Jesus Christus en ons lewe in hom. Johan Malan
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Jesus Christus en ons lewe in hom - Johan Malan страница 2

Название: Jesus Christus en ons lewe in hom

Автор: Johan Malan

Издательство: Ingram

Жанр: Религия: прочее

Серия:

isbn: 9780796315571

isbn:

СКАЧАТЬ wat uit die koninkryk van die duisternis voortkom, die ander Jesusse wat die vyand se subtiele pogings tot nabootsing van die Here Jesus is, die dooie tradisies en lewelose vormgodsdiens waardeur die waarheid van God se Woord verberg en verduister word, en te midde van ’n wêreldwye aanslag van verleidende geeste op die kerk van die Here, staan Jesus Christus en sy verlossingsboodskap onmiskenbaar uit as ’n helderskynende lig in ’n donker wêreld. Hy is die enigste oplossing vir ’n mensdom wat in die mag van die Bose is:

       Hy is die Weg, die Waarheid en die Lewe vir almal wat hulself op die dwaalweë van Satan bevind en weens die verduistering van hul gemoed op die pad van die dood voortbeweeg.

       Hy is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem. Dit is glad nie nodig om jou laste van sonde en ongeregtigheid te dra en tevergeefse pogings aan te wend om self daarvan ontslae te raak nie.

       Hy is die ewige en onwankelbare Rots van die eeue waarop ook nasies in hierdie onseker en vervalle wêreld hul regering, maatskaplike orde, onderwysstelsel en morele beginsels kan bou.

      Dit is belangrik dat ons die Here Jesus persoonlik sal ken – nie net as ons Verlosser nie, maar ook as ons heiligmaker, ons herder, ons bruidegom en in al die ander wonderlike hoedanighede waarin Hy Homself aan ons openbaar. Ná die blye dag waarop ons Hom ontmoet en by ons hart en lewe ingenooi het, moet ons voortdurend toeneem in die genade en kennis van ons Here en Saligmaker, Jesus Christus (2 Pet 3:18).

      Dit was die groot doel van Paulus se lewe en hiervoor het hy alles prysgegee om Christus as wins te verkry (Fil 3:8). Dit moet die groot dryfkrag in ’n Christen se lewe wees: “… totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ’n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus; sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering …” (Ef 4:13–14).

      Die Here Jesus openbaar Homself op ’n besondere wyse deur al sy persoonlike en beskrywende name wat in die Bybel opgeteken is. Indien ons Hom reeds as Verlosser ontmoet het, sal ’n studie van die betekenisse van sy wonderlike name ons voorberei vir ’n nuwe ontmoeting met Hom. Dit sal nie net ons geestelike lewe meer vervullend en dinamies maak nie, maar ons opnuut inspireer om Hom liewer te hê en met ’n volkome hart te dien.

      Vertaling van Bybelse name

      Voordat ons die Here Jesus se name bespreek, moet die wenslikheid en korrektheid van die vertaling van die oorspronklike Hebreeuse name wat op die Godheid betrekking het, eers oorweeg word omdat dit ook teologiese implikasies het. ’n Beweging terug na hierdie name gaan meesal gepaard met ’n beweging terug na Ou-Testamentiese gebruike wat reeds vervul is en nie op die Nuwe-Testamentiese kerk betrekking het nie.

      Hierdie beweging, wat onder meer ook as die Sacred Name beweging bekend is, is openlik op die Judaïsering van die Christendom ingestel. Hulle neem sterk standpunt in vir die eksklusiewe gebruik van Hebreeuse name vir God en die Here Jesus. Hul argumente is egter grootliks op onkunde en valse aannames gegrond. Sommige onder hulle gaan selfs so ver om te beweer dat die Griekse name vir God en Jesus Christus, wat in bykans alle Bybelvertalings gebruik word, op afgode dui. Daar word byvoorbeeld gesê dat Jesus afgelei is van Je-Zeus, wat beteken: Seun van Zeus – ’n bekende afgod in die Griekse mitologie. Om duidelikheid oor hierdie omstrede saak te kry sal ons kortliks die gebruik van verskillende tale in Bybelse tye moet ondersoek.

      Tydens die Assiriese en latere Babiloniese ballingskap van Israel, en ook daarna, het die meeste Jode verleer om Hebreeus te praat. Hulle het Aramees en Grieks aangeleer en as omgangstale gebruik. Aramees was ’n taal wat in die hele Midde-Ooste deur baie volke gepraat is. Dit was ’n mengsel van Siries en Hebreeus. “Aram” is die Bybelse naam vir Sirië. In die tyd van Jesus was Aramees ook die omgangstaal in Israel. Jesus en sy dissipels het ’n Galilese dialek van Aramees gepraat. Die kennis van Hebreeus was beperk tot die geleerde Jode, byvoorbeeld die rabbi’s en skrifgeleerdes.

      In Aramees is daar na Jesus Christus verwys as Eashoa Msheekh, in Hebreeus as Jashua (of Jeshua) Ha Mashiach, en in Grieks as Iesous Christos – Iesous met die ongeaspireerde “i” word as Jesous uitgespreek. Al die boeke van die Nuwe Testament is oorspronklik deur die inspirasie van die Heilige Gees in Grieks ingegee (vgl 2 Tim. 3:16; 2 Pet 1:21), en hierin word na God as Theos, Here as Kurios en Jesus Christus as Iesous Christos verwys. Dit is lasterlik om te beweer dat dit name van afgode uit ’n nie-Joodse kultuur is. Die Griekse name vir God (Theos en Kurios) was toe al vir meer as twee eeue lank gevestig en ook in Israel algemeen in gebruik. Dit was nooit omstrede nie.

      Die naamwoorde God of gode kan egter as generiese terme ook na afgode verwys, afhangende van die konteks waarin dit gebruik word. So byvoorbeeld word die duiwel as die god (theos) van hierdie wêreld beskryf (2 Kor 4:4). Dieselfde reël geld ook in Hebreeus, waar Elohim na sowel God as afgode kan verwys. In Exodus 20:2–3 staan daar: “Ek is die Here (Jahweh) jou God (Elohim) … Jy mag geen ander gode (elohim) voor my aangesig hê nie.” Beide die Griekse en Hebreeuse naamwoorde én eiename is oorspronklik deur die Heilige Gees gebruik toe Hy die Bybelskrywers geïnspireer het, en dit is ’n fout om te beweer dat die Griekse name swak vertalings van die Hebreeuse name is.

      In die tyd van Jesus was Aramees die algemene omgangstaal in Israel. Die stelling in Handelinge 21:40 dat Paulus die volk in Hebreeus toegespreek het, behoort meer korrek vertaal te word as “in ’n Hebreeuse dialek” – in hierdie geval Aramees. Die Amplified Bible en die Modern King James Version sê: “… he spoke to them in the Hebrew dialect.” Die New International Version vertaal dit só: “… he said to them in Aramaic.” Stanley Toussaint[1] sê: “When Paul was granted permission to speak to the mob, he addressed them in Aramaic, the common language of Palestinian Jews, used throughout the Middle East at that time.” Baie van hulle was ook Grieks magtig.

      Die Septuagint is ’n Griekse vertaling van die Ou Testament, wat in die derde eeu voor Christus opgestel is vir gebruik deur Griekssprekende Jode in Alexandrië, Egipte. Dit is algemeen gebruik deur hellenistiese Jode wat oral in die Griekse ryk verspreid geraak en gaandeweg verleer het om Hebreeus te praat. Dié geskrif het ook aan nie-Jode insae in Israel se geskiedenis, kultuur en godsdienstige ontwikkeling gegee. Septuaginta is die Latyns vir 70 en verwys na 70 Joodse geleerdes wat die vertaling gedoen het; daarom word dit ook as LXX afgekort. Sommige bronne beweer dat daar 72 vertalers was – ses uit elk van die twaalf stamme van Israel.

      In aansluiting hierby is alle boeke van die Nuwe Testament aanvanklik in Grieks geskryf. Dit is waarom ons op verskeie plekke die woorde vind: “… as dit vertaal word …” (vgl Matt 1:23; Mark 5:41; 15:22; 15:34; Joh 1:39, 42; Hand 4:36, 9:36). Dit dui op sekere Aramese en Hebreeuse woorde wat in Grieks vertaal is. Aramese woorde soos Fariseër en Abba word ook in die Nuwe Testament gevind.

      Daar is ruim bewyse in die evangelies dat die skrywers – met enkele uitsonderings uit die Hebreeus en Aramees – meesal uit die Griekse Septuagint aangehaal het – dit was immers die voertaal tydens die skryf van die Nuwe Testament – en nie uit die Hebreeuse teks van die Ou Testament nie. Hebreeuse teks toon geen vokale aan nie en is eers baie later gevokaliseer. Dit is onder meer waarom die “Bybelkodes” nie kan werk nie.

      Daar is inderdaad algemene konsensus onder kenners van die oorspronklike tale dat skrywers van die Nuwe Testament hoofsaaklik uit die Septuagint aangehaal het. Die Ou-Testamentiese gedeeltes waaruit Romeine 3:13–18 en Hebreërs 1:6 aanhaal, verskyn nie eens in die Hebreeuse tekste nie, maar het alleenlik in die Septuagint behoue gebly.

      Toussaint[2] sê onder andere die volgende oor Hebreërs 1:6: “The reference is to the Second Advent when the kingly prerogatives of the Son will be recognized with open angelic worship (cf. Ps. 97:7 where the LXX rendering ‘angels’ correctly renders the text).”

      In die lig van hierdie feite is dit onmoontlik dat die Godsnaam net СКАЧАТЬ