Название: Jesus Christus en ons lewe in hom
Автор: Johan Malan
Издательство: Ingram
Жанр: Религия: прочее
isbn: 9780796315571
isbn:
Die Here het gesweer en dit sal Hom nie berou nie: U is priester vir ewig volgens die orde van Melgisédek – in sover het Jesus van ’n beter verbond borg geword. En hulle het wel priesters geword in ’n groot aantal, omdat hulle deur die dood verhinder is om aan te bly; maar Hy, omdat Hy vir ewig bly, besit ’n priesterskap wat nie op ander oorgaan nie. Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree. Want so ’n hoëpriester was vir ons gepas, een wat heilig, onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaars is, en wat hoër as die hemele geword het; wat nie elke dag nodig het, soos die hoëpriesters, om eers vir sy eie sondes offers te bring en dan vir dié van die volk nie. Want dit het Hy net een maal gedoen toe Hy Homself geoffer het.
– Hebreërs 7:21–27
Ken jy hierdie getroue Hoëpriester wat medelye met jou swakhede het en altyd sal leef om by God vir jou in te tree? Besef jy jou verantwoordelikheid om in sy voetspore te volg, heilig en afgesonderd te leef en vir ander by die genadetroon in te tree? Tree jy deur die bloed van Jesus toe tot die nuwe en lewende weg wat Hy deur die geskeurde voorhangsel tot by die genadetroon ingewy het? (Heb 10:19–20.) Is jy ’n gereelde besoeker aan die genadetroon?
Ons is tot ’n koninklike priesterdom geroep om die deugde te verkondig van Hom wat ons uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig (1 Pet 2:9). ’n Priester moet namens God met die volk praat (preek) en ook namens die volk met God praat (bid). ’n Priester moet heilig leef omdat God heilig is, en nougeset teen sonde waak. Indien hy tóg sondig, weet hy waar om genade te vind: “My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ’n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus die Regverdige. En Hy is ’n versoening vir ons sondes” (1 Joh 2:1–2).
Middelaar
Jesus Christus tree op as Middelaar tussen die mensdom en God die Vader. Hy is vir hierdie amp gesalf omdat net Hy, op grond van sy kruisdood, verlore mense met God kan versoen. Vergeleke met die Ou-Testamentiese hoëpriesters wat as tussengangers tussen die volk en God opgetree het, het Christus “ ’n voortrefliker bediening verkry vir sover Hy ook Middelaar is van ’n beter verbond wat op beter beloftes wettelik gegrond is” (Heb 8:6).
Die offers onder die ou verbond was onvolledig omdat hulle net skaduagtige heenwysings na die finale offer van die Lam van God was (Heb 10:1–10). Ons het dié beter en wettige belofte verkry dat ons geheilig word deur die offer van Christus, wat die Middelaar van die nuwe verbond is. Net sý offer voldoen aan die eise van God se geregtigheid en regverdigheid (vgl Ef 1:7; 1 Pet 1:18–19).
Kneg
Jesus is die Kneg van die Here wat na die aarde gekom het om ’n groot verlossingswerk te doen. Messiaanse profesieë in die Ou Testament kondig dit só aan: “En nou sê die Here wat My van die moederskoot af geformeer het om sy Kneg te wees … Dit is te gering dat U my Kneg sou wees om op te rig die stamme van Jakob en terug te bring die gespaardes in Israel: Ek het U gemaak tot ’n lig van die nasies, om my heil te wees tot aan die einde van die aarde” (Jes 49:5–6). “Wie is daar onder julle wat die Here vrees, wat na die stem van sy Kneg luister … ?” (Jes 50:10.) Die eienskappe van ’n kneg is nederigheid en diensbaarheid. Die Here Jesus het sy dissipels ernstig teen hoogmoed en selfverheffing gewaarsku:
Julle weet dat die wat gereken word as owerstes van die nasies, oor hulle heers, en dat hulle groot manne oor hulle gesag uitoefen; maar so moet dit onder julle nie wees nie, maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees. En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet almal se dienskneg wees. Want die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ’n losprys vir baie.
– Markus 10:42–45
Herder
Christus het as die Herder van sy kudde ’n absolute verbintenis tot hul welsyn omdat Hy hulle duur gekoop het met sy kosbare bloed. “Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape” (Joh 10:11). Hy het die vaste versekering gegee: “Ek is die deur van die skape. … [A]s iemand deur My ingaan, sal hy gered word …” (Joh 10:7, 9). Dit is te begrype dat, as Hy sy lewe vir die skape afgelê het, Hy ook voortdurend na hul belange sal omsien; daarom het Hy bygevoeg: “Ek het gekom dat hulle lewe en oorvloed kan hê” (Joh 10:10). Hy sê ook elders: “Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie” (Heb 13:5).
Die Herder neem leiding deurdat Hy voor sy skape uit loop, die weg aanwys en hulle Hom getrou navolg (Joh 10:4). Dit is in hul eie belang om die Herder te volg en naby Hom te bly, anders dwaal hulle van sy weë af en word dan deur die duiwel uitmekaar gejaag en in wanorde en verwarring gebring (Joh 10:12).
Daar is net een pad uit ’n toestand van afgedwaaldheid, en dit is terug na die Here Jesus: “Want julle was soos dwalende skape, maar nou het julle teruggekeer na die Herder en opsiener van julle siele” (1 Pet 2:25). Die Herder bly te alle tye getrou en Hy sal altyd sy verpligtinge teenoor sy kudde nakom:
Die Here is my Herder; niks sal my ontbreek nie. Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen … Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, sal ek geen onheil vrees nie; want U is met my.
– Psalm 23:1–4
Ons moet begryp dat ons in ’n wêreld woon wat in die mag van die Bose lê (1 Joh 5:19). Versoekings, beproewings, aanvegtinge van Satan en selfs ook doodsgevare word dikwels op ons lewensweg ervaar. Die Here weet watter soort teëspoed vir die toetsing en loutering van ons geloof nodig is en Hy laat dit toe. Ons moet in sulke tye ’n nuwe en volle oorgawe aan “die groot Herder van die skape” maak (Heb 13:20). Daar moenie enige bitterheid in ons hart kom as dinge nie volgens ons eie beplanning verloop nie, want die Herder se weë is hoër as ons weë. Ons moet weet dat Hy alles, ook die onaangename ervarings, vir ons ten goede sal laat meewerk as ons ons lewe opnuut aan Hom toewy en toevertrou.
Die Here het ook bekwame persone in sy kudde geroep en toegerus om herderlike funksies onder die toesig van die Opperherder te verrig: “En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars” (Ef 4:11). Die leraar van ’n gemeente, in medewerking met kerkraadslede en ander ampsdraers, is ook die herder. Hy gee dus nie net onderrig in die Woord van die Here nie, maar hy het ’n pastorale plig om aan lidmate leiding te gee, berading te doen, vir die siekes te bid, die onordelikes te vermaan en die gemeente te beskerm en te waarsku teen die gevare waardeur hulle en hul kinders bedreig word:
Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle is, nie uit dwang nie, maar gewilliglik; nie om vuil gewin nie, maar met bereidwilligheid; ook nie as heersers oor die erfdeel nie, maar as voorbeelde vir die kudde. En wanneer die Opperherder verskyn, sal julle die onverwelklike kroon van heerlikheid ontvang.
– 1 Petrus 5:2–4
Hoof van die kerk
Jesus Christus se amp as Hoof van die gemeente is ’n verborgenheid wat eers ná die stigting van die kerk geopenbaar is. Dié eenheidsband word in die Bybel met ’n huweliksverhouding vergelyk: “Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente … Hierdie verborgenheid is groot maar ek sê dit met die oog op Christus en die gemeente” (Ef 5:23, 32). Vir ’n deeglike uiteensetting van Bybelse standaarde vir die funksionering van die kerk, sowel as al die implikasies van Christus se Hoofskap, lees Bosch[7]. Uit Efésiërs 5:25–27 is dit duidelik dat Christus eers die gemeente gereinig en daarna geheilig het om rein en sonder vlek of rimpel voor Hom gestel te kan word. Hy is ons hoof en bruidegom, en ons moet met ’n rein kleed voor Hom verskyn. Die begrip heilig beteken ook afgesonder vir die diens van die Here. In hierdie opsig word die gemeente as die lede van die liggaam van Christus СКАЧАТЬ