger. En lus vir koffie.”

      “Ek het in jou huis geslaap,” sê Olivia vir die man.

      “Goed so. My plesier.”

      “Dankie.” Olivia draai om en stap die twintig meter na die Land Rover terug. Die spoorsnyers staan woordeloos teen die bakwerk aangeleun. Hulle maak beurte met ’n enkele selfgerolde sigaret; gee dit na elke dampie bakhand na mekaar aan.

      Sy gaan sit en skink vir haar van die koue tee uit die termosfles; drink met klein slukkies. Die koue, soet vloeistof bring kalmte terug in haar senuwees. Vanuit die kajuit sit sy en kyk hoe die jagters die leeu in verskeie posisies uitstal om foto na foto van die dooie dier te neem, die grynsende jagters in verskillende houdings daaragter, gewere dwars in die hande, vol dapperheid en bravade.

      Die jagters ry sonder enige verdere woorde van afskeid. Toe hulle stof verdwyn, ry Olivia nader om die dooie dier op te laai. Sy tel die rooi verdowingspyl op waar die jagter dit eenkant in die stof gegooi het. Die spoorsnyers trek die agterpote met ’n stuk baaldraad oorkruis teen mekaar vas. Toe laat sy die wenas agtertoe oor die katrolle trek en hys die leeu stadig daarmee op die bak. Kasupi en Halfkop druk die swaar lyf met hul skouers oor die bak se rand, terwyl sy die kontroles van die wenas beheer. Sy werk versigtig.

      “Lig op, lig op,” sê sy vir die spoorsnyers. Sy wil nie hê dat die vel seerkry wanneer die lyf swaar oor die skerp rand skuur nie. Sy is weer eens dankbaar vir hierdie kontrepsie van kabel en katrolle wat Fechter vir haar in die werkwinkels laat opsit het. In haar en hierdie twee skraal spoorsnyers se lywe sou dit nie sit om byna tweehonderd kilogram se dooie leeu met die hande op die bak te moes trek nie.

      Wanneer hulle by die plaasopstal verbyry, sien sy die jagters se Cruiser ingetrek staan waar sy gisteraand geslaap het. Sy weet dat sy met hierdie een misluk het. Sy sou veel eerder met die lewende leeu wou terugry. Tog gee die karkas haar die geleentheid om ’n vars disseksie te doen.

      Dis drie uur se ry Okaukuejo toe, die plek waarvan die naam “Vrugbare Vrou” in die Heikum-taal beteken. Nie dat die naam haar beïndruk nie. Sy behoort voor middag terug te wees in die kamp.

      5

      Die vlugtende man steek vas. Hy kyk terug in die rigting van waar hy aangehardloop gekom het. Hy skerm sy oë af teen die helder lig; probeer sy voetspore op die harde klipbanke raaksien, soos hy gekom het. Hy prent homself in dat hy sal wegkom. Hy kan geen aanduiding van sy spore sien nie. Dit wil-wil hom moed gee dat die agtervolgers sy spore ook sal miskyk. Maar die son sit vir hom aan die verkeerde kant van die spore, weet hy. Die klip blink te veel in die rigting van waar hy probeer terugkyk – op dié manier sal hy niks sien nie, al kyk hy hoe goed. As jagter weet hy goed dat voetspore altyd makliker lees met die son van agter. Nou staan hy tussen die son en sy eie spore. Hulle wat agter hom aankom, laat hulle nie so maklik afskud nie. Hulle sal beter kan sien. Die skaduwees lê beter vir hulle.

      Hy sug hard. Hy kan nie meer nie. Alles het hom ingehaal: die hitte, die wind, die dae se uitmergeling, die gewig van hierdie ding wat hy dra, hierdie swaar horing in sy hande, die jare se aftakeling van sy liggaam, hierdie onrus wat agter hom op sy voetspore lê. Die angs klop in sy keel, sy hart klop hard in die holte van sy borskas. Dit voel vir hom asof die geklop van sy hart nie binne-in hom stuit nie, maar uit die hele omgewing kom, aandawer uit die wye veld. Tog laat hy nie die horing val nie. Dis al waaraan hy nog kan vashou. Dis sy eersgebore seun, sy eie Ndjipua, sy Justus-kind s’n, sy geleerdheid, sy toekoms, wat hy hier in sy hande hou. Hy móét probeer om deur te dra, huis toe te vat, na veiligheid toe.

      Hy weet nie eers seker of hulle op sy spoor is nie. As hy geweet het, was die vrees dalk minder; kon hy dalk beter dink. Hy het hom vanoggend vroeg dalk net verbeel dat hy die vliegtuig ver agter hom sien draai het, daar waar die dooie renoster bly lê het. Dit was net ’n flits in die son, ’n vae, veraf dreuning, ’n vinnige groeiing van klank wat dadelik weer weggeraak het. Tog was dié flits genoeg om die paniek in hom aan te jaag, hom so wild aan die hardloop te sit.

      Hy probeer nou nie meer sy spore versteek nie; bly maar net in hierdie een rigting draf, so vinnig as wat sy tengerige, skraal liggaam hom kan dra. Daar lê vir hom nou net een pad. Net die donker sal hom kan red. As die nag maar net nader was! As hy maar net die aand kon haal! Maar die dag het nog soveel lang, lang ure. Daar bly nog ’n lang tyd oor waarin hulle sy spore sal kan bly optel, optel.

      Die berge lê in ’n blou waas in die verte. Dis waar die huis sit, Onaiso, sy plek, daar waar hy baas is. Hier om hom is dit net die uitgestrekte vlaktes, skraal bome hier en daar, kalkbanke, fyn gruis, vaal aalwyne. Vorentoe lyk dit tog asof die terrein meer gebroke raak, of daar meer plek vir skuiling is. Nou moet hy net aanhou hardloop. Dis al wat vir hom oorbly.

      Die veld is warm. Sy asem stoot in skroeiende teue deur sy keelgat. Daar is rou bloed aan sy hande. Die kapmes in sy velskede hang swaar aan sy broek, klop-klop teen sy heupbeen. Hy verwissel die brandwarm horing van palm na palm. Die geweerband keep skerp in sy skouer in. As die gewig te veel raak, skuif hy die geweer na die ander skouer. Hy stut die kolf in sy bakhand. Die geweer, ’n verweerde Russiese Kalasjnikof met ’n gekraakte kolf, is net so swaar soos die renosterhoring, maar die fatsoen verskil. Hy het die geweer enkele jare gelede by verlangse familie in die suidweste van Angola vir ’n klompie slagbokke geruil. Hy’t ’n plan gehad daarmee. Nou’t die plan op hom ineengeval.

      Die verskuiwing van die twee swaar voorwerpe van die een na die ander kant gee aan sy skouers ’n gevoel van verligting, aan sy hande ’n verposing, ’n ander manier van vat. Hy voel ’n bietjie sterker. Hy laat hom slegs ’n oomblik se terugkyk toe, dan swaai hy om om op sy vlugrigting voort te gaan. Met die omdraaislag word dit vir ’n oomblik donker in sy kop. Dit moet die bloed wees wat te vinnig na sy brein toe opstoot. Sy oë knip verdwaas om fokus. Hy dreig om sy balans te verloor, duisel in die hitte. Hy word oud, dink hy weer, sy liggaam werk nie meer soos dit moet nie. Hy skud sy kop met ’n mengsel van weemoed en veragting. Dan draf hy met kort, struikelende treë voort.

      Hy, Vetamunua Tjambiro, is van lankal af jagter, van jongtyd af. Jag was vir hom nog altyd so noodwendig soos die lug wat hy inasem, die water wat hy drink. Met die jag het hy al sy kinders grootgemaak gekry, sy vroue goed laat eet. Hy is ’n goeie jagter, so het almal hom nog altyd beskou. Hy was altyd maar so: ’n stil man, nooit ’n geselser nie, geen bedrewe storieverteller nie, niks van ’n voordanser nie. Tog het almal geweet wie hy is: Tjambiro, die jagter, die een wat raak kan skiet en fyn kan spoorsny en wat die moed het om nie op te gee as hy eers op ’n spoor is nie. Nou, vandag, lê hierdie soldate op presies dieselfde manier op sý spoor.

      Hy het soveel hoop gehad vir hierdie keer. Hy wou vir niemand iets van sy eintlike planne sê nie, nie eens vir Karukembe, Ndjipua se ma, sy lieflingvrou, nie. Maar hierdie keer was die jag belangriker as al die ander kere. Hierdie keer moes die jag nie net vleis inbring vir vandag se eet, vir môre se bietjie opgegaarde biltong nie. Hy het hierdie stuk horing gaan haal om die toekoms mee oop te maak. Hy het vas geglo dat hy dit hiermee sou kon doen, met hierdie jag. Toe hy dit beplan het, het dit so maklik gelyk. Hy het daarvoor kans gesien.

      Hy СКАЧАТЬ