Название: Jesus Christus en ons lewe in hom
Автор: Johan Malan
Издательство: Ingram
Жанр: Религия: прочее
isbn: 9780796315571
isbn:
Sy Naam as God
In die Ou Testament het die HERE God (Jahweh Elohim, die drie-enige God) Homself verklaar as die selfbestaande “EK IS” (Ex. 3:14). In Johannes 8:58 het Jesus Christus verklaar: “Voordat Abraham was, is Ek” (Engels: “… before Abraham was, I AM” – NKJV). Hy is die selfbestaande God, gelyk aan die ewig-selfbestaande God die Vader en God die Heilige Gees, en moet ook as Here en God aangespreek word. Die apostel Johannes bevestig hierdie stelling: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God” (Joh 1:1). Uit liefde vir ’n sondige mensdom het Hy sy heerlikheid en krag as God se Skepper ter syde geskuif, en Homself verneder om ’n mens te word sodat Hy versoening vir ons sondes kon bewerkstellig deur aan die kruis op Gólgota te sterf.
Hoewel Christus op aarde al die beperkings van menswees aanvaar het, was daar tog aanduidings van sy Goddelike heerlikheid. Paulus sê: “Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping; want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is … En Hy is voor alle dinge” (Kol 1:15–17). Die drie-enige God het tot ons gespreek deur die Seun: “Hy, wat die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese en alle dinge dra deur die woord van sy krag, nadat Hy deur Homself die reiniging van ons sondes bewerk het, het gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoogte” (Heb 1:3). Sy Godheid het ook geblyk toe Hy as mens gesê het: “Ek en die Vader is een” (Joh 10:30).
In Johannes 5 word die gelykheid tussen Jesus en die Vader op ’n sewevoudige wyse bevestig. Hulle is: gelyk in werke (vers 19), gelyk in kennis (vers 20), gelyk in opwekkingskrag (vers 21), gelyk in oordele (vers 22), gelyk in eerbiedwaardigheid (vers 23), gelyk in herskeppingskrag (vers 24), en gelyk in selfbestaanheid (vers 26).
Hoewel Jesus, die Woord, mens geword het, is Hy inderdaad Here (Kurios – Hand 10:36) en God (Theos – Rom 9:5). Dit is belangrik om Hom in hierdie hoedanigheid aan te spreek wanneer ons bid of oor Hom praat. Voor sy opstanding en hemelvaart en die uitstorting van die Heilige Gees, is Jesus as meester (didaskalos, kathegetes, rabbi of epistates) aangespreek, terwyl net enkele van sy dissipels besef het dat Hy die Messias (Christus) is (Matt 16:13–17). Met sy verheerliking het ook die volle openbaring van sy Godheid gekom, en word Hy nie meer net as leermeester of meester nie, maar as Here en God aangespreek.
Petrus verwys na Jesus as “Here” en “Christus” (1 Pet 1:3) en ook as “God” en “Saligmaker” (2 Pet 1:1). Johannes sê: “… ons is in die Waaragtige … Jesus Christus. Hy is die waaragtige God en die ewige lewe” (1 Joh 5:20). Paulus praat dikwels van die “Here Jesus” (Ef 1:15), en beskryf Hom met groot ontsag as “die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus” (Tit 2:13).
Ons behoort nie net van Jesus te praat sonder om sy eienaam te koppel aan sy Godheid (Here Jesus) of aan sy ampsnaam (Jesus Christus) of selfs aan albei nie (Here Jesus Christus). As gevolg van die groot aanslag op die maagdelike geboorte en Godheid van die Here Jesus, moet ons Hom uitdruklik as God of Here aanbid en verkondig.
Dit is ook eensydig om voortdurend net van Christus te praat omdat dit Jesus se ampsnaam is wat Gesalfde beteken. Dit is nie verkeerd nie, maar mense praat soms van “Christus” en ’n “Christelike lewenswyse” op ’n ietwat formele en selfs abstrakte wyse. Wanneer ’n mens die Here Jesus regtig persoonlik ken, behoort jy nie huiwerig te wees om sy eienaam te gebruik nie.
Jy moet onthou dat daar net een naam onder die hemel gegee is waardeur mense gered kan word, en dit is die naam Jesus (Hand 4:12). Roep Hom deur hierdie Naam aan en gee ook erkenning aan sy gesag as Christus, Here en God. Nuwe-Testamentiese gelowiges wat onder die leiding van die Heilige Gees Bybelstudie doen, het die voordeel van ’n voller openbaring van die Here Jesus. Die Heilige Gees gee aan ons meer insig in die onnaspeurlikheid van sy almag, grootheid en reddende genade en die volle omvang van sy liefde. Ons hoef dus nie in onkunde oor sy Godheid en al sy ander voortreflike hoedanighede te leef nie.
Sy Ampsnaam
Die Here Jesus is ook die Gesalfde (Hebreeus: Mashiach [Messias]; Grieks: Christos [Christus]) wat vir sy sending na die aarde afgesonder en toegerus is. In ’n Messiaanse profesie stel Jesaja dit só: “Die Gees van die Here Here [Adonai Jahweh] is op My, omdat die Here [Jahweh] My gesalf het om die blye boodskap te bring …” (Jes 61:1).
Christus is ’n oorkoepelende ampsnaam van die Here Jesus omdat Hy vir tien ampte of take afgesonder is wat net deur Homself vervul kan word.
Ampte van Jesus Christus
Die tien ampte waarvoor Jesus Christus gesalf is, asook die besondere titels wat daaraan verbonde is, is die volgende:
Lam van God
Die heel belangrikste rede waarom die Here Jesus gesalf en afgesonder is om na die aarde te kom, was om ’n gevalle mensdom uit die mag van die sonde los te koop. Om dit te kon doen moes Hy die gestalte van ’n mens aanneem sodat hy Homself as ’n offer vir ons sondes kon aanbied deur sy bloed te stort en fisiek aan die kruis te sterf. Hy moes God se offerlam word:
… die bloed van stiere en bokke kan onmoontlik die sonde wegneem. Daarom sê Hy, as Hy in die wêreld inkom: Slagoffer en spysoffer wou U nie hê nie, maar U het vir My ’n liggaam berei. … Toe het Ek gesê: Kyk, Ek kom – in die boekrol is dit van My geskrywe – om u wil te doen, o God. … Deur hierdie wil is ons geheilig deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, net een maal.
– Hebreërs 10:4–5, 7, 10
Die Godgegewe wet: “… sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie” (Heb 9:22; vgl Lev 17:11), is voor die koms van die Messias 1 500 jaar lank by die volk Israel ingeskerp. Duisende offerdiere moes volgens die Ou-Testamentiese wette geslag word sodat die Levitiese priesters vergifnis vir die volk se sonde kon verkry.
Maar dit alles was net heenwysings na die eenmalige slag van die Lam van God in die volheid van die tyd. Dit was met hierdie belangrike saak in gedagte dat Johannes die Doper vir Jesus aan die volk voorgestel het as die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem (Joh 1:29; Heb 7:27).
Jesaja het die volk lank tevore reeds op die groot offer van die Lam van God voorberei:
Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. … Hy is mishandel, hoewel Hy onderworpe was, en Hy het sy mond nie oopgemaak nie; soos ’n lam wat na die slagplek gelei word …
– Jesaja 53:5, 7
Gee jy die nodige erkenning aan die versoeningswerk van die Lam wat Hy deur die aflegging van sy lewe en die stort van sy bloed vir ons bewerk het? Aanvaar jy dit volkome in die geloof en het dit jou lewe grondig verander? Dink aan wat dié offer vir elkeen van ons behóórt te beteken: By die instelling van die Nagmaal het Jesus gesê dat dit ’n herinneringsmaal is aan sy liggaam wat vir ons gebreek is en die Nuwe Testament in sy bloed wat vir ons gestort is (Luk 22:19–20). Ervaar jy in die Nagmaal die Here Jesus in die konteks van die offer wat Hy gebring en sy bloed СКАЧАТЬ